top of page

Gedagte vir Vandag

Sep 7
3 min read

7 September 2026

Koos Espach


Liefde is die volle uitvoering van die wet (6)

 

Wees gewaarsku!

 

Rom. 13:11-12a – “En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12aDie nag is byna verby; dit is amper dag.” (3).

 

Vergelyk ook Matt. 24:37-39 – “Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.”

 

Nog ‘n afleiding wat ons maak dat Jesus se koms skielik gaan wees, is met Jesus se verwysing na die Noag-gebeure. Hy waarsku ons om nie dieselfde fout te maak as die mense in Noag se tyd nie. “Hulle het soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.” Hulle wou nie die boodskap van die “ark van behoud” glo nie omdat hulle nie van hulle sondige leefwyse wou bekeer nie. Hulle het die bou van die ark as ‘n GROOT grap beskou, toe tref die GROOT water hulle. Hulle het toe in die watervloed verdrink en verlore gegaan. In dieselfde watervloed is die gelowiges gered deur die “ark van redding.”

 

Wanneer God besluit het dis tyd vir die wederkoms, is daar geen twyfel wat Hy gaan doen nie. Daarom is dit nodig dat ek en jy na Jesus se woorde met erns luister en ter harte neem: “Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.” Die feit is dat dit by ons ook maar net ‘n gewone dag kan wees, Maandag op pad werk toe of Saterdag waar ons in en om die huis doenig is, of enige tyd terwyl ons “soos gewoonlik eet en drink en trou” en só tuis raak hier tussen al ons aardse besittings, dat ons nie meer uitsien na die terugkoms van die Here nie.

 

Jonathan Edwards (Amerikaanse Protestante Teoloog; 1703-1758) het die wederkoms soos volg opgesom: “Jy is vandag nogmaals gewaarsku, terwyl die deur van die ark nog oopstaan. Jy het as’t ware gehoor hoe die hamer slaan en die byl kap om die ark te bou om jou te waarsku dat die vloed aan die kom is. Neem daarom kennis dat jy nie jou ore moet toestop en hierdie waarskuwings met ‘n onverskillige hart moet aanhoor nie; dat jy nog die groot werk wat jy moet doen, nálaat. Die vloed van God se oordeel sal jou skielik oorval, jou wegvee, en daar sal geen oplossing wees nie.” Sjoe! Skrikwekkend wanneer jy uit planne uitgehardloop het en daar geen oplossing meer is nie.

 

Is ons aardse tentpenne in hierdie wêreld só diep ingeslaan dat ek en jy maar elke dag net aankarring en nie besef dat ons “weggesleur” kan word, of daarenteen, deel kan wees om saamgeneem te word tot redding? Of sal ons met blatante, alledaagse sonde en verderf deel wees van die groot meerderheid wat met selftevredenheid niks verwag wat hulle geruste lewe kan versteur nie? Of nog nie besef het dat “die uur reeds daar is dat ons uit die slaap moet wakker word nie.” Dan is dit tyd vir omdraai, tyd vir wegkyk en tyd vir uitsien na Jesus se koms. Hy sal beslis nie laat wees nie, maar wel onverwags. Die keuse is myne en joune.

 

“Voorwaar, wanneer die dag van wederkoms aanbreek, sal ons nie beoordeel word volgens wat ons gelees het of hoe oortuigend ons gepraat het nie, maar oor hoe goed ons gelewe het” (Thomas Á Kempis).

 

Gebed: Vader in die hemel, moet tog asseblief nie my sonde teen my staanmaak nie. Hou my eerder staande teen die sonde. Dankie dat ek nie elke keer wanneer ek aan U dink, vrees en skuld ervaar vir alles wat ek al verkeerdelik aangevang het nie, maar eerder vrede en vreugde oor wat U alles al vir my gedoen het. Dankie dat U my elke keer kom haal wanneer ek afdwaal. Aan U die eer in Jesus Naam. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page