top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 3 days ago
  • 4 min read

Maandag, 4 Augustus 2025

Koos Espach


Die heerlikheid wat kom (10)


Die Gees lei ons in aanbidding

 

Rom. 8:26-27 – “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.”

 

Vergelyk ook Joh. 16:12-13  – “Ek (Jesus) het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.”

 

Ons is dikwels oorhoeks met die lewe, met onsself en met ander mense, en ‘n gevoel van ontevredenheid en ontnugtering met hierdie tipe lewe word deel van ons bestaan. Vandaar die gesegde: elke huis het sy kruis en elke hart het sy smart. Dit is egter ‘n ryke troos dat die Gees ons bedroefde en beproefde gemoed opdra aan God. Daarom het ons ‘n verantwoordelikheid om deur die Gees met God in verbinding te bly, spreekwoordelik die Gees toelaat om ons hand te neem en uit te reik na God – “As jy jou verstand reg wil gebruik en jou hande in gebed na God toe uitsteek ... kan jy jou swaarkry vergeet en daaraan dink asof dit water is wat weggeloop het” (Job. 11:13, 16).

 

Verdere goeie nuus is dat “as een van ons sondig – ons Jesus Christus het, die regverdige, as ons Voorspraak by die Vader. 2Hy is die versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2a). God het vir ons ‘n deur oopgemaak en Hom vir ons toeganklik gemaak deur die “Woord wat mens kom word het” (Joh. 1:14). Jesus het op sy beurt vir ons die “Gees van die waarheid gegee wat ons lei in die waarheid.” Wanneer ons aan die Gees oorgegee is, word ons gelei deur die Gees om te bid. Hoe meer ons onder die heerskappy van die Gees lewe, hoe meer sal ons volgens die wil van God bid. Paulus sê ons moet alles “biddend doen en by elke geleentheid God smeek deur die Gees” (Ef. 6:18).

 

Daar is ook belangrike voorwaardes aan verbonde: Eerstens moet ons in die Naam van Christus na die troon van genade gaan, Hy is die versoening vir ons by die Vader. Jesus waarborg gebedsverhoring as ons in Hom bly en Hy in ons: “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry” (Joh. 15:7). Dit beteken dat die Gees ons sal aanspoor tot vrymoedigheid om te bid as ons die beloftes van die Woord ken. Gebedsdrang groei namate ons in die omgang met die Woord getrou is of nie. Die Gees help ons om gehoorsaam te “bly in Christus en sy woorde” – om in Sy woorde te bly moet ons doen wat Hy sê! Ons kan mos nie verwag dat Christus moet doen wat ons vra, as ons nie doen wat Hy van ons vra nie!

 

Tweedens beloof die Here gebedsverhoring “as ons enigiets volgens Sy wil vra” (1 Joh. 5:14). “Laat U wil geskied” moet altyd die uitgangspunt van al ons gebede bly. Jesus het vir ons hierin die voorbeeld met Sy Getsemane-gebed gestel (Matt. 26:39). Gebed is geen middel wat aan ons gegee is om God te dwing om óns wil te doen nie, maar die plek waar die Gees ons lei om stil te word met die verlange dat God se wil moet geskied. Ons moet ook versigtig wees om vir ons Vader te vra “laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” So word die hemel ‘n kriterium vir die aarde. God daag ons dalk nét uit om téén ons wil op te tree. So moet almal wat deur God geskep is sy wil uitvoer, in die hemel en op aarde. “Laat U wil geskied” is dus ‘n gebed wat ons vra dat ons Vader ons, soos vir die engele, gehoorsaam maak aan sy wil.

 

Derdens vra gebed volkome geloof en vertroue in God: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal so vir julle wees” (Mark. 11:24). God se vermoë om gebed te beantwoord, is onbeperk, ons moet Hom net vertrou. Hy is die God wat ons nooi om Hom te beproef en te sien hoe Hy vir ons die vensters van die hemel oopmaak (Mal. 3:10).

 

Is dit nie wonderlik nie? Elke keer wanneer ons bid, is daar twee persone van die Drie-eenheid wat vir ons intree by die Vader wat uit liefde reeds graag, ons wil hoor en verhoor. Gebed is dus die werk van die Drie-enige God – die Vader wat by ons die begeerte wek en alles sal gee wat ons nodig het volgens sy wil; Jesus aan die regterhand van God wat ons deur sy voorbidding leer om in sy Naam te bid en die Gees wat in ons hart woon, wat by die Vader vir ons pleit en ons flou begeertes versterk. Is dit nie wat ons in ons daaglikse lewe nodig het nie?

 

“Elke keer as ons sê: ‘Ek glo in die Heilige Gees,’ bedoel ons dat ons glo dat daar ‘n lewende God is wat gewillig is om in mense te woon en hulle persoonlikhede te verander” (John Stott).


Gebed: Vader in die hemel, U allesomvattende en allesdeurdringende liefde is sigbaar in U Seun se uitgestrekte arms aan die kruis wat die pad na die hel toe versper. Ek is so geneig om verby sy uitgestrekte arms te probeer beur omdat Ú wil, teen my mensgemaakte plannetjies indruis en my lewe “omvergooi.” U wil vir my is om die veilige pad te vind sodat ek Jesus kan volg, al is dit soms ‘n moeilike pad. Dankie, Gees van God, dat U vir my intree by ons Vader wanneer ek nie meer woorde het nie of sukkel om my nood in woorde uit te druk. Help my, ek het dit elke dag nodig. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page