top of page

Gedagte vir Vandag

  • 3 hours ago
  • 4 min read

Woensdag, 22 April 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (7)

 

Waar hoort ek en jy?


Rom. 12:4-5 – “Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.” (1)

 

In vers 3 het God deur Paulus vir ons gesê dit is nodig om ‘n akkurate dunk van onsself te hê en nou gaan Paulus voort om vir ons die redes vir dit te beskryf. Ek en jy word deur God geroep om te behoort, en nie net om te wees en te glo nie! My en jou verhouding met God is persoonlik, maar God wil nie hê dit moet privaat wees nie. Ons is vir ‘n gemeenskap geskep, vir samesyn saamgevoeg, en vir ‘n familie gevorm, en niemand kan God se doel alleen verwesenlik nie. In God se familie is ek en jy met elke ander gelowige verbind, en ons sal vir ewig aan mekaar behoort.       

 

Hoor wat sê die Bybel: “Ons het baie lede in een liggaam (oë, ore, neus, mond, hande, bene, voete, ens.), en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.” Ons  liggaam se organe kan hul funksies net verrig as hulle deel van ons liggaam bly. As enige orgaan van die liggaam afgesny word, sal dit uitdroog en doodgaan. Dit kan nie op sy eie bestaan nie. Ek en jy ook nie. Daarom het God heel aan die begin al gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie” (Gen. 2:18). As ons bely ons volg Christus, beteken dit ons behóórt, en nie net dat ons glo nie. Ons is lede van Christus se liggaam – “in Christus een liggaam” – en sy liggaam is die kerk.

 

Paulus sê in ons teks van vandag, iets wat nie in ander godsdienste ‘n gelyke het nie: “Ons is in Christus een liggaam.” Dit beteken eintlik ons gelowiges in Christus, is nie net ‘n aardse gemeenskap nie, maar ook die beliggaming van Jesus. Wat die kerk ook al is, is weens die krag en die teenwoordigheid van die Hoof van die kerk, Jesus Christus. Christus is die Een in wie al die gelowiges saamgevoeg is, daarom is ons nie “van die kerk” nie, maar van die “liggaam van Christus.”

 

Rick Warren sê in sy boek, The Purpose Driven Church: die kerk is God se agenda vir die wêreld – “...op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die wêreld sal dit nie oorweldig nie” (Matt. 16:18). Die kerk van Jesus Christus kan nie vernietig word nie, en sal tot in ewigheid bly bestaan. Dit sal langer as die heelal bestaan en my en jou rolle daarin, ook. Daarom is lidmaatskap van die kerk, nie sommer net niks nie. Iemand wat sê: “Ek het die kerk nie nodig nie,” is arrogant en dwaas. Ek en jy is nie op ons eie die “liggaam van Christus” nie. Ons is sáám sy liggaam, nie apart nie: “As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam saamgevoeg soos Hy dit wou hê” (1 Kor. 12:17-18).

 

Ongelukkig bestaan daar deesdae ‘n kultuur van “geestelike weeskinders.” Dis die mense wat van die een kerk na die ander spring, (church-hopping), sonder enige toewyding. As die predikant te veel oor geld preek, soek ek eerder ‘n kerk wat aan my behoeftes voldoen. Daar is ook talle wat glo jy kan ‘n “goeie Christen” wees sonder om aan ‘n kerk te behoort of selfs een by te woon. Terwyl die woord “mekaar” meer as vyftig maal in die Nuwe Testament gebruik word. Ons word beveel om mekaar lief te hê, mekaar aan te moedig, mekaar te betig, mekaar te groet, mekaar te aanvaar, mekaar te eer, mekaar se laste dra, mekaar te vergewe, vir mekaar te bid – dít is ‘n Bybelse gemeenskap! Dít is “familie verpligtinge” wat God wil hê ons moet nakom in die kerk.

 

God sê deur Paulus vir ons: “... al is ons baie, in Christus is ons een liggaam.” Dit is waar God ons wil hê. Maar daar is só baie wat hulle nie laat voorsê waar hulle moet wees nie. In die wêreld is daar baie “sitters”: Die draad-sitters – hulle wat met die een been in die wêreld en die ander in die hemel wil wees; die ver-sitters – hulle wat ver wegbly wanneer daar iets gevra word; die af-sitters – hulle hou ander weg van Christus vanweë hul skerp tonge; die kop-sitters – net hulle idees tel; die voor-sitters – hulle wat graag geprys wil word; die stoep-sitters – hulle wat eerder tuis bly of inkopies gaan doen as om kerk toe te gaan, en dan die be-sitters – hulle wat die ewige lewe besit en wat met vaste tred saam met God wandel, hul oë gevestig op Jesus, hul Verlosser.

 

Waar hoort ek en jy? Waar sit ons? “... al is ons baie, in Christus is ons een liggaam.” As ons almal in God se familie dien, kry ons lewens ‘n ewige betekenis. God wil ons gebruik om ‘n verskil in die wêreld te maak. Hy wil deur jou en my werk. Die belangrikste is nie hoe lank ons lewe duur nie, maar hoeveel daarvan ons skenk. Nie hoe lank ons geleef het nie, maar hóé ons geleef het! Wat is my en jou verskoning as ons nie betrokke is nie?

 

“Gewillige diens volgens jou vermoë, selfs in die geringste sake en deur die geringste mense, is vir God aanvaarbaar” (Dietrich Bonhoeffer).

 

Gebed:  Hemel Vader, ek wy myself aan U diens toe deur die krag van die Heilige Gees, nie om iets terug te ontvang nie, maar omdat ek reeds alles van U af ontvang het. Gees van God, dankie vir die vertroosting wat U my gee dat selfs mý gawes vir U aanneemlik is. Lei my om daardie gawes, tot God se eer te gebruik. Hou my nederig in die gebruik daarvan. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page