top of page

Gedagte vir Vandag

  • 3 days ago
  • 3 min read

Woensdag, 1 April 2026

Koos Espach


Aan God die eer (5)


Genade onbeskryflik groot

 

Rom. 11:33-36 – “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! 34‘Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? 35Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?’ 36Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”

 

Ons het Maandag se dagstuk geëindig met die vraag: Wie is God vir jou? Wie is God regtig? Daar is duisende beskrywings, teorieë en feite oor wie God regtig is, maar ek dink een van die beste beskrywings van God is Johannes se weergawe: God is liefde! (1 Joh. 4:8). Ál die ander eienskappe waaroor die Bybel praat, bereik hierin hulle volle heerlikheid! Deur sy allesomvattende en allesdeurdringende (ver, wyd, hoog en diep) liefde en genade, is God die Een wat stukkende mense, met sy Seun se arms wat uitgestrek aan die kruis gehang het, deur genade uit die modder van die sonde uittel en hulle Koningskinders maak! God begin elke keer weer heeltemal van voor af met ons met nuwe hoop, want daar is ‘n ander weg, ‘n beter weg as die weg van die sonde.

 

“Wie ken die bedoeling van die Here? God spesialiseer daarin om sondaarmense soos ek en jy, wat werklik niks het om Hom aan te bied nie, behalwe ‘n sak vol sonde wat ons skouers al krom getrek het deur al die swaar dra, terug te neem. En om te dink dat God bereid was om sy allerbeste te gee om ons sondaars met Hom weer te versoen. Niemand het Hom ‘n “guns bewys, sodat Hy verplig is om iets terug te doen nie,” dit was deur God se onbeskryflike genade en liefde, dat Hy op daardie verskriklike Vrydag, sy Seun tot op die bitter einde laat koers hou het op die genadepad, vanaf Getsemane, op die Via Dolorosa tot by Golgota.

 

Ons het al só gewoond geraak om te antwoord wanneer mense ons vra hoe dit gaan: “Nee wat, uitgespaar deur die genade.” Maar ervaar ons regtig God se genade? Besef ons regtig hoe onbeskryflik groot God se genade is? Philip Yancey vra ‘n ontsettende belangrike vraag in sy boek “What’s so amazing about grace? – glo ons werklik in genade ... en gee ons lewe dit net so kragtig te kenne as ons woorde?” Geen mens, maak nie saak hoe belangrik hulle is of hoe goed hulle ook al leef nie, kan iets doen “sodat God verplig is om iets terug te doen” nie. God skuld ons niks nie! Hy het egter duur betaal om sy genade vir ons verniet te skenk!

 

Net soos God die Middelpunt van die heelal is, die Bron van alle krag, die Gids wat alles laat gebeur, moet God dit ook vir my en jou as gelowiges wees. Met elke nuwe dag behoort ons eerste gedagte te wees: God alleen kan my vandag toerus om te leef soos Hy wil hê ek moet. Ons ingesteldheid teenoor God wat “uit, en deur en tot Hom alle dinge is”, moet elke dag daar wees om ons nederig in sy hande te plaas sodat ons van Hom die vervulling van sy beloftes kan ontvang. Beloftes soos: “Mag die God wat vrede gee (ons) toerus met alles wat goed is” (Heb. 13:20). “Mag die God wat alle genade gee, (ons) moedig, sterk en standvastig maak” (1 Pet.5:10).

 

As onvolmaakte sondaars kyk ons nou deur lense wat met genade getint is, lense wat gekraak is, sodat God se genade daardeur kan skyn – “aan God behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.” Aan sy liefde is daar geen einde nie (Ps. 136). In U stel ek elke dag my verwagting! (Ps. 25:5)

 

“Man is broken. He lives by mending. The grace and love of God is the glue” (Eugene O’Neill).

 

Gebed: Genadige Vader, teen die agtergrond van hierdie nuwe dag se lewe en werk, rus my hart geheel en al op U; my hoop is op U Woord gevestig. Laat U vrede my toerus met alles wat goed is. Liefdevolle God van genade, maak my moedig, sterk en standvastig. “Aan U behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”

 

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page