top of page

Gedagte vir Vandag

10 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (46)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit (2).

(Matt. 20)


Gelykenis van die arbeiders in die wingerd (2)


God se vrymag – Hy het nie witbroodjies nie!


Matt. 20:8-13 – “Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’ Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’ Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie?”


Teen die aand toe dit betaaltyd word vir die arbeiders in die eienaar se wingerd, was dit opmerklik dat een na die ander ongerymdheid plaasvind. Dit word gou duidelik dat die boer nie die werkers volgens hul werksure (onderskeie verdienste), betaal nie. Die voorman kry die opdrag om die laaste groep “wat teen vyfuur gehuur is,” eerste te betaal. Al die ander sien dus hoeveel hulle ontvang. Toe die laatkommers “elkeen die gewone dagloon ontvang”, het dit by die vroeë beginners die verwagting geskep dat hulle baie meer as die ooreengekome loon sal ontvang.


Die toppunt van onregverdigheid, volgens my, word bereik wanneer die eerstes nie meer as die laastes ontvang nie, maar almal presies dieselfde dagloon ontvang. (Indien ‘n werkgewer vandag dit sou doen wat hierdie eienaar gedoen het, het die vakbond dadelik met grootskaalse stakings en CCMA sake gedreig. Ons is ingestel op gelyke beloning vir gelyke arbeid.) Met bitterheid moes hulle leer dat die boer gee soos hy wil. Sy verweer is dat hy hulle nie verkul, maar hou by sy ooreenkoms – die gewone dagloon; hy wil almal dieselfde gee en buitendien, “dis sy geld, hy kan maak daarmee wat hy wil.”


Die eienaar rig ‘n appèl tot hulle om tot ander insigte te kom en dinge te sien soos hy redeneer. Hy tree nie willekeurig op nie en beloon nie volgens kille berekenings nie, maar met regverdigheid, goedheid en vrymag. Sy berekeninge is volgens die maatstaf van liefde en barmhartigheid. En die rede daarvoor is omdat God almal ewe genadig is. God handel nie met ons volgens ons verdienste nie, maar net uit genade. Vir enigiemand wat soos Petrus gewonder het wat hulle loon sal wees (v. 27), wat meen dat hy of sy om die een of ander rede ‘n aanspraak het op God, dat hulle voorkeurbehandeling verdien, is dit natuurlik nie ‘n lekker storie nie.


God se genade is vir ons vreemd, by Hom werk dinge anders – almal wat in Jesus glo, word op dieselfde wyse beloon. Jesus wil met die gelykenis ons as geloofsgemeenskap help om op ons beurt te verstaan dat daar geen onderskeid onderling getref word op grond van die lengte van ons dissipelskap of die relatiewe waarde daarvan vir die koninkryk nie. ‘n Mens verdien nie meer in die koninkryk van God op grond van jou lengte of gehalte van jou dienswerk nie, daar is nie belangrike- of onbelangrike-, klein- of groot Christene by God nie. Alle gelowiges is by Hom gelyk. Alle deelnemers aan die koninkryk van God staan, by wyse van spreke, eerste in die koninkryk van God. Daar is nie onderskeid tussen die gelowiges van die bodorp wat “groot” dinge vir God, ál sy of haar lewe lank gedoen het, of die gelowiges van die onderdorp wat eers op hulle sterfbed tot bekering gekom het nie. Selfs die Joodse Christene het geen voorrang bo die Christene uit die heidennasies nie.


Die arbeiders “vat toe die geld maar begin by die eienaar kla.” Dit is hoe meeste mense is, én redeneer: ons weet altyd beter. Ons wil oor alles debatteer en in ons verwaandheid, selfs vir God probeer voorskryf oor hoe Hy dinge behoort te hanteer. Mense waag dit selfs om hulle bo God te stel, asof God die voorskrifte van Sy skepsel moet gehoorsaam. Só ‘n god is nie God nie – ons God is die Een wat ons in Sy misterie nie kan peil nie en wie se optrede nie verklaar kan word nie. Die eintlike saak hier gaan nie oor God se onreg teenoor die mens nie, maar die mens se onreg teenoor God. Paulus skryf: “Wie kan tog teen sy wil ingaan? Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: ‘Waarom het jy my so gemaak?” (Rom. 9:19b-20). As God werklik, volgens ons menslike standaarde, regverdig moes optree, was ons almal verlore en niemand gered nie!


God skuld die sondige mens niks en het reg om oor sondige mense te beskik soos Hy wil, om hulle in vryheid te begenadig of nie. Waar die een mens ’n toonbeeld van God se barmhartigheid (iets besonders) gemaak word, terwyl die ander (ten volle verdiend) die voorwerp van sy toorn is. Terloops, God maak nie voorwerpe van toorn nie, die mens maak self sodanige voorwerpe. By God is alle mense dieselfde, ons is almal sondaars wat geen reg of aanspraak voor God het nie. God se loon is dieselfde vir alle Christene, naamlik die ewige lewe by Hom. Dit is wat Hy met elkeen ooreenkom wat vir Hom in sy wingerd gaan werk.


“As mense in ‘n kring dans, dan is die laaste een nie agter nie en die eerste een nie voor nie. Elkeen is eerste en elkeen is laaste” (Joodse spreekwoord).


Gebed: Here, dit is tipies van die mens dat ons baie keer U werk bevraagteken, dat die maaksel vir die Maker wil voorskryf. Dan besef ek opnuut dat ek as klein mensie, nie met U die Almagtige, kan debatteer nie. Soos ‘n Job van ouds kan ek maar net sê: “Ek is nie opgewasse teen U nie, ek sal liewer stilbly” (Job 39:35). Dankie Here dat U vrymag het om met my te handel soos U wil, met my beperkte menslike insig vertrou ek op U dat my ompad, U op pad is. Al verander U soms my rigting, kan ek steeds vashou aan die versekering dat die eindbestemming my by U gaan uitbring en dat ek die ewige loon, reeds as loon van U ontvang het. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page