Gedagte vir Vandag
Vrydag, 9 April 2026
Koos Espach
Liefde is die volle uitvoering van die wet (5)
God besluit oor die dag en die uur van die wederkoms
Rom. 13:11-12a – “En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12aDie nag is byna verby; dit is amper dag.” (2).
Vergelyk ook Matt. 24:36 – “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.”
Paulus vermaan ons dat “die uur reeds daar is en dat ons uit ons slaap moet wakker word.” Jesus het ook verwys na die wederkoms en dan sê Hy iets skokkend: “Nie eens Hý weet wanneer dit gaan wees nie en ook nie die engele nie. Net die Vader weet dit.” Hoe rym dit dan met Jesus se Godheid? Ons moet onthou dat Jesus hier praat as volkome mens terwyl Hy nog op aarde was. Al was Hy God ook, het Hy as mens, dieselfde emosies as ons ervaar. En uit daardie uitgangspunt, kan ons aanvaar dat Hy op hierdie stadium nog nie geweet het wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie.
Jesus was baie seker dat dit wel gaan gebeur. Daarom is dit nie vir my en jou nodig óf betaamlik om vrae te stel na die “wanneer” nie, maar veeleer om ons voor te berei vir die feit van Sy wederkoms “want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.” Anders as Jesus se vestiging van die koninkryk op aarde tussen Sy eerste koms en Sy wederkoms, gaan Sy tweede koms skielik wees. En nou dat dit na 2 000 jaar nog nie plaasgevind het nie, skep ook nie ‘n verleentheid vir Jesus se profesie nie, daardie “dag en uur” gáán kom. “Een ding moet ons egter nie vergeet nie: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag” (2 Pet. 3:8).
Gedurig is daar die kristalbal-lesers, handpalm-ontleders en teeblare-bekykers wat hulle hand opsteek en sê dat hulle ’n direkte lyn na Bo het en dat Jesus op so-en-so ’n datum op pad is aarde toe. Dan is daar mense wat skrik en hardop vra: “Is ek reg? Sê nou maar net dié ou hét ’n direkte lyn?” En as die datum kom en gaan, is daar so effens van ’n verligting ...? (Ai tog, kan nie dink daar is gelowiges wat dit kan glo nie.)
Ons weet nie die dag of datum wat Jesus kom nie. Punt. Amen! Maak nie saak hoe oortuigend ’n persoon is nie. Maak nie saak hoe duidelik sy direkte lyn na die hemel is nie. Maak nie saak hoeveel blikkies kos en rolle toiletpapier mense al opgegaar het nie. Niémand weet wanneer Jesus weer aarde toe kom nie. “Oor die tyd en omstandigheid wanneer die wederkoms van die Here sal gebeur, weet ons maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ‘n dief in die nag” (1 Tess. 5:1-2).
Die wederkoms is gelukkig nie ‘n dag van vrees en verskrikking vir ons gelowiges in Christus nie. Dit is ‘n dag waarna elke gelowige kan uitsien want op grond van ons geloof in Christus se sterwe en opstanding, is ons mense met ‘n toekoms. Ek dink sommer nou aan die grappie van die dominee wat woes aan die preek was oor die wederkoms en uitverkiesing. Terwyl hy uitbrei oor wat met die mense gaan gebeur wat nie gereed is nie, haal hy aan dat “hy uitgegooi sal word in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners …” (Matt. 22:13). Met dié sien hy ’n tannie hier voor hom breed glimlag met ’n mond sonder tande. En hy maak sy sin klaar: “... en vir dié wat nie tande het nie, sal daar ‘ge-issue’ word.”
Dis dalk net ‘n ligsinnige grappie, maar die “duisternis” beteken om nie deel te wees wanneer die Bruidegom sy bruid kom haal nie! Kom ons maak seker dat ons altyd reg is, sodat Jesus, maar enige tyd kan kom. Of ons nog leef of reeds gesterf het met Jesus se wederkoms, is dit nie iets om oor bekommerd te wees nie. Ek en jy moet maar net elke dag tot eer van die Here leef. Met die hulp van die Heilige Gees kan ons die “bruilofskleed” aantrek en intussen ons lewens inrig volgens die voorskrifte van God.
Ons moet vasstaan in die geloof, wat ook al in my en jou lewe gebeur. Ons moet waaksaam bly, en weet dat die lewende Christus nog steeds in beheer is. Om die Woord van die Here óók as kristalbal te wil hanteer, lei egter gou tot frustrasie. En die rede is voor die hand liggend: Jesus sê kristalhelder: “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Omdat ek en jy nie ‘n greep op die toekoms het nie, weet ons dit is in ons Vader se hande. Ons kan dus met moed aanhou om koers te hou op die regte pad en met energie en hoop die horison dophou of Jesus nie al op pad is nie. Ons moet egter elke dag gereed wees vir Sy koms. Jesus kom op ‘n uur wat ons dit nie verwag nie.
“Ons word nie uitverkies omdat ons goed is nie; ons word gekies sodat ons goed kan wees”
(Benjamin Warfield).
Gebed: Here, ons weet nie presies wanneer U gaan terugkeer, of wat alles sal gebeur as U terugkeer nie. Wat ek wel weet is wat U Woord my leer: Om paraat te wees op U terugkeer aarde toe. Getroue Leidsman, Gees van God, help my om reg te wees vir die fees van alle feeste. Amen.
Comments