top of page

Gedagte vir Vandag

  • 3 days ago
  • 4 min read

Woensdag, 6 Mei 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (11)

 

God gee verskillende gawes


Rom. 12:6 – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe is om God se boodskap te verkondig, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.”

 

Paulus noem sewe algemene genadegawes wat aan ons gegee is en hoe die betrokke gawe ‘verantwoordelik’ gebruik moet word. Dit is opmerklik dat die funksies wat met die gawes wat Paulus noem, ingedeel kan word onder die drie ampte van leraar, ouderling en diaken. Dit beteken nie dat net hierdie bepaalde ampte in ‘n gemeente bestaan nie, ons is steeds “lede van een liggaam.” Lidmate moet dus nie dink dat die dienswerk aan mense wat in hierdie drie ampte dien, oorgelaat moet word nie. Die kerk is nie ‘n soort diensorganisasie wat slegs daar is sodat daar omgesien kan word na lidmate se “geestelike” of ander behoeftes nie – m.a.w. hulle wil besoek word, geken word, gerieflik gemaak word, kortom, bedien word! Nee! “God het aan elkeen van ons genadegawes gegee”, daarom beklee elke lidmaat die “amp” om te dien! 

 

Ons het ‘n verskeidenheid van genadegawes van God ontvang. Algemene genadegawes word aan alle gelowiges gegee, terwyl individuele gawes van persoon tot persoon verskil. Almal het nou nie al die gawes nie, maar niemand het nie niks nie. Die bron is onuitputlik omdat “ons almal van die een Gees deurdrenk is” (1 Kor. 12:13c), en daarom eindig die lys van geestelike gawes nie by hierdie sewe nie. “Daar is ‘n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee” (1 Kor. 12:4). Die Bybel meld op verskeie plekke van nóg genadegawes en as Skepper-Gees, kan Hy in die een en twintigste eeu, nóg ander gawes bygevoeg het en steeds byvoeg. Maar kom ons bepaal ons by die gawes wat Paulus hier in verse 6 tot 8 noem.

 

Om “God se boodskap te verkondig” is ‘n besondere gawe van die Heilige Gees. Dit is die leraar wat naby aan God lewe en sover menslik moontlik, God se denke op grond van reeds bestaande openbaarmaking, of op grond van nuwe openbarings, die wil en bedoelings van God aan die gemeente bekend maak. Aangesien daar egter destyds talle vals leraars was en vandag nog steeds is, maan Paulus dat dié gawe beoefen moet word “in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.” Indien enige uitsprake bots met ons Christelike geloofsbelydenis, is iemand met ‘n vals profesie besig – “Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is” (1 Joh. 4:2).

 

Die leraar beklee die profetiese amp in die gemeente. Die gevaar in Paulus se tyd was dat persone onder hierdie dekmantel vals leerstellinge kon verkondig. Daarom dat hy ‘n jong Timoteus “voor God en voor Jesus beveel om die woord te verkondig; daarmee vol te hou, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie, hulle eie leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor” (2 Tim. 4:1-3). Die leraar is dienaar van Christus, ‘n bediener van die verborgenhede van God. “Hy of sy verkondig nie homself of haarself nie, maar Jesus Christus as die Here, en hulleself as ons dienaars ter wille van Jesus” (2 Kor. 4:5).

 

Daar is soveel kerke vandag. Hoe weet ek watter een reg is? Daar is baie antwoorde op hierdie vraag. Nie een sal seker almal tevrede stel nie. Daar bestaan ‘n paar “merktekens” wat ons kan help om ware kerke van valse kerke te onderskei. Een van die belangrikste kenmerke is volgens Paulus, die Bybel! Die Heilige Gees werk in die Woord, dus kan die prediking slegs krag en gesag hê as die leraar werklik God se Woord laat spreek en nie sy eie opinie verkondig nie. Daar waar mense die Bybel reg uitlê en hulle lewens daarvolgens inrig, sal hulle op God se pad bly.

 

Die Bybel is God se Woord. God ontbloot Homself hierin sodat ons getroos kan lewe en sterwe as ons glo. Die Bybel is deur God geïnspireer. Hy het sy wil aan verskillende skrywers bekend gemaak en hulle het dit getrou neergeskryf. Die Bybel is die belangrikste onderrigmiddel in die kerk. Dit leer ons alles wat ons van God wil weet. Die Bybel is die belangrikste rigsnoer binne die kerk om dwaalleringe uit te wys en te bestry. Die Bybel is ons kompas en dui ons koers aan. Dit is die lig vir ons pad en die lamp vir ons voet, soos Psalm 119 sê. Dit dui die regte pad na God se wêreld toe aan.

 

Die prediking kan dus slegs krag en gesag hê as die prediker werklik God se Woord laat spreek. Luister wat sê Paulus: “Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God” (1 Kor. 2:4). God open my en jou hart om die ware Woord van God, die evangelie te glo! Dit is net aan God te danke dat Hy leraars “die gawe gegee het om God se boodskap te verkondig.” Dit is ook net aan God te danke dat ek en jy dit kan glo en “dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.” Kom ons loof God daarvoor, anders kon ons ook in die koor van nie-gelowiges en spotters gesing het terwyl ons die hel tegemoetvaar.  

 

“As God jou roep om ‘n predikant te word, moenie jouself verneder om ‘n koning te word nie”

(Charles Spurgeon).

 

Gebed: Dankie Here vir hulle wat geroep is om “U boodskap te verkondig.” Dankie dat elkeen wat U roep, hulle ook bekwaam om nie net mooi woorde en treffende sinne rondom ‘n Bybelteks bymekaar te maak nie, maar hulle sal toerus met ‘n onkeerbare oorloop van persoonlike spiritualiteit en ‘n verhouding met U. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page