Gedagte vir Vandag
- 3 days ago
- 4 min read
Vrydag, 24 April 2026
Koos Espach
Die nuwe lewe in Christus (8)
Raak betrokke
Rom. 12:4-5 – “Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.” (2)
Elke gemeente is ‘n eenheid waarin daar lidmate met ‘n verskeidenheid van genadegawes deel van die gemeente is. God het ons in daardie gemeente geplaas. Die Bybel sê Hy het ons déúr sy doel en vír sy doel geskep: “God het deur (sy Seun) alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: ... Alles is deur Hom en vir Hom geskep” (Kol. 1:16). Die verskillende lede van ons liggaam het verskillende funksies en die liggaam werk net reg as elke lid sy eie funksie góéd verrig. Net so is “ons baie lede in een liggaam, (wat die liggaam van Christus is), en die lede het nie almal dieselfde funksie nie.” Hoe en waar en hoekom, raak ek en jy betrokke in die gemeente waar God ons geplaas het? Waar gaan ek en jy ons vermoëns en gawes aanwend in daardie gemeente?
Wonder jy ook soms hoekom God nou juis vir jou gekies het? Wie is ek dat God my êrens wil gebruik? Seker die kromste stok wat daar is en tog slaan God ’n reguit hou daarmee. As my geloof soms so bietjie aan ’n draadjie hang, dink ek terug aan die kere toe ek ’n verskil in ander mense se lewens gemaak het. Dan weet ek daar moet ’n God wees, want op my eie mors ek net op. Toe ek stil word, word ek oorval met die gedagte dat die gawe wat ek van God ontvang het, nie lekker werk as die Heilige Gees nie ook betrek word nie. Dis nie ek wat so goed is nie, maar die Heilige Gees wat deur my werk. Omdat die Heilige Gees werk, het my gawe krag en kan God dit gebruik. God roep nie die bekwames nie, Hy bekwaam dié wie Hy roep!
Hoe traag kan ons soms wees om agter te kom ons sit sonder krag – ons is wel ingeprop by die plug, maar ons skakel dit nie aan nie. God gee aan ons elkeen spesifieke gawes volgens sy goeddunke. Hy voorsien selfs die krag, sy Heilige Gees. Ons moet Hom net aanskakel, of anders gestel, toelaat om Sy werk deur ons te doen. God verdien dus al die eer wat gegee word wanneer ek en jy ons gawes aanwend. Ek dink dit maak God se hart bly as ons hande vat met die Heilige Gees en doen wat Hy vir ons lewe beplan het.
Ons moenie ons gawes onder ‘n emmer wegsteek nie. Ook nie verskonings uitdink hoekom ons eerder iets anders moet doen as om ons gawes te laat grondvat nie. Ons moenie lui wees om ons gawes te laat werk nie. Moenie die uitstel-verskoning gebruik nie, want ons ken mos die spreekwoord: van uitstel kom afstel. Die volgende kommentaar van Henry op E-Sword is ’n ernstige waarskuwing: “The gifts of God will wither if they be neglected.” Ons gawes sal opraak, wegraak, verdwyn as ons dit nie gebruik nie. Dié siening laat ’n mens nogal skrik. As ons nie gereeld ons gawe(s) aanwend nie, verloor ons later die kennis hoe om daarmee te werk! Dis nie sommer net so uitgedeel nie. God het dit spesifiek vir ons gegee met ‘n doel!
Daarom moet ons die belangrikheid daarvan besef, moeite daarmee maak en die heeltyd op die uitkyk wees vir plekkies waar ek en jy ons gawes kan aanwend. En wanneer die geleentheid geskik is, moet ons gretig daarvan gebruik maak. Dit is so ’n groot voorreg dat God ons uitgekies het om juis dáár op dáárdie oomblik, ’n verskil te wil maak.
Wanneer ek en jy onsself as “lewende offers aan God gee” (Rom. 12:1), sal ons die vervulling daarvan smaak om ‘n medewerker te wees van die liggaam van Christus. God wil nie net ‘n deel van ons lewe hê nie, Hy vra ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag. Hy wil ons volle toewyding hê, nie net brokkies van ons lewe nie en ook nie eers wanneer ons tyd sal maak om dit aan te wend nie. Indien ons dalk ‘n probleem daarmee het, kyk net na Christus waar Hy met uitgestrekte arms aan die kruis hang en sê: “Ek is só lief vir jou! Ek sterf eerder as om sonder jou te leef.” Wat is my en jou antwoord?
“Gewillige diens volgens jou vermoë, selfs in die geringste sake en deur die geringste mense, is vir God aanvaarbaar” (Dietrich Bonhoeffer).
Gebed: Vader, wie is ek dat U aan my dink? Wie is ek dat U my hoog genoeg ag? Wie is ek dat U my kan gebruik? Help my om nie verder te twyfel oor my waarde vir U nie. Dankie dat ek waarde het. Dankie dat ek ’n roeping het, ’n plan wat U vir my lewe het. Here, dankie dat U ook ’n gawe of twee aan my toevertrou het. Ek wil ’n goeie rentmeester wees van daardie gawes. Maak my oë oop dat ek kan sien waar U my wil gebruik. Hier is ek, gebruik my. U het my aangestel om hier op aarde ’n verskil te gaan maak. Ek sal gaan. Gee U asseblief net die krag. In Jesus se Naam. Amen.
Comments