Gedagte vir Vandag
- 3 hours ago
- 4 min read
Woensdag, 15 April 2026
Koos Espach
Die nuwe lewe in Christus (4)
Ons is wie ons dink ons is
Rom. 12:1-2 – “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Vergelyk ook Titus 2:11-12 – “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. 12Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid, en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe.”
Ons het in die vorige paar dagstukke probeer om op Paulus se oproep te reageer deur te kyk wat dit behels om ‘n “lewende en heilige offer” vir God te wees. Paulus sê ons moet “lewende en heilige offers” wees wat God se glorie, sy almag moet verkondig. God stel nie meer belang in dooie diere wat namens lewende mense (soos die Ou Joodse Volk) vir Hom geoffer word nie. Hy vra nou dat ons as lewende mense, onsself aan Hom as offer moet gee. Hoe is dit moontlik?
Ons is nog steeds inwoners van hierdie wêreld en ons het daagliks nog mense rondom ons wat sonder Christus is en selfs dié wat dink én sê hulle is in Christus. Gevolglik word al die lewensstyle, lewenspatrone en lewensnormes deur hulleself bepaal. Omdat ons nog te midde van hierdie sondige wêreld leef, vind daar onderlinge negatiewe beïnvloeding plaas wat nié “die wesenlike van die godsdiens wat ons moet beoefen”, weerkaats nie. As God wil hê dat ons onsself as heilige en lewende offers aan Hom moet gee, beteken dit die volledige ek en jy, dit wat óns is. Ons kan nie besluit dat daar sekere aspekte van ons lewe en menswees is wat ons vir onsself wil hou en dan dié wat oorbly, vir God gee (gewoonlik die oorskiet). Hierdie opdrag is ook nie ‘n opdrag aan net ‘n klein groepie Christene nie, maar aan álle Christene!
Ons moet juis nie toelaat dat ons deur die wêreld besmet word nie! Jesus Christus het net voor sy inhegtenisname gebid dat die Vader “ons nie uit die wêreld moet wegneem nie, maar van die Bose moet bewaar. Ons behoort nie tot die wêreld nie en daarom moet ons toegewy wees tot Gods woord as die waarheid” (Joh. 17:15-17). Dit beteken dat ons van die sonde en die wêreld afgesonder moet wees en in denke, spreke en dade volkome aan God toegewy moet wees. Die ware toewyding aan God word bereik deur ons lewe te rig volgens die Woord van God. Daarin werk die Heilige Gees mee omdat Hy juis gekom het om die gelowiges in die waarheid te lei op die weg van toewyding en heiliging (Joh. 16:13).
Omdat God heilig is, verwag Hy dat ons ook heilig moet wees. Dit is ‘n opdrag: “Gee jouself aan God as ‘n heilige offer.” Ons is ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie, ons is anders, daarom moet ons dit gaan wys. Ons denke is anders want ons laat die Gees toe om die negatiewe denkpatrone te verander en “(ons) gedagtes op die dinge wat daarbo is, rig.” (Kol. 3:2). Ons denke begin dan ons gedrag bepaal. Wanneer ons gedagtes gevul is met Jesus Christus, begin ons op die pad van geestelike vryheid loop.
Hoe vul ek en jy ons denke met Jesus? Deur ons gedagtes in gebed vir Christus te gee elke oggend wanneer ons opstaan en saans weer gaan slaap. Deur die dag weet ons waar om dan hulp te kry want die Gees is by ons. Hy ‘skakel ons gedagtes se liggie aan’ sodat ons die sondes kan raaksien en nie oor die verkeerde klippe struikel nie. Ons het die verlede mos klaar aan die voete van Jesus by die kruis gaan neersit.
Daardie dag by die kruis het God “ons in sy groot ontferming” nuut gemaak en ons in sy genade-arms ontvang. Hy het dáár vir ons ‘n nuwe kop gegee waarmee ons gedagtes kan dink “wat vir Hom aanneemlik is” en Hom verheerlik. Hy het dáár vir ons ‘n nuwe tong gegee wat sy lof kan verkondig en goeie dinge van ons naaste laat uiter. Hy het dáár vir ons nuwe hande en voete gegee om dinge te doen en te dien tot sy eer. Hy het dáár vir ons nuwe oë gegee om te sien hoe die Gees voor ons stap en ons Hom maar net met geloof, tree vir tree kan volg. Te kan sien hoe Hy die storms van die lewe beveel om te bedaar, te ervaar dat daar op elke donker paadjie, ‘n lig van hoop skyn. Omdat ons nuut is, is ons in God geanker en kan ons saam met Paulus sê: “Ek is tot alles in staat deur God wat my krag gee” (Fil. 4:13). Ek en jy ís, wie ons dink ons is!
“Die mens se denke kan permanent verwêrelds raak deur die gewoonte om net oor oppervlakkige dinge te dink en te praat. Uiteindelik kán jy nie meer oor dieper dinge van die lewe, oor God self, dink nie”
(Henry Thoreau).
Gebed: Hemel Vader, dankie dat U my nuut gemaak het. Leer my om elke dag met wysheid te gebruik. Leer my hoe om myself en my gedagtes elke dag in volle oorgawe aan U oor te gee. Ek bid dit in die krag van Jesus Christus, ons Here. Amen.
Comments