Gedagte vir Vandag
Woensdag, 2 September 2026
Koos Espach
Liefde is die volle uitvoering van die wet (4)
Genadetyd = opstaantyd
Rom. 13:11-12a – “En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12aDie nag is byna verby; dit is amper dag.” (1).
Vergelyk ook Mark. 13:35-36 – “Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, 36sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie.”
Slaap dui in die Bybel meermale ‘n toestand van geestelike doodsheid, laksheid en traak-my-nie-agtigheid aan. Om “uit die slaap uit wakker te word”, beteken dus dat ons ons vorm van geestelike lomerigheid en laksheid moet afskud. Paulus sê hier vir my en jou dat ons moet elke sekonde leef asof die wederkoms van Christus enige oomblik kan aanbreek. Dis asof God se horlosie die laaste sekondes aftik! Ons moenie tyd verspil nie, die tydsomstandighede waarin ons tans leef, is genadetyd.
Daarom is die dringendheid van hierdie tydsomstandighede noodsaaklik dat elke mens hulle lewe tot eer van God inrig. Alles verloop volgens God se program. En volgens God se horlosie is dit reeds opstaantyd: “Die uur is reeds daar dat ons uit die slaap moet wakker word.” Ons kan nie nou omdraai op die ander sy en verder slaap nie. Dit het tyd geword om die dinge wat by die nag hoort, te los en dinge van die dag begin doen.
Daar is werklik nie meer tyd oor om te verspil nie. Ons kan nie bekostig om langer te lê en slaap en só in ons geloofslewe verslap nie, “die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.” Baie mense is geneig om nog vas te slaap en veilig te voel, omdat hulle óf nie glo in die wederkoms van Jesus, óf omdat hulle dit nie so ernstig opneem nie. Die feit is dat ons nie die kerse moet doodblaas of die ligte afskakel en rustig voortslaap nie. Nee, ons moet “waaksaam bly sodat wanneer Hy onverwags kom, Hy ons nie aan die slaap kry nie.”
Hoekom? Want dis oorlog! Met alle mag word ons op alle fronte aangeval. Die duiwel en sy trawante het nie ’n lui haar op hulle koppe nie. Hulle sal álles in hulle probeer om ons met allerlei slinkse maniere weg te rokkel van God af. Hulle is slim en weet waar ons swak plekke is en kan ons maklik oorreed om maar voort te slaap. As ons nie voorbereid is vir die aanvalle nie, is daar ’n kans dat ons moeg kan raak langs die pad en hulle suksesvol elke rondte wen. Daar is nie tyd om vir ’n wyle die pas te makeer nie. Let wel! Dit is nie maar net stories nie. Dit is die werklikheid en elkeen van ons wat in Jesus Christus glo moet weet dat ons heeldag onder die spervuur is. Daarvoor moet ons onsself voorberei en onsself bewapen sodat ons nie deur die vyand oorrompel word nie.
Paulus probeer ons nie bangpraat oor Jesus se wederkoms nie. Baie van ons het nog groot planne. Ons wil só graag darem net eers trou, kinders hê, aftree, kleinkinders geniet, en nog baie ander dinge doen voordat Jesus weer kom. Ons redeneer so omdat ons moeilik dink hoe dinge ná die einde sal wees. Indien ons gereed is vir Jesus se koms, en “ons reeds uit die slaap wakker geword het.
Ons gelowiges hoef nie bang te wees vir Jesus se wederkoms nie. Sy wederkoms gaan beslis nie ‘n verlies meebring nie, maar ‘n wins! Al kan ons nie ons oudag rustig deurbring nie, of eers gaan trou nie, of nog eers die lewe geniet nie, in Jesus se genade gaan ons wat nie aan ‘n geestelike lomerigheid of ‘n geloofslaksheid gely het nie, alles ontvang plús oneindig meer as wat ons ooit sou kon verdien. Ons moet egter elke oomblik leef asof Jesus Christus nóú gaan kom! Net hulle wat Hom nie wil ontmoet nie, het rede om die wederkoms te vrees.
“Die wederkoms is vir ons gelowiges ‘n geweldige waarborg want die Skeidsregter is “partydig” en ook die Wenkaptein wat die “game” geswaai het. Hy is partydig want net Hý blaas die eindfluitjie – “die laaste trompet” – wanneer dit vir Sy wenspan die beste is” (Claude Vosloo).
Gebed: Onse Vader, ek weet hoe laat dit al in werklikheid op U horlosie is. U weet die ou lewe is nie maklik nie en dat die aanvalle van die Bose so gereeld en aanmekaar kom. Dis moeilik om staande te bly. Dis moeilik om myself te beskerm. Help my om nie sommer tou op te gooi nie, nie weer in te sluimer nie, nie wanhopig te raak nie. Dankie dat U my Hoop is. Amen.
Comments