Gedagte vir Vandag
Maandag, 31 Augustus 2026
Koos Espach
Liefde is die volle uitvoering van die wet (3)
Die liefde van God dring ons
Rom. 13:8-10 – “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,’ of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.” (2).
Vergelyk ook Jak. 2:8-11 – “As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,’ dan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10As iemand die hele wet onderhou maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. 11God wat gesê het: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie,’ het ook gesê: ‘Jy mag nie moord pleeg nie.’ As jy nou nie egbreuk pleeg nie maar wel moord, is jy tog ‘n oortreder van die hele wet.”
God het ‘n eindelose begeerte na ons liefde, die liefde met die hele hart, met álles, en Jesus het bygevoeg dat dit geld vir ons naaste ook. Hierdie “twee grootste gebooie” bevat dieselfde werkwoord, naamlik liefhê! In die hemel by God en ook vir mense op aarde is liefde die allerbelangrikste. Om dit te beaam, argumenteer Jakobus in sy “Brief” daaroor, deur die vereistes van die wet nader te trek. Dit is asof hy klaar sy lesers se verskonings of verduidelikings kon hoor om nie liefde in al sy heerlikheid te openbaar nie, veral naasteliefde.
Ons nakoming van die wet word uitgedaag wanneer Jakobus ons antwoord: “As dit dít is wat julle doen dan doen julle reg.” ‘n Persoon moet nie aangeneem word volgens sy status of voorkoms nie maar deur nakoming van die koninklike liefdesgebod – “om jou naaste lief te hê soos jouself en God bo alles!” Deur partydig op te tree is nié nakoming van die wet nie en daarom is dit sonde.
Die wet van God is ’n eenheid en om “in een opsig van die wet te struikel, is ons skuldig ten opsigte van al die gebooie.” Dit is ’n vergryp teen “die hele wet.” Om as God se nuutgemaakte kinders reg op te tree, bring ons natuurlik nog nie by volmaak uit nie. Hierdie “volmaaktheid” gaan nie oor perfeksionisme nie. Om aan die totale wet van God te kan voldoen, is volmaak. En ons weet mos dat dit hééltemal onmoontlik is om na te kom.
Wat wel belangrik is, is of ons daarheen op pad is – die pad van liefde, geregtigheid en geloof – wat ons met oorgawe en ywer moet loop. “En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus” (1 Joh. 4:16-17).
Die liefde vir mekaar word in God se liefde vir sy Seun begrond en as “model” vir ons liefde gebruik – soos God liefhet, só moet ons liefhê. Liefde is ‘n eienskap van God; Liefde is die wesenlike aspek van God se karakter en staan vir wie Hy is; God is die perfekte voorbeeld van liefde; God ís liefde! Deur God se krag en deur die Heilige Gees gee God ook hierdie liefde aan elkeen wat Jesus aanneem as sy Saligmaker en Verlosser: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh. 3:1).
Dit is ook die enigste ware en blywende bron van blydskap, en maak van ons vriende van God. Kom ek en jy vra die Here om Sy wet van die liefde, sy voorbeeld daarvan, diep in ons harte in te graveer sodat ons dit toepas op soveel maniere as wat ons kan, op soveel plekke, aan soveel mense, so dikwels as wat ons kan! As ons in God se liefde bly, bly God in ons!
“Dit is immers dieselfde God wat al die gebooie beveel en al die naastes insluit in die gebod van die naasteliefde” (Dirkie Smit).
Gebed: Hemel Vader, ek kan nie volmaak wees nie. Ek faal totaal daarin want my menslike vermoëns beperk my. Maak my ‘n instrument van U vrede. Waar daar haat is, laat ek liefde saai. Maar ek het U hulp nodig Here, ek gaan dit nie alleen regkry nie. Stort die liefde van Christus in my hart en laat dit uitvloei na almal om my heen. Amen.
Comments