Gedagte vir Vandag
- 4 hours ago
- 4 min read
Maandag, 4 Mei 2026
Koos Espach
Die nuwe lewe in Christus (10)
Gewillige diens tot eer van God
Rom. 12:6a – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het.” (2).
Vergelyk ook Matt. 25:28-29 – “Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat tien het. 29Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.”
Ek onthou nog vanaf my kinderdae hoe dikwels mense vandag se vergelykende vers aangehaal het, veral wanneer daar na al die rykes van die dorp verwys is. Daar was maklik in die omgangstaal gesê dat die “rykes ryker, en die armes armer sal word. Dit staan mos in die Bybel dat die bietjie wat ons armes het, weggevat sal word en aan die rykes gegee word om nog ryker te word!” En dan het al die aanwesiges instemmend kop geknik en gewonder wanneer hulle karige besittings ook gaan verdwyn in die sakke van die rykes.
Wanneer ons egter die Bybel binne konteks lees, weet ons mos dat hierdie teks iets anders beteken as wat die vroom omies en tannies uit ons kinderdae bedoel het. Dit gaan glad nie eers oor besittings of geld nie, maar oor hemelse gawes wat God aan ons elkeen gegee het volgens ons vermoëns. Ek en jy moet ons gawes, wat dit ook al mag wees, aanwend om God se koninkryk uit te bou en Hom te eer.
Ons leef nou in die genadetyd, die tyd van Jesus se hemelvaart tot sy wederkoms. Daardie dag van sy wederkoms, gaan Hy vir my en jou tot verantwoording roep om te verduidelik wat ons met die gawes wat ons van God ontvang het, gedoen het. God wil hê dat sy koninkryk “winsgewend” moet wees, met ander woorde, sy kinders moet geestelik groei deur skouer aan die wiel te sit en ons gawes reg aanwend om Hom te eer.
God het beplan waar ons vir sy doel sal lewe en het ons nie as ‘n enkeling of individu daar geplaas nie, maar as deel van ‘n liggaam, die kerk – “Uit een mens het Hy al die nasies gemaak ... Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon” (Hand. 17:26). Ons is nie maar toevallig in die gemeente waar ons bly nie, ons is daar deur God geplaas vir sý doel. Soos ledemate van ‘n liggaam mekaar nodig het om behoorlik te funksioneer en tot volle potensiaal te kom, so is elkeen nodig om God se doel, sy roeping, in my en jou gemeente uit te leef.
God wil my en jou gebruik om ‘n verskil te maak. Hy wil deur ons werk. Elkeen van ons gaan ons lewe aan iets gee – ‘n loopbaan, sport, roem, rykdom of wat ook al. Niks hiervan gaan lank belangrik bly nie. Diens is die pad na belangrikheid. “Die genadegawes wat ons volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het,” moet in God se familie aangewend word. “God het sy ‘familie’ geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10).
Ek en jy moet goeie dankbaarheids-vrugte dra. Tog is ons vinnig met ‘n verskoning wanneer dit by diens of bediening of gemeente-betrokkenheid kom. Abraham was oud, Noag was ‘n dronkaard, Jakob was ‘n bedrieër, Josef was mishandel en onregverdig behandel, Moses het gehakkel, Ragab was ‘n prostituut, Dawid het ‘n buite-egtelike verhouding gehad en ‘n menigte familie probleme. Elia was depressief, Jona was traag, Petrus was impulsief en bowenal Jesus ontken, Naomi was ‘n weduwee, die Samaritaanse vrou het ‘n spul mislukte huwelike gehad, Tomas het getwyfel, Paulus was fanaties en ‘n moordenaar, Timoteus was teruggetrokke omdat hy jonk was.
Dit klink maar na ‘n klomp misbaksels – portrette wat baie skeef hang. Maar God het elkeen van hulle vir sy diens gebruik. Elkeen van hulle het op een of ander manier Jesus Christus se gesindheid in hierdie wêreld openbaar. Rick Warren sê: “Terwyl ek en jy vir die ewigheid gereed maak, lewe ons net behoorlik as ons ‘n diens lewer aan ons medemens. Dít, is suiwer (Gods)diens!” Jesus het gesê: “ ...want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou” (Mark. 8:35). Dié waarheid is só belangrik dat dit vyf maal in die evangelies herhaal word. God wil hê ons moet onselfsugtig dien. Hy kan my en jou ook gebruik, maar dan moet ons ophou om verskonings te maak en ‘n dankbare dienende lewe leef tot God se eer.
“’n Heilige lewe beteken dat jy God se werk sonder verskonings en met ‘n glimlag doen” (Moeder Teresa).
Gebed: Hemelse Vader, maak my oop vir die stem van die Gees om my gawes te ontdek en tot U eer aan te wend. Stel my in staat om vir ander ‘n dienende seën te wees juis omdat U seën in my lewe so oorvloedig is. Amen.
Comments