top of page

Gedagte vir Vandag

  • 2 hours ago
  • 4 min read

Woensdag, 29 April 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (9)

 

Hoe gebruik God my en jou?


Rom. 12:6a – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het.” (1).

 

Vergelyk ook 1 Kor. 12:11 – “Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil.”

 

God het ons tot dusver deur Paulus gewys wie ons is en wat ons van onsself mag dink (v. 3). Daarna is ons gewys waar hoort ons en die rol wat ons vervul as deel van Christus se liggaam (v. 4-5). Nou verskuif Paulus die klem na die verskillende gawes wat elkeen van ons ontvang het en hoe ons dit behoort aan te wend as lidmaat van ‘n gemeente.

 

Elke gemeentelid het ‘n eie rol om in die gemeente te vul in ooreenstemming met die besondere genadegawe wat aan hom of haar gegee is. God is natuurlik vrymagtig en kan sy gawes onbeperk uitdeel, aan wie Hy wil en in watter maat soos Hy wil. God ken elkeen van ons en besef my en jou potensiaal beter as onsself! God ken ook elkeen van ons se swak en sterk punte. Ons swakhede is nie per toeval of per ongeluk nie, God het hulle juis toegelaat om sy krag deur ons duidelik te maak: “... wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam” (1 Kor. 1:27b).

 

God se bedoeling is dat sy Gees verskillende gawes “aan elkeen van ons gegee het” om ons “toe te rus vir ons diens en vir die opbou van die liggaam van Christus” (Ef. 4:12).  Elke gelowige se afsonderlike gawes is dus noodsaaklik sodat ons mekaar daarmee versterk en sodoende die wêreld tot diens te wees – ons dien God deur ander te dien. Die kerk is die liggaam van Christus en ons is deel van daardie liggaam! Die kerk is waar ons mekaar nodig het, die plek wat uit verskillende ledemate (lidmate) bestaan. Solank as wat sommige van dié ledemate in onbruik of vermis is, sal die liggaam gebreklik of vermink bly!

 

God se gawes verskil van mens tot mens. God wil nie hê ons moet ons kwel oor vermoëns wat ons nie het nie. Hy wil ook nie hê ons moet ander beny wat gawes besit wat ons nie het nie. Trouens, deur die geskiedenis is dit bewys dat sommige van God se mees toegewyde kinders nooit ál die gawes ontvang het nie. Elkeen van ons het beperkings, niemand is in alles goed nie en niemand kan ook alles wil wees en doen nie. Die belangrikste is om dié unieke gawe te ontdek wat God aan my en jou gegee het, of dit groot of klein is, of dit een of baie is, en dit na die beste van ons vermoë te gebruik en ontwikkel. Hy wil hê ons moet die gawes aanwend “volgens die genade wat Hy aan elkeen van ons gegee het.” 

 

Neem Jesus as voorbeeld. Hy het takies gedoen wat ander mense vermy het: melaatses versorg, ontbyt gemaak, voete gewas, hand gegee met kinders, en nog baie ander. Niks was benede Hom nie want Hy het aarde toe gekom om te kom dien. Hy verwag dat ons sy voorbeeld volg: “Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Joh. 13:16). God het ons geskep om te dien daarom kan ons ongelukkig nie net ‘n dienaar wees wanneer dit vir ons gerieflik is nie. Ons moet bereid wees om God toe te laat om ons program omver te werp, daar is nie plek vir selfgesentreerdheid nie. ‘n Christen-dienaar sê nie ‘eendag’ en ook nie ‘wanneer ek tyd het of wanneer die tyd ryp is nie’ –“Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie” (Pred. 11:5).

 

God het beplan waar ons vir sy doel sal lewe en het ons nie as ‘n enkeling of individu daar geplaas nie, maar as deel van ‘n liggaam, die kerk. Ons is nie maar toevallig in die gemeente waar ons bly nie, ons is daar deur God geplaas vir sý doel. Soos ledemate van ‘n liggaam mekaar nodig het om behoorlik te funksioneer en tot volle potensiaal te kom, so is elkeen van ons nodig om God se doel, sy roeping, in my en jou gemeente uit te leef. Twee dinge is uiters belangrik wanneer ons dink aan ons diens in die kerk as deel van die “liggaam van Christus.” Die eerste is dat ons nie mense dien nie, maar vir God, en die tweede is dat God ons nooit tot sy diens sal  roep sonder dat Hy ons deur sy Gees sal toerus vir die taak nie. Nou is die vraag: Waar en hoe gaan ek en jy ons vermoëns en gawes aanwend in die gemeente waar God ons geplaas het?

 

“Wat jy is, is God se gawe aan jou; wat jy met jouself doen, is jou gawe aan God” (Verna McLellan).

 

Gebed: Hemel Vader, maak deur U Gees dit moontlik dat al my gawes en tyd, onder U beheer staan. Maak deur U Gees U wil aan my bekend sodat ek gewillig en bekwaam sal wees om U wil uit te voer, waar ek myself ookal bevind. Maak ook  aan my bekend watter gawes deur U Gees aan my toebedeel is, al is ek hoé swak,  sodat ek dit optimaal en ywerig kan benut. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page