top of page

Gedagte vir Vandag

  • 12 minutes ago
  • 4 min read

Woensdag, 8 April 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (1)

 

‘n Heilige lewenswandel


Rom. 12:1 – “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers (en susters), op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” (1)

 

Paulus het in die eerste elf hoofstukke van sy Romeine-brief, vir ons in detail verduidelik die redes waarom ons vryspraak nodig het. Kortliks het hy in hoofstukke 1 tot 3 vir ons gewys op ons sondes wat nie God se goedkeuring wegdra nie. In hoofstukke 4 en 5 het God ‘n plan gemaak om ons met Hom te versoen deur Jesus Christus aarde toe te stuur, aan die kruis vir ons sondes te laat sterf, begrawe is en na drie dae opgestaan het en opgevaar het hemel toe. In hoofstukke 6 tot 8 het Paulus beskryf hoe ons God se genade ontvang het en daarvolgens behoort te lewe. Dit is egter feitlik onmoontlik indien ons nie die Heilige Gees toelaat om ons daarin te lei nie. Hoofstukke 9 tot 11 het Paulus ons geleer dat God met ons ‘n plan het en ons as sy begenadigde kinders, deel is van God beloftes.

 

Vervolgens spel Paulus vir ons uit hoe om hierdie  vryspraak wat ons uit genade van God ontvang het, elke dag toe te pas en God se genade elke dag in ons lewenswandel te eer. Die feit dat God ons vrygespreek en dit Hom ontsettend duur gekos het, beteken dat ons nou in ‘n nuwe verhouding met Hom leef. Ons daaglikse optrede moet dus wýs dat ons met God versoen is en nou in ‘n herstelde verhouding met Hom lewe. Maar hoe doen ons dit Paulus? In die volgende paar hoofstukke gaan hy aan ons verduidelik hoe om dit met die hulp van die Heilige Gees te doen.

 

Ek meen, dit is tog die logiese stap nadat ons ons sonde voor die Here bely het, om onsself as “lewende offers” aan Hom te gee. Lewend omdat ons glo Christus leef en ons leef saam met Hom. Lewend omdat ons die Gees in ons voel waai (Joh. 3:8). Lewend omdat ek en jy behoort te verstaan dat ons die ou mens nóú moet aflê en met die nuwe mens beklee (Kol. 3), en nie eens eendag in die toekoms nie.

 

Dit kan ook nie ‘n sommer-so offer wees nie. Nee, God het self die maatstaf vir offers daargestel toe Hy sy eie Seun as die vlekkelose Lam geoffer het. Net die dood van sy volmaakte Seun was ‘n waardige offer om vir die sonde van die mensdom te betaal. Ons kan dus nie ‘n gedeeltelike offer aan Hom maak nie. God vra nie ons tweede beste of slegs ‘n deel van onsself nie, Hy vra “unconditional surrender”, totale, onvoorwaardelike oorgawe. Die grootste offer wat ek en jy kan bring, is onsself. Ons kan dus nie ons lewe verdeel in ‘n Sondagwêreld en ‘n weeksdagwêreld nie; ons kan Hom nie dien in ons afskeeptyd met ons oorskietbronne nie! Ons moet elke dag, óral waar ons ons bevind, ‘n “lewende en heilige offer wat vir Hom aanneemlik is”, wees!

 

Gewoonlik verbind ons ‘n offer met iets wat dood is, maar God wil hê ek en jy moet “lewende offers” wees. Ons moet vir Hom lewe! Elke dag! Ons kan nie Sondae sing “wat ‘n Vriend het ons in Jesus”, en op Maandag dros ons. ‘n “Lewende offer” aan God is die manier waarop ons onsself vollédig aan God moet toewy. Met die Paasfees wat pas verby is, is dit miskien die beste voorneme wat elke gelowige kan neem om elke dag God se lof en eer te soek sodat ons as lewende offers vir Hom aanvaarbaar sal wees. Luister wat voeg Paulus by: “Ek druk julle dit op die hart, laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het” (Ef. 4:1).

 

Ons moet ook besef dat Jesus nie maar net ‘Liewe Jesus’ is wat twee duisend jaar gelede in Palestina met ‘n lang rok en sandale in die stofstrate rondgeloop het om mense gesond te maak en wonders te doen nie, Hy is God! “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem om aan mense gelyk te word” (Fil. 2:6-7). 

 

Vir my en jou het Jesus Christus sy heerlikheid as God afgelê en mens op aarde kom word. Vir ons het Hy sy waardigheid as God verbeur en het Hy as ‘n misdadiger in ons plek gesterf – “Dit is die wesenlike van die godsdiens wat ons moet beoefen.” Ons moenie iets anders as onsself as offer bring nie. Pasop, onthou vir Kain ... wanneer God vir ons uitspel wat Hy as offer verwag, aanvaar Hy nie alternatiewe nie.

 

“Moenie probeer om ‘n heilige lewe te leef nie. Stel jou eerder in op ‘n heilige sekonde. Sestig heilige sekondes maak een heilige minuut. Sestig heilige minute maak een heilige uur. Baie heilige ure maak een heilige lewe.” (Cecile Burger).

 

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U deur Paulus hierdie eerste belangrike beginsels voor my deur kom lê het. Heilige Gees van Waarheid, alleen sal ek nie slaag om ‘n lewende offer vir God te kan wees nie. Ondersteun en leer my asseblief deur U kragtige werking. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page