Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Jul 28
- 3 min read
Maandag, 28 Julie 2025
Koos Espach
Die heerlikheid wat kom (7)
Hoop maar vir die beste ... of iets beters?
Rom. 8:23b-25 – “Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. 24Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.”
Die eerste gawe wat God aan ons gee, die Heilige Gees, maak ons bevoorregte mense want ons het reeds die Gees as ‘n ‘vooruit-geskenk’ ontvang, en dit is die versekering dat die volle, heerlike toekoms beslis op pad is. “Ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God”, sug ‘n beter toekoms tegemoet met hoop. Die Heilige Gees maak hierdie hunkering van hoop in ons wakker. Dit is wanneer ons ganse mens-wees “van die verganklikheid bevry” sal word. Wat ‘n merkwaardige toekomshoop!
Vir ons “Gees-beheersde mense” is die lewe nié ‘n uitmergelende gewag op die dood nie, dit is ‘n glansende verwagting want ons leef in Christus. Ons sien nie nét die donker wêreld nie, maar kyk verby dit na God se genade en liefde, en plaas “ons hoop op wat ons sien”. Paulus sê ons is gelowiges met hoop. Ons hou gedurig die horison met uitgestrekte nekke dop, en wéét elke dag breek met nuwe glorie, want God bly steeds in beheer! Indien ons dit nie doen nie, is dit ‘n verloëning van God se liefde en genade.
As iemand my en jou sou vra: “Watter woord kenmerk ons lewe as gelowige? Wat sal ons antwoord wees?" Paulus is baie seker dat sy woord “hoop” is. Waarop hoop ek en jy? Kortom, waarvan kan ons honderd persent seker wees? Ons hoop is gevestig op bevryding en heerlikheid. Die Bybel sê ons wéét God gaan ons swaarkry laat verbygaan. Ons wéét dat ons daarvan bevry gaan word! Dit is ons hoop. Ons wéét dat alles wat gebroke is vir ons gelowiges, gaan verander. Daardie dag gaan ons in God se heerlikheid deel. Ons hoop nie maar vir die beste nie. Ons hoop vir dié beste – God se beloftes wat ons, sy kinders se swaarkry verander in lofliedere aan Hom, die Bevryder, die Koning, die Onderhouer en Waarmaker van elke belofte!
God het uit genade aan ons die besielende krag van die Heilige Gees gegee om ons, wat nie hoop vir die toekoms het nie, se lewe van die versugtinge van hierdie wêreld los te maak. God wil almal wat ‘n gesindheid van pessimisme aangeneem het, tot die heel beste verander. Wanneer ons ons onderwerp aan Hom, dan nooi die Gees ons uit om beheer oor elke faset van ons lewe te neem en die ware lewe in al sy volheid te ervaar.
Ek en jy moet tyd maak om te bou aan ons innerlike krag deur die leiding en krag van die Gees, en ons sal mettertyd ons gevoelens van onveiligheid en vrees verloor. Ons moet “bly hoop op wat ons nie sien nie, en daarop wag met volharding”, en ons sal oorwinnaars word deur Jesus Christus en sy Gees. Ons is as’t ware bevrydes-in-hoop! God en sy skepping nooi: “Kom rus, kom koel af, kom wag net 'n slag weer op God. Hy het immers klaar bekendgemaak ek en jy is sy kind.” Ons is sy kinders wat met hoop in ons harte leef, omdat ons weet dat die hemel vir ons wag.
“The Christian does not live only in the world; he also lives in Christ. He does not see only the world; he looks beyond it to God. He does not see only the consequences of man's sin; he sees the power of God's mercy and love. The keynote of the Christian’s life is always hope and never despair. The Christian waits, not for death, but for life” (William Barclay).
Gebed: Dankie Vader, dat die vlam van hoop helder brand in my, ongeag my uiterlike omstandighede, omdat ek kan peil trek op elke belofte van U in u Woord. Gees van Christus, dankie dat U my in my versugtinge aanraak en sodoende ek dan vrede kry wat alle verstand te bowe gaan. Dankie dat U sug saam met my, namens my. Dankie Here dat U self my hoop is. Amen.
Comments