Gedagte vir Vandag
Donderdag, 19 Oktober 2023
Koos Espach
Paulus se Tweede Sendingreis (48)
Paulus in Atene (13)
‘n Boodskap aan ons gelowiges
Hand. 17:31 – “God het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” (3)
Ons het nou die afgelope twee dae gesien dat bekering dus nie net die belydenis van sonde is nie. Dit is ook nie net die belydenis van ons geloof in Jesus Christus nie. Dit is ook die belewenis van God se teenwoordigheid wat ons binnekant inneem deur sy Gees en ons lewens kom volmaak. Paulus het tot dusver sy bekeringsrede toegespits op die heidene – hulle wie hul sinlose afgode moet laat staan en hulle tot die lewende God moet bekeer. Maar sy bekerings-boodskap het nog ‘n adres.
Die adres van sy bekerings-boodskap is vir ons gelowiges, dié wat reeds die Here begin navolg het, wat reeds Hom dien, wat reeds die keuse gemaak het om Hom bo alles te stel, wat reeds besluit het om te “luister na wat Jesus sê en in God te glo wat Jesus gestuur het.” Ons het wel ‘n paar keer daarna verwys, maar daar is meer as dit wat reeds genoem is. En hier verwys ons spesifiek na mense wat op hulle geloofspad ‘geestelik dood’ raak. Dit is gewoonlik die suksesvolste verleidingstegniek van satan om ons op ons onwaardigheid as gelowiges te wys deur vir ons te laat twyfel of ons van ons sondes verlos is. Elke keer wanneer hy egter hierdie onwaarheid aan ons voorstel, moet ons hom troef met: “Weerhou my van ‘n nuttelose lewe, Heer. Laat my leef op die weg wat U my aanwys” (Ps. 119:37).
Wat beteken dit om ‘geestelik dood’ te wees? Dit beteken om dood te wees terwyl ons liggaamlik perdfris is. Dit beteken om los van God te wees; om onsensitief te wees teenoor die sonde, aan ‘n ‘almal-doen-dit-tog’ sindroom te ly en vrede met onsself daardeur te vind. Die lewe hier en nou bepaal die hiernamaals. Wat ek en jy nou doen of nie doen nie; hoe ons glo of nalaat om te glo, is maniere waarop ek en jy ons voorberei vir die ewigheid. Die keuse is uitsluitlik ons s’n. Om onsensitief te wees teenoor die geloof in Christus Jesus en die sonde, is om onsensitief te wees teenoor die teenwoordigheid van Jesus Christus! Weereens, die werk van satan – hy laat ons twyfel in onsself!
William Barclay en verskeie ander geestelike leiers wil ons egter verseker dat ons nie onwaardig moet voel om ‘n bekeerde gelowige te wees nie. God se liefde is totaal onafhanklik van ons gedrag of gesindheid. Ons moet glo dat ons sondeskuld betaal is – die kruis op Golgota is waarborg daarvan. Jesus Christus het ons sonde ten volle op Hom geneem en Sy lewe vir ons afgelê. Hy het my en jou plek aan die kruis ingeneem. Hierdie daad van genade kan nie verdien word nie. Die verlossing van God deur Christus word uit genade gegee aan elkeen wat dit glo. Géén mens kan dit verdien nie – “Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het” (2 Tim. 1:9).
Ek en jy moet toegewyd aan Christus bly, ten spyte van al die stampe en stote wat ons soms ervaar. Daar is vir ons wat nie ‘geestelik dood’ raak langs die pad nie, ‘n beloning wat wag. Jesus het heerlike beloftes gemaak aan almal wat volhard en oorwin totdat Hy weer kom. Luister, hier is enkele van Sy beloftes – “Aan elkeen wat die oorwinning behaal: sal Ek gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is” (Op. 2:7); “... sal beslis nie deur die tweede dood getref word nie” (Op. 2:11); “... sal wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en sy engele verklaar dat hy aan My behoort” (Op. 3:5); “... sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak en hy sal vir altyd daar bly ... Ek sal ook my eie Naam op hom skrywe” (Op. 3:12).
En so kan ons aangaan. Die Bybel is vol heerlike werklikhede van Jesus se beloftes aan dié wat volhard in die geloof en die oorwinning behaal. Dit klink té eenvoudig om waar te wees. Maar as ons dit nie glo nie, beroof ons onsself van die grootste Bron van Waarheid wat aan die mens bekend is. Ons moet dit egter nie net vir onsself toeëien nie, maar ook fokus op die breër prentjie van bekering. Dit is ons verantwoordelikheid om die evangelie by alle mense uit te kry – die Here wat ons self roep tot bekering, is nie net die bekering tot die aanvaarding van die evangelie nie, maar die bekering tot die verkondiging van die evangelie. Dan sal ons saamstem: verlossing is nie ‘n fantasie nie, maar ‘n voldonge feit.
“Al wat ons moet doen as ons geestelik dood raak, is om in ons hulpeloosheid om hulp te roep. God verwelkom enigeen wat na Hom wil kom. Om die waarheid te sê – Hy het na ons toe gekom in sy Seun”
(Philip Yancey).
Gebed: Dankie hemelse Vader vir die verlossing wat U ons geskenk het deur Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker. Dankie dat ons ‘n toekoms het, ons aardse einde is maar die begin. Maak ons getroue en nederige getuies van U reddende genade. Met danksegging in Jesus se Naam. Amen.
Commentaires