top of page

Gedagte vir Vandag

  • Jul 21, 2025
  • 4 min read

Maandag, 21 Julie 2025

Koos Espach


Die heerlikheid wat kom (4)


Belofte van hoop

 

Rom. 8:20-21 – “20Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God.”

 

Paulus sê die tweede ding wat sal gebeur, is dat die skepping wat op die oomblik “nog aan verydeling onderworpe is, bevry (sal) word van sy verslawing aan die verganklikheid.” Volgens Paulus is die ganse skepping in gespanne afwagting – dit was destyds. Vandag terloops, is dit steeds dieselfde. Die hele skepping het seer, kry swaar, verduur lyding.  En ons het gedink net óns moet jammer gekry word. Wel, miskien is ons tog die bejammerenswaardigste van alle wesens hier, want ons vergaan van wanhoop en swartgalligheid, word bitter, word wreed, word hard. Hierdie plek aarde en omstandighede hier (veral in Suid-Afrika), dien nie meer genoegsaam ons belange nie. Ons wil ‘vlug’.

 

Nie die skepping nie. Die skepping is anders. Die skepping sien al uit na die heerlikheid wat God in die toekoms sal laat aanbreek. God se skepping ly wel tans onder die mens se ongehoorsaamheid en kan nie meer ten volle aan sy doel beantwoord om God te verheerlik nie. Hier kan ons met reg meld dat die skepping swaar dra aan die las wat die mens op hom plaas met die uitbuiting en vernietiging van kosbare natuur-bronne. Min mense besef werklik die erns van omgewingsbesoedeling en hulpbron-uitputting.

 

In plaas van die heerlikheid wat God aan die aarde verleen het toe Hy dit goed en mooi gemaak het (Gen. 1:31), onthou menigte mense nie meer dat God juis die mens gemaak het om die aarde te bewerk en daaroor te heers nie (Gen. 1:28). Ons is dus wesenlik deel van die skepping en verantwoordelik vir die natuur, en as die natuur vergaan, vergaan ons saam. Sonder om swartgallig te wees, moet ons erken dat die vernietiging van die natuur onontbeerlik is om die groeiende getal mense te voed. 

 

Dit is presies hier waar die evangelie onvergelyklik is, die evangelie is ‘n evangelie van hoop. “God het die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God.” Die toekoms is nie in mensehande nie, maar in die hande van God wat by uitstek ‘n God is van verrassings en ongekende moontlikhede.  

 

Ek meen, God het met ons daaroor gepraat. Die Heilige Gees het God se woorde in ons ore gefluister wat die oorsprong en bestemming van alles is. God het in sy Woord Moses laat opskrywe: “In die begin het Gód die hemel en die aarde geskape” (Gen. 1:1). Ons hoop is dus nie gegrond in ons ongunstige omstandighede nie, maar in God wat omgee vir sy skepping.

 

Ons mag ook maar hoop op God se beloftes in sy Woord, waarvan die kern van sy beloftes te make het met Openbaring 21 se nuwe en beter wêreld. God bevestig veral in Openbaring 21:5-6, swart op wit dat alles net so sal gebeur soos Hy gesê het. Hy beloof ook dat, nadat al die bose magte vernietig is, sy kinders vir altyd by Hom in sy nuwe Jerusalem gaan bly. Dit vorm alles deel “om so tot die vryheid te kom wat hoort by die heerlikheid van die kinders van God.”

 

Ons hoop strek egter nog verder as dít, ons hoop is gevestig op die hier en nou – God se kinders kry reeds in hierdie lewe bevestiging van dít waarop ons hoop. Al lyk ons omstandighede soms hopeloos, belowe God dat ons nou reeds sy beloftes sal beleef: “Christus is in ons, Hy is ons hoop op heerlikheid” (Kol. 1:27). 

 

Christus het aan ons sy Gees gegee om ons te ondersteun en Hy is in elke omstandigheid by ons. Ek en jy moet net gedurig bid dat die Gees ons sal lei deur moeilike tye en ons elke dag met nuwe energie en geestelike krag vul, selfs wanneer alles rondom ons wanhopig lyk. “As ek en jy ons vertroue in die Here stel, is ons veilig” (Spr. 29:25). Op die pad van ons geloofsvertroue hou vandag, môre en oormôre geen gevaar in nie, want "God is by ons. In sy hande is ons veilig” (Ps. 23:4). Saam met Hom kan ons bydra om die natuur se huidige sug ook te verlig.

 

“Elke nuwe môre kondig aan dat God altyd weer vir ons nuwe geleenthede en hoop gee. Wie het al ooit ‘n haan gesien wat met ‘n hangkop die dagbreek aankondig. Hy weet Wie laat die son opkom” (Alonso Benn).

 

Gebed: Dankie Here Jesus dat U deur U Gees altyd daar is om my te ondersteun. Dankie Gees dat U my gedurig oortuig dat ek sáám met U sal lewe en daarom nooit wanhopig of verlate hoef te wees nie. Amen. 

 


 

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page