top of page

Gedagte vir Vandag

  • Aug 6, 2025
  • 4 min read

Woensdag, 6 Augustus 2025

Koos Espach


Die heerlikheid wat kom (11)


Geloof en lyding

 

Rom. 8:28 – “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (1)

 

Paulus het geweet van swaarkry. Ek dink hy het baie dae sy werk sug-sug gedoen en moontlik ook besef dat God se aarde wat só goed geskep is, nie meer ‘n paradys is nie. Daar was daardie tyd soveel dinge wat skeefgeloop het, soveel droefheid, stukkende mense – daarom seker een van die redes waarom hy kon verwys na die mens wat sugtend deur die lewe gaan (v. 23). Twee duisend jaar later het dit nie veel verander nie. Inteendeel!

 

Lyding bly een van die groot misteries van ons menslike bestaan. Ons vra dikwels: “Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense? Waarom ly party meer as ander? Waarom moes dit met mý gebeur?” En wanneer die antwoorde wegbly, is ons geneig om uit ter roep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matt. 27:45). Ons weet dat God goed is en dat Hy liefde is, maar waarom laat Hy dan droefheid toe in die lewe van dié wat Hom liefhet?

 

Iemand het gesê lyding en liefde is so ineengestrengel dat ons dit beswaarlik kan skei. Hoe meer ons liefhet, hoe groter is ons lyding, nie waar nie? Deur lyding word die ware betekenis van die lewe as’t ware ontdek. Lyding leer ons wat niks anders op aarde ons só kan leer nie, sê William Barclay. Wat kan ons nie só leer nie? Ons kan nie sonder God se nabyheid en troos leef nie. Solank alles in ons lewe voor die wind gaan, kan ons jare lank uiters oppervlakkig lewe. Maar wanneer ons pad kruis met lyding, word ons gedwing om kennis te neem van wat onder die oppervlak van vanselfsprekende dinge aangaan.

 

Ons liefde vir God is ongelukkig nie ‘n waarborg dat ons kommervry deur die lewe sal gaan nie. Lyding, beproewing en dood is alledaagse verskynsels in ons dag van lewe! Maar as ons saam met God onder die oppervlak van dinge gaan kyk wat daar aangaan, word ‘n ongelooflike krag in ons ‘gebore,’ want “ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” Ons weet dat God sy Seun wat aan die kruis gely het, ongelooflike krag gegee het om sy lyding te aanvaar en nie probeer het om dit te vermy nie (Heb. 5:8). Dit is tog alleen deur die dood dat ons die betekenis van die opstanding van Jesus begin verstaan.

 

Alhoewel niemand van ons pyn, hartseer, eensaamheid of verflenterde drome kan omseil nie, bied God te midde daarvan, sy gawe van vrede aan ons (vgl. 2 Kor. 6:4-5). En tog, ons lyding is maar ‘n floue afskynsel van die liggaamlike en geestelike pyn wat Christus aan die kruis van Golgota gely het. Deur sy lyding, leer ons daarom om na die kruis te kyk en te besef, alles wat met ons gebeur, werk in die raadsplan van God vir ons ten goede mee. Ons lewe eindig nie by die lyding nie, dit begin met Christus se opstanding! En dit is wat ons gelowiges bely.

 

“Dié wat volgens (God se) besluit geroep is”, elke gelowige in Christus, kan elke keer wanneer ons bely: “Ek glo ... in Jesus Christus, Sy enig-gebore Seun, ons Here, ... wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode ...”, wél dit glo dat Hy opgestaan het die Sondag, die derde, en die eerste dag. En die graf was leeg! Hierdie wonder het die wêreld verander. Dit het ‘n vuur aan die brand gesteek wat nóóit weer geblus kan word nie. Dit het van eenvoudige mense, skrywers gemaak. Dit het vier evangelieskrywers en Paulus gekos om hierdie verhaal te vertel. Die verhaal was te veel vir een.

 

In hierdie verwarrende wêreld waar sóveel dinge skeefgeloop het, is ons gelowiges nie op moedverloor se vlaktes nie. Ons het, Goddank, nog hoop! Ons wag op God se ingryping – wanneer Jesus weer kom. Dit is ons toekoms. Dit is die sin van ons lewe. Geloof is tog om in die toekoms (in) te glo. Die geskiedenis strompel immers nie maar eindeloos voort deur die eeue nie. Ons kan (opnuut) besef dat God hierdie wêreld in sy hande hou. As ek en jy dus weer opstaan in die kerk en sê: “Ek glo ...”, sê dit met oorgawe en met vreugde. Dan kan ons huistoe gaan as mense met ‘n toekoms; mense wie se toekoms in die veiligste denkbare hande is – in God se hande wat “alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.”

 

“Dit lyk of die mens so gemaak is dat ons onder lyding groei terwyl ons met die antwoorde sukkel. Want daar ís nie regtig antwoorde – in elk geval nie wat óns sal begryp en tevrede stel nie” (John Taylor).

 

Gebed: Dankie Here dat ek nie ‘n buitestaander is nie, maar U kind. Leer my om elke dag soos ‘n koninkrykskind te leef. Laat my leef soos ‘n kind met ‘n toekoms, ‘n kind wie se toekoms in die veiligste denkbare hande is – in U hande. Om Christus se Naam met danksegging. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page