top of page

Gedagte vir Vandag

  • Apr 17
  • 4 min read

Vrydag, 17 April 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (5)

 

Het jy jouself al ontdek?


Rom. 12:3 – “Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.” (1)

 

Na die algemene oproep tot ‘n lewe wat aan God gewy moet word (Romeine 12:1-2), gaan Paulus nou voort om “kragtens die genade wat aan hom gegee is”, (dit wil sê op grond van sy apostelskap en alles wat dit inhou), die vervulling van ons Christene se roeping uit te spel. Om te kan onderskei wat die wil van God is, is dit eerstens noodsaaklik, dat niemand ooit vir God ’n “heilige en aanneemlike offer”  kan wees as ons te veel van onsself dink as wat ons behoort te dink nie.

 

Paulus sê egter nié dat beskeidenheid of nederigheid beteken om absoluut níks van onsself, ons gawes en ons diens te dink nie, nee, dit bestaan daarin dat ’n mens jou liewer daarop toelê om beskeie te wees in ooreenstemming met die “maat van die geloof” wat God aan elkeen toebedeel het.

 

Paulus praat hier ook nie van daardie ouens wat glo dat hulle “God’s give to mankind” is nie. Hy bedoel hier dat ‘n kind van God in nederigheid nie meer van hom- of haarself en ook nie minder van hom- of haarself dink nie, maar eerder glad nie aan hom- of haarself dink nie. Die hoë dunk van ’n mens sélf, die ambisie en strewe na hoër dinge, is tipies van die norm van hierdie wêreld en druis direk in teen wat vir God “goed en aanneemlik en volmaak” (v. 2) is. Wie daardeur beheers word, kan nie werklik na God se wil vir die lewe vra nie, hy of sy word hul eie klein godjie op hul eie troontjie.

 

Wie is ek en jy dan? Hoe kan ons “beskeie wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.” Chip Ingram sê in sy boek “Living on the Edge”, ons moet probeer vasstel wat God wil hê ons moet wees, ons moet onsself ontdek, en dan gee hy die volgende: Hoe lyk ek en jy in God se oë? Ons is God-gemaak, sê Stephan Joubert. God het ons na sy beeld gemaak. Ons is sy beelddraers. Ons is die kroon van God se skepping, sy spesiale kunswerk, sy hoogtepunt. Toe God na die mens gekyk het ná die skepping, het Hy nie net gesê dit is goed nie; God het gesê dit is “baie goed”! (Gen. 1:31).

 

Net ek kan ek wees en jy kan jy wees. God het ons elkeen “ontwerp” om seker te maak daar is geen duplikate in die wêreld nie. “Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm ... Alles is soos U dit wil hê ...” (Ps. 139:13, 15b – Die Boodskap). Niemand anders kan die rol speel of ons skoene vul, soos wat God vir elkeen van ons beplan het nie!

 

Ek en jy behoort aan God: “God gee so baie vir ons om dat Hy nie eens sy eie Seun se lewe gespaar het nie. Wie kan dit waag om ‘n aanklag teen ons in te bring? Niemand nie! Ons is immers deur God self as sy kinders uitgekies” (Rom. 8:32, 33 – Die Boodskap).

 

Ons wil almal veilig voel en binne 'n veilige omgewing leef. Die werklikheid is egter dat ons leef in 'n gevalle en stukkende wêreld met stukkende en sondige mense. Daar is net een permanente voorsiening vir sekuriteit en vervulling en dit is nie materiële dinge nie, maar God wat sy Seun gegee het om beide ons sekuriteit en vervulling te wees, nou en vir ewig. “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom. 8:38-39).

 

Ek en jy moet begin glo wie God sê ons is. Ons is immers geskep na sy beeld, as sy verteenwoordiger. Dit verander alles: ons denke ons drome, ons verwagtinge, ons verhoudinge, ons waardigheid, ons sekuriteit van die hede en die toekoms. Wat ek en jy oor onsself sê, bepaal die rigting waarheen ons op pad is. Onthou: God made no junk. Kom ons leef dan elke dag as God se beelddraers, as Sý verteenwoordigers! En ons sal onsself in Christus ontdek.

 

“’n Mens is nie altyd wat jy dink jy is nie, maar wat jy dink, is jy” (Max Hickerson).

 

Gebed: Here, dankie dat U my gemaak het. Niemand anders kan ek wees nie. Maar Here, ek bely dat ek soms myself afbreek en toelaat dat my selfbeeld op die grond lê. Skenk my die krag “om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat U aan my toebedeel het.” Leer my asseblief om as U verteenwoordiger, U beeld elke dag uit te dra. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page