Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Jul 30
- 4 min read
Woensdag, 30 Julie 2025
Koos Espach
Die heerlikheid wat kom (8)
Hemeltaal
Rom. 8:26 – “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”
Vergelyk ook Ef. 6:18b – “Smeek God by elke geleentheid deur die Gees.”
Paulus het in die vorige verse beskryf hoe dit moet voel om niks meer te hê om aan vas te hou nie, hoe pynlik dit is om met versugting te ly. Hy skryf nou selfs dat hy nie aldag weet hoe om te bid nie. Wat! Paulus, ek kan dit nie glo nie! Is dit moontlik dat jy as die ‘groot’ apostel, die geloofsreus, ook maar windstil dae in jou geestelike lewe beleef het? Óns ken die frustrasie dat ons soms voel of die lewe sonder ‘n ‘handvatsel’ is om aan vas te hou en ons hulpeloos vasgevang is in ‘n netwerk van moedeloosheid en lyding, maar jy?
Die Boodskap vertaal vandag se teksvers so: “Ons grootste swakheid is dat ons nie aldag weet wat ons moet bid nie.” Is dit nie maar iets wat baie van ons al ervaar het nie? Hoe bid ons as daar groot krisisse in ons lewe is, byvoorbeeld as iemand naby aan ons baie siek is? Hoe bid ons vir ons kinders, ons kleinkinders, ons ouers, of selfs vir onsself dat dit nie moet klink of ons vir God wil voorsê wat Hy met hulle en ons moet doen nie? Wat moet die inhoud van ons gebede wees as ons voor groot keuses te staan kom?
Die swaar wat ‘n mens moet verduur strek soms ver bokant ons menslike kragte en ons voel vasgevang in ons moeilike en hulpelose omstandighede. Die goeie nuus is – in sulke tye bid die Heilige Gees vir my en jou. Dis baie belangrik dat ons moet weet, wanneer ons ook vasgevang is in al hierdie gesug en druk van wêreldsdinge ons dreig om onder te kry, word ons stotterende woorde gehoor en verhoor! God sélf, sorg daarvoor – “want die Gees van God woon mos in ons” (v. 9). God kan nie anders as om te hoor wat ons sug nie, selfs daardie sugte wat ons nie in woorde kan bring nie! Dis wanneer die Gees dan vir ons bid!
Nou kan ons seker vra waarom dit dan nog nodig is om te bid? Dis dan sulke wonderlike nuus dat die Gees vir ons letterlik instaan by God. Hoekom maak die Bybel op soveel plekke eintlik appèl op ons om gedurig en aanhoudend te bid, as die Gees in elk geval vir ons bid? Met respek, die Gees weet immers wát om te bid en om rég te bid. Hy kan dan die bidwerk mos oorneem! Toe nie!
Die Heilige Gees woon in elke wedergebore kind van God. Dit is juis omdat die Gees in my en jou woon, dat Hy ons so goed ken. Ons kan niks vir Hom wegsteek nie. Hy ken elke swakheid van ons; Hy weet wat ons dink; Hy sien wat ons doen; Hy ken die gevoel in my en jou hart – Hy weet van ons versugtinge; Hy ken elke ding wat ek en jy nie met woorde kan uitdruk nie! Daarom kan Hy “self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”
Ek en jy het nog steeds die verantwoordelikheid om te bid. Ons is egter gelukkig, ons het ‘n Bondgenoot. Hy vertolk die diepste emosies van ons en pleit daarmee by ons Vader. John Knox het baie tyd in gebed deurgebring en die kerk in Skotland het ‘n herlewing beleef. John Wesley het lank en aanhoudend gebid en die Metodiste-beweging is gebore. Martin Luther het vurig gebid, en die Hervorming het begin. Die magte van die duisternis kan gestuit word, mits ek en jy daarvoor bid. Indien ons sukkel met woorde, onthou, ons is nooit alleen nie.
“Smeek God by elke geleentheid deur die Gees,” is die aansporing van Efesiërs 6:18 in ons vergelykende teksvers. Soos ons deur die Gees moet wandel, moet ons ook deur die Gees gelei word wanneer ons bid. Dit is net die Gees wat aan ons die krag kan gee om elke dag te kan doen wat God van ons verwag. Hoe meer ons onder die heerskappy van die Gees lewe, hoe meer sal ons volgens die wil van God bid. Die Gees neem ons versugtinge, ons stotterende en stamelende woorde, en vorm dit tot hemeltaal. Ek en jy kan met vrymoedigheid bid – dit is die belangrikste manier om ander na God toe te bring, en Hom verheerlik. En as ons nie weet wat om te bid nie, skep moed sê Paulus, die Gees tree altyd vir ons in tot ons beswil en seën.
“Gebed is nie slegs die beoefening van die teenwoordigheid van God nie, maar die bewussyn van sy heerlike teenwoordigheid by ons deur die Heilige Gees” (Joseph Newton).
Gebed: Dankie Here, dat ek voor U mag staan met die behoeftes en nood wat my soms teister. Dankie Gees, dat U my hart deursoek, elke emosie daarvan ken, en vir my instaan met hemeltaal by ons Vader. Dankie dat U ook namens my bid wanneer ek nie weet wat om te bid nie, en dan weet ek sommer, alles is reg, al is alles nie reg nie want God weet van my. God weet wat ek nodig het, en daarom kan ek bly hoop. Amen.
Comments