Gedagte vir Vandag
- Apr 20
- 4 min read
Maandag, 20 April 2026
Koos Espach
Die nuwe lewe in Christus (6)
Aanvaar en geniet wie jy is
Rom. 12:3 – “Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.” (2)
Ons glo daar is van ons lesers wat al tyd spandeer het met mense wie se woorde en liggaamstaal laat blyk dat hulle onwaardig is. Mense wat sê hulle kan niks reg doen nie; mense wat voel hulle beteken niks vir die samelewing nie. Wel, dit maak nie saak wat ander van ons dink of selfs wat ons van onsself dink nie. Ons is waardig in God se oë. Dit is 'n kragtige Bybelse waarheid dat ons waardig en kosbaar in God se oë is, dikwels beskryf as die "appel van sy oog" (Ps. 17:8). Hierdie waarde spruit nie uit eie prestasie nie, maar omdat ons na sy beeld geskape is en deur Hom beskerm word. My en jou uniekheid is ‘n Bybelse feit. Toe God ons klaar gemaak het, het Hy die resep weggegooi!
Die gawes wat God aan ons toebedeel het, moet in nederigheid aanvaar en in dankbaarheid, aan God en ons naaste, gewy word. Wie dit doen, sal vanself beskeie wees, maar dan met ’n beskeidenheid wat gedra word deur die wete dat God aan élkeen gawes en geloofskrag toebedeel het en daarom verwag dat elkeen sy of haar deel in die gemeente sal doen. Ons moenie die fout maak om ons wandel met Christus te meet aan die goeie werk wat ons in die gemeente verrig, in plaas van aan sy teenwoordigheid in ons lewe, nie! Om ons gawes ook te meet teenoor ander, is om uit God se genade te beweeg.
Nederigheid beteken ook nie om ‘n swak selfbeeld te hê nie, dit is om nie van jouself méér te dink as wat jy van jouself behóórt te dink nie. Dit beteken dat ons in geestelike nugterheid nie allerlei wonderlike gedagtes oor onsself sal hê nie. Rick Warren voeg by: “Ons dink nie minder van onsself nie, net minder aan onsself.”
Beskeidenheid of nederigheid is seker die moeilikste eienskap om te hê, veral in vandag se wêreld waarin ons leef. Meeste mense is gesteld op prestasie. Ons is altyd besig om te vergelyk, ander moet meer van my dink, ek moet net beter vaar as ander, ek moet net meer hê as ander. En ‘let’s face it,’ dit is darem lekker as ander my prys en my vertel hoe oulik, flink en fyn ek nou eintlik is. En gou, baie gou, voor ons weet, maak nederigheid plek vir arrogansie en hoogmoedigheid. Waar ek bly, wat ek ry, en wat ek kry, maak nié deel uit van nederigheid nie.
Maar ... as jy jou roeping as Christen met erns aanvaar, “dink jy nie meer van jouself as wat jy behoort te dink nie.” Nee, jy “lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan jou toebedeel het.” Ons word geroep tot ‘n heilige lewe, ‘n toegewyde lewe waarin dit nodig is om in afhanklikheid, die wil van God te soek en te gehoorsaam. Ons “lewenswandel is in ooreenstemming met die roeping wat ons van God ontvang het” (Ef. 4:1).
Waar begin ons? Ons hoef nie te loop en vertel wie en wat ons is, wie ons ken en wat ons al vermag het nie. Omdat God weet wat vir ons die beste is, moet ons die manier waarop Hy ons gevorm het, met dank aanvaar. In plaas daarvan om onsself soos iemand anders te probeer maak, moet ons die vorm wat God nét aan my en jou gegee het, vier. Neem Jakob byvoorbeeld: Jakob se naam beteken “bedrieër”. Ná sy worsteling met God kry hy ’n nuwe naam: Israel (Gen. 32:24-28). Dit wys dat God hom daar ontmoet en sy identiteit verander het. Hy is nie meer vasgevang in ou truuks nie. Sy nuwe naam herinner hom gereeld aan God se genade en aan ‘n nuwe begin.
Ek en jy kan maar net by die voet van die kruis gaan staan en hieroor nadink: Hy wat my en jou na sy beeld geskep het as sy verteenwoordiger, Hy wat die Almagtige is, Hy wat die Alfa en die Omega is, het gekies om vir ons te sterf eerder as om sonder ons te lewe – as ons wil roem, dan roem ons daaroor, en ons kan, want ons het rede. Wanneer ʼn mens in God se teenwoordigheid kom, kan jy nie dieselfde bly nie. Dink maar aan mense wat in God “vasgeloop” het. Soos God vir Jakob ‘n nuwe identiteit gegee het, so gee Hy dit vir elkeen van ons. Ons is nie meer mense sonder rigting wat doelloos deur die lewe ploeter nie. God maak ons anders. Daarom word ons geroep om as nuwe mense met ʼn nuwe identiteit, te leef. Intimiteit met God begin dikwels waar jy eerlik jou naam erken, jou foute bely, en God toelaat om jou nuut te noem.
“As jy beskeie is, kan niks jou raak nie: nóg lof nóg veragting, want jy weet presies wat jy is: net ‘n instrument wat God wil gebruik” (Moeder Teresa).
Gebed: Here, help my om my dwase stryd van vernaamheid te los en U krag te aanvaar sodat ek na U welbehae kan leef. Skenk my die krag dat my verhouding met U en met mense my skatryk sal maak. Die pad van nederige diensbaarheid is nie rigtingloos, koersloos of donker nie en ek kan nie verdwaal nie. Saam met Paulus wil ek bely: “Wat my betref, mag God my verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van onse Here Jesus Christus” (Gal. 6:14). Amen.
Comments