Gedagte vir Vandag
Woensdag, 23 Augustus 2023
Koos Espach
Die Verblyf in Filippi (9)
In die tronk in Filippi (6)
Daar is altyd plek in God se koor
Hand. 16:25 – “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenis het na hulle geluister.”
Die afgelope paar dae dink ek aan Paulus en Silas daar in die tronk in Filippi. Middernag is gewoonlik slaaptyd vir die meeste mense, maar hulle het in uiters moeilike omstandighede, God geloof met gebed en sang. Hoe het hulle dit reggekry om vreugdevol te wees in sulke omstandighede? Hoe kan ons byvoorbeeld in Suid-Afrika vreugdevol optree terwyl dit lyk asof ons al hoe dieper in ‘n donker gat wegsink en nooit weer daar gaan uitkom nie? Die lewe is nie maklik nie – daar is sóveel pyn rondom ons. Iemand het eendag gesê ons moenie dat die wêreld ons onderkry nie. Ons moet ons omring met vreugde, dis ons bolwerk. Dis die enigste verweer teen die skerp kante van die lewe. Maar hoe? Dankie tog, ons kan Paulus en Silas se voorbeeld volg en doelbewus kies om dag vir dag ons voete op God se vreugdepad te sit, al is ons voete in ‘houtblokke.’
Watter pad is God se vreugdepad? Ek onthou ek het iets daarvan raakgelees in Prediker, of was dit Psalms? Ek kan nie lekker onthou waar nie. Terwyl ek deur Prediker blaai en soek, kom ek op nog ‘n sombere en donker prentjie af: “Een en dieselfde lot tref almal: die regverdige en die goddelose ... Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref ...” (Pred. 9:2-3). Ag nee man. Ek soek iets oor vreugde. En volgens die Prediker waarborg geloof nie enige byvoordele nie. Gelukkig lees ek verder: “Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. ‘n Hond wat lewe, is beter as ‘n leeu wat dood is” (v. 4). Sjoe! Volgens hom het ons gelowiges nie spesiale voorkeur behandeling nie – ons geloof is nie ‘n versekeringspolis teen swaarkry nie – maar ons leef darem. Daar is dus hoop!
Dit bring my terug na Paulus en Silas wat in die tronk is omdat hulle vir die mense in Filippi van Jesus vertel het. Die boodskap was só gevaarlik dat hulle ‘n behoorlike drag slae toegedien is en in die tronk gegooi is. Was dit ek, sou ek eerder “Lewenstorme breek in woede, alles om my heen is nag ...” gesing het. Paulus-hulle sing lofliedere, nie klaagliedere nie. Die feit is, hulle leef nog – "’n hond wat lewe , is beter ...” – Die donkerste donker kry hulle nie onder nie. Hulle vreugde word nie gedemp deur hulle pyn en uiters slegte omstandighede nie. Is dit nie wat God se genade in Sy kinders se lewe tot gevolg moet bring nie? Vreugde val immers nie self in ons skoot nie, ons moet gaan soek daarvoor. Ons kan mos besluit of ons beter of bitter wil wees.
Hoe klink my en jou liedere? Het ons nog iets in donker Suid-Afrika om oor te sing? Wel, Paulus en Silas se lofliedere het gehelp. Selfs God was so aangegryp deur Sy kinders se vreugde in hulle donker middernagtelike uur dat Hy nie anders kon as om hulle met Sy genade aan te raak nie. Die Here skuld ons nie ‘n gemaklike lewe, ‘n gelyk paadjie hemel toe nie. Maar Hy is by ons, al is die pad soontoe hoe swaar. God is egter nie haastig nie, Hy stap saam met ons teen die spoed van een dag op ‘n slag. Terwyl ons nog lewe kan ons dit aangryp en dit met vreugde vul. Ons moet egter onthou, ons ontvang lewe net een dag op ‘n slag. Môre is nie in ons hande nie en gister is opgeleef. Dis ons keuse om vandag God se vreugde te kies en die negatiewe dinge te vergeet.
Ek probeer Psalms, en ja, dis waar ek dit gelees het – die psalms wemel van lof, die vreugde oor God borrel feitlik in elke psalm uit. Luister: “Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap!” (Ps. 100:1-2); “Ek wil die Here loof, met alles in my wil ek die Here se grootheid prys, ek wil nooit vergeet hoe goed die Here vir my is nie” (Ps. 103:1-2: Die Boodskap). Aangrypend né! Mense wat God se grootheid prys en vergeet van al die negatiewe gemors rondom ons, is gelukkige mense. Ons steur ons nie aan hulle wat negatiewe rassistiese liedere dreunsang sing nie. Laat hulle sing, God sal teen die onregverdige optree! As ek en jy agter die psalmskrywer aan kan sê: “Ek wil die Here loof, met alles in my wil ek die Here se grootheid prys”, gee ons sy Gees kans om die vreugdevure binne ons aan te steek!
Om die Here te loof moet ‘n leefwyse wees. Sy lof moet elke dag op ons lippe wees. Ons kan dit nie los net vir Sondae in die kerk nie. Nee, God wil hê ons moet lofoffers bring buite die kerk – daar waar ons saam met Dawid die slotverse van Psalm 109 kan uitroep: “Ek sal die Here prys. Almal moet dit hoor. Ek sal Hom voor baie mense loof” (Die Boodskap). Sonder God se lof in ons gebede, in ons liedere, in ons doen en late, is vreugde maar net leë woorde en nie regtig deel van ons geestelike woordeskat nie. Vra maar vir Paulus en Silas. Die aarde het gebewe toe hulle God loof en prys!
Ek en jy kan dit waag om God se lof te besing. Ons kan elke dag ons melodieë onder alle omstandighede verander. Die lewe is ‘n lied, al sing ons vals. Ons kan God loof oor wie Hy is, en nie net wanneer ons so voel nie. Daar is steeds iewers ‘n stukkie geluk te vind in hierdie deurmekaar wêreld van ons. Ons kan nou al in God se vreugdekoor op aarde sing. Dit is solank die oefenveld vir dit wat vir ons eendag in die hemel wag, want daar gaan ons net sing en feesvier. Put elke dag uit die vreugdefontein wat nóóit opdroog nie. Terloops, daar is nog plek vir jou ook in God se koor ...!
“Daar is geen groter vreugde nie as die sekerheid dat jy midde-in jou nood omsluit word deur die liefde van God” (Johannes Calvyn).
Gebed: Bron van vreugde, dankie dat U vreugde kwistig uitdeel. En U is nie spaarsamig daarmee nie, U gee arms vol weg, verniet. Ek bely Here, ek het ook ‘n meestersgraad in bekommernis soos baie mense in ons land. Vul my ook asseblief met U vreugdemedisyne vir die pyn wat hierdie lewe soms bring. Dankie dat ek dit elke dag by U kan kom haal. Amen
Comments