Gedagte vir Vandag
Maandag, 4 September 2023
Koos Espach
In die tronk in Filippi (14)
Paulus, Silas en die Tronkbewaarder (8)
Ons is deel van God se familie
Hand. 16:40 – “Nadat hulle uit die tronk gekom het, is hulle na Lidia se huis toe, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het. Daarna het Paulus-hulle vertrek.”
Ons het Vrydag gesien dat Paulus en Silas daar in die tronk in Filippi bly sit het totdat die stadsbestuur die nodige verskonings aangebied het en hulle uit die tronk uitgelei het. Alles het in die openbaar geskied sodat hulle waardigheid wat die vorige dag in die openbaar aangetas is, weer in die openbaar herstel is. Ons moet egter daarop let dat Paulus en Silas nie leedvermakerig opgetree het of die stadsbestuur enigsins geterg het nie. Paulus het in alles die hand van God gesien en so ook opgetree, in afhanklikheid en gehoorsaamheid aan God en Rome se gesagsdraers. In die tweede plek moes die stadsbestuur leer om nie dadelik teen predikers van die evangelie op te tree nie, waardeur aan die nuutgestigte gemeente moontlik vryheid, rus en geleentheid tot werk in die toekoms, gewaarborg sou word.
Nadat die stadsbestuur hulle uit die gevangenis uitgelei het, is hulle eers na Lidia se huis, waar die klein gemeentetjie van gelowiges byeen was. Hulle bemoedig die gemeente om in die stad, vol geharde Romeinse soldate, onder leiding en beskerming as kinders van God te lewe. Met die klein groepie mense in Lidia se huis, word die grondslag vir die eerste gemeente in Europa gelê. Daar in Lidia se huis in Masedonië en Griekeland, begin die evangelie, die goeie boodskap oor Christus! Lukas het waarskynlik in Filippi agtergebly, want die “ons”-gedeeltes verdwyn uit die verhaal. Hulle groet die gemeente en verlaat die stad. Paulus laat ’n gemeente agter wat hom verder in sy sendingwerk baie ondersteun het, ‘n gemeente met wie hy deurentyd ’n hartlike verhouding mee gehad het.
Wat hou Lukas vir ons hier in 2023 voor? Dit is ‘n bewys dat God alles vir Sy diensknegte goed laat uitwerk. Tog ook nie heeltemal nie. Lukas wil eerder deur die verhaal wys dat God mense oor alle grense heen bevry. Wanneer ons oor grense beweeg, is ons lewe nie meer net in ons hande nie, en ons moet dit baie goed besef. Dit kos ons iets. Die goeie wat Paulus gedoen het, was nie noodwendig goed in ander se oë nie. Veral nie in die eienaars van die slavin wie se inkomste hulle ontneem is omdat sy nie meer kon waarsê nie. Die boodskap het ook onbeplande gevolge: die stadsbestuur laat hulle op sleeptou neem deur die eienaars van die slavin. Paulus en Silas beland, stukkend geslaan, in die tronk. Die vrug op die evangelie kom dus deur konflik heen, deur baie teenstand, deur lyfstraf en met jou voete in houtblokke in ‘n donker en koue tronksel.
Gelukkig eindig dit nie daar nie. Wat ons hoop gee as ons oor grense beweeg met die evangelie onder die banier van ons getroue Leidsman, is ons lewe en die uitkoms daarvan in God se hande. Die onbeplande gevolge van die tronk word deur God getroef deur 'n aardbewing en die oopgaan van die tronkdeure en die vernederende verskoning-vra van die stadsbestuur. God skep met die skraal begin van 'n paar vroue en 'n tronkbewaarder, en ons kan aanvaar die slavin was ook deel daarvan, een van die mooiste gemeentes van die antieke tyd. Deur die evangelie word 'n nuwe mensheid, 'n nuwe huisgesin van God, opgebou en geskep uit verskillende tipe mense, ten spyte van erge teenstand.
Ons sien dit duidelik in die gemeente in Filippi. Ons kan amper sê God gooi die koninkryk se deure wyd oop vir enigeen wat wil deel wees daarvan, maak nie saak hoe verskillend hulle is nie. Uit ‘n ekonomiese oogpunt bestaan hulle uit ‘n ryk vrou, Lidia, middelklas tronkbewaarder en ‘n arm slavin. Wat ons laat wonder: Hoe kan God, met respek, so roekeloos vrygewig wees met Sy koninkryk? Etnies is dit nog meer vreemd: 'n Romeinse burger en 'n Griekse Jood en nog 'n onbekende etnisiteit, die slavin.
Maar ons verstaan, dank die Here, óns verstaan. Die droom wat God vir ons het, is dat ons inklusief sal wees. God wil mense anderkant die grense van ons kultuur en gemaksones deel van ons maak. God wil dat ons in ons gasvryheid, diens en getuienis, mense sal intrek en deel maak van Sy gemeente. Dit is tog na mense soos ons wat Hy sy hand uitsteek. Dit is vir ons wat Hy sê: Kom julle rondlopers, weglopers en afgedwaaldes, julle eenkantsitters en buitestaanders, kom na My toe, julle wat moeg en oorlaai is. Julle hoort by My. Julle is deel van My familie.
Wanneer die Here ons in Sy binnekring verwelkom, wil Hy ons leer om goed te kyk en fyn te luister na wat Hy doen en sê. Hy weet ons leer swaar en raak maklik verveeld en selfs teësinnig om ons ou gewoontetjies te laat staan. Daarom moet ons naby Hom bly. Hy weet dis die beste plek vir ons om te wees, styf aan Sy bors.
“God se familie is die ware gemeente; die beste plek om die waarhede van die Christelike godsdiens in die praktyk aan te leer en uit te leef” (Henry Ward Beecher).
Gebed: Here, kom skyn met u lig in elke donker hoekie van my bestaan. Christus, kom tot binne in die geslote kamers van my foute en skenk aan my hoop en genade. Dankie Heer dat U my in U koninkryk ingedra het, hier gee U my rus. Hier maak U my bekwaam sodat U my kan uitstuur om die Goeie Nuus van genade en vergifnis te kan verkondig en aan ander kan wys – die koninkryk van God is waar ons Vader woon, daar is plek vir elkeen wat gered wil word. Amen.
Comments