top of page

Gedagte vir Vandag

  • Apr 13
  • 3 min read

Maandag, 13 April 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (3)

 

Maak ‘n kopskuif


Rom. 12:2 – “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

 

Paulus spel vervolgens uit wat die tweede beginsel behels oor “die wesenlike van die godsdiens wat ons moet beoefen” (v. 1). As gelowiges mag ons nie inpas by die ‘skemas’ van hierdie wêreld nie, mag ons nie “aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie.” Ons sal dus nie kan maak soos “almal maar maak nie,” of maak wat ons natuurlike geaardheid vir ons voorskryf nie. Godsdiens moet inderdaad Gódsdiens wees, en nie wêrelddiens of selfdiens nie. Dit is egter nie so maklik nie want daar is ontsettend baie negatiewe invloede in “hierdie sondige wêreld”, by skole, universiteite, sportklubs, werk, noem maar op. As vrygespreekte dissipels van Christus kan ons ongelukkig nie ons dankbaarheidslewe laat inpas by die wêreld se manier van doen nie.

 

Hoe word ons anders, hoe ontsnap ek en jy van hierdie liefdelose wêreld? Hoe ontsnap ons van ons eie sondige self? Ons moet onsself voortdurend tot God se beskikking stel, God toelaat om ons te verander deur die werking van sy Gees. Dit beteken om nie net ons hart vir die Here te gee nie, maar ons kop ook – dit is mos waar die sondes uitgedink word – ons moet laat “God ons verander deur ons denke te vernuwe.” Wanneer God ons denke verander, begin ons elke dag anders. Ons gee ons gedagtes weg vir Christus. Deur sy Gees help Hy ons om anders te dink oor ons verhouding met Hom en ons naaste, anders te dink oor God se wil en ons wil, anders dink oor “wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

 

Wat is vir “God aanneemlik en volmaak?” Dit is nie maar net oppervlakkig ‘n paar nuwe gewoontetjies wat ons aanleer nie, maar te glo dat Christus vir alle onvolmaaktheid gesterf het, en ons daarom “dieselfde gesindheid moet hê wat in Christus Jesus was” (Fil. 2:5). Hoe verander ons om soos Jesus te word? Ons moet ‘n metamorfose ondergaan, soos ‘n ruspe wat in ‘n pragtige skoenlapper verander. Dit is ‘n pragtige beeld van wat geestelik met ons gebeur wanneer ons toelaat dat God ons gedagtes rig. Verandering is direk afhanklik van my en jou denke – ou denke produseer ‘n ou lewensstyl en nuwe denke word gevorm wanneer daar van die ou gedagtes ontslae geraak word.

 

Dit is so hartseer dat ons van nature geneig is om dikwels maar saam met die stroom te gaan. Ons buig ons voor ander se denke en word saampraters sonder enige respek vir die Godgegewe individualiteit waarmee ons geskep en begenadig is. Iemand het gesê dat ons Christus in ons gedagtes moet innooi, omdat ons denke die poort na ons gees is, moet ons die Heilige Gees daar laat wagstaan.

 

Wanneer ons die Gees toelaat om in ons lewens te werk, monitor Hy elke gedagte wat by ons opkom, suiwer Hy dit en dan raak ons uiteindelik uit pas met die wêreld. Selfsug word vervang met deernis, oneerlikheid met eerlikheid, liefde groei en ons vind vreugde daarin om die Gees te gehoorsaam. Laat toe dat die Gees die negatiewe denkpatrone wat in ons kop vorm, te wysig. Luister wat sê Paulus: “Rig jou gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want jy het gesterwe, en jou lewe is saam met Christus verborge in God” (Kol. 3:2-3).

 

As die Gees ons leer om nuut en anders oor dinge te dink, sal ons “ook kan onderskei wat die wil van God is.” Ons moet gedurig stil word voor God en ons gedagtes doelbewus rig op sy grootheid en goedheid. Dit is waar verandering begin: by God! God verander ons denke – daar waar alles muf en verstok geraak het, bring Hy, in antwoord op ons gebede, ‘n varsheid, ‘n nuwe visie, onselfsugtigheid, Godgesentreerdheid. Daar is werklik net twee maniere van lewe: God-se-manier en nie-God-se-manier. Die een pad lei ons na hartseer, mislukking en wanhoop en die ander pad pad lei na die volheid wat daar in Christus vir ons wag. Ek en jy het ‘n keuse op watter weg ons wil wees.

 

“Ons beheersentrum is ons denke. As God daar oorneem, verander ons stemtoon, ons visie en ons horisonne. Dan verander ek en jy!” (Maretha Maartens).

 

Gebed: Here, maak my anders. Ek wil so graag heilig lewe, Here. Heilig dink, heilig praat, heilig doen. Begenadig U my daartoe. Leer my elke dag. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page