Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 15 Augustus 2023
Koos Espach
Die Verblyf in Filippi (4)
In die tronk in Filippi (1)
Ken en ervaar
Hand. 16:16-18 – “Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons ‘n slavin teëgekom in wie daar ‘n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 17 Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: ‘Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.’ 18 Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: ‘Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!’ Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.”
Lukas se vertelling verander nou soos dag by nag. Hy beweeg van ‘n welvarende selfstandige besigheidsvrou, Lidia, wat die sogenaamde elite van die stad bedien het met haar deftige purper materiaal, na ‘n beteuterde naamlose slavin wat deur haar eienaars beheer word om vir hulle geld te verdien. Sy was onder ‘n mag van een of ander bose gees is. Soos in alle vorige plekke waar Paulus die evangelie verkondig het, bly die teenstand dus nie uit nie. Geen goeie ding gebeur immers ooit sonder dat die magte van die bose dit probeer dwarsboom nie!
Die slavin met 'n waarsêersgees is die eerste teenstand in Filippi. Sy stap vir ‘baie dae’ agter Paulus-hulle aan en skreeu aanhoudend dat hulle dienaars van God is wat Sy verlossingsplan aan mense bekend maak. Wat die vrou sê, is dus die waarheid, maar relatief is dit minder goed want sy doen die werk van Christus onreg aan en lei daardeur die boodskap inderdaad van Paulus af weg. Die leuen probeer die evangelie te verduister.
Die woord wat gebruik word vir die waarsêergees, is puthon-gees. Die Puthon (python) was die mitologiese slang of draak wat die tempel van Delphi bewaar het. Volgens die Griekse mitologie het Apollo die slang doodgemaak en self die beskermer en god van profesie en wysheid geword. Die naam is toe gegee aan enigiemand wat die toekoms voorspel het onder die inspirasie van Apollo. Dit het baie angs en spanning by mense veroorsaak want hulle het geglo enigiets kon enigiemand enige tyd tref. Almal wat ‘n lig op hulle toekoms gewerp wou hê, kon na hierdie slavin toe gaan om dit vir hulle te voorspel. Vir haar waarsêery moes die persone wat na haar gegaan het, geld aan haar eienaars betaal wat op hierdie wyse baie geld uit haar gemaak het.
Maar, ons weet nou al, die Here is in alles aan die werk, ook in die ontwrigting wat hulle getuienis ontketen in die stad. Paulus kon later nie meer haar geskreeu vat nie en erg geïrriteerd beveel hy die gees om uit haar uit te gaan. Met die aanhoor van Jesus se Naam, besluit python om nie nog rond te hang nie, maar onmiddellik die wyk te neem! Satan ken die waarheid van God: “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die duiwels glo dit ook – en hulle sidder van angs” (Jak. 2:19), maar hy probeer die werk van God afbreek deur die waarheid op ’n eienaardige wyse te verkondig. Daarom moet Paulus hom op hierdie wyse teen die verkondiging verset. Hy verwyder die bose waarsêersgees sonder enige skouspelagtige rituele. Één woord was genoeg om die gees se houvas op haar te verbreek – Jesus. Jesus Christus se Goddelike gesag laat die gees onmiddellik reageer!
Jakobus wys vir ons die duiwels glo met hulle koppe dat God dáár is. Dit is egter net verstandskennis want hulle gebruik nie die kennis nie. Hulle trek geen voordeel daaruit nie. Hulle beleef dit nie as die evangelie nie en aanvaar dit nie in die geloof nie. Hulle is uit die hemel uitgewerp en kan nie daarheen terugkeer nie (Op. 12:9). Dit raak nie hulle manier van lewe nie, daarom “sidder hulle van angs.”
Daar is ‘n verskil om ‘n Christen te wees in ons gedagtes en om daadwerklik ‘n Christen te wees. Dit is presies die verskil in die duiwels se “geloof”: Hulle het die verstandskennis van God en wie Hy is, maar dis vir hulle nie ‘n saligmakende geloof nie want hulle word nie daardeur gered nie.
Hoe vergelyk ons geloof met dié van die duiwels? Die inhoud is dieselfde – ons ken God in Sy Drie-eenheid. Die verskil kom egter by die dade wat uit hierdie geloof voortvloei. As ons dade nie anders is as die duiwels s’n nie, is ons geloof ook net ‘n verstandskennis wat geen redding bring nie. Die duiwels weet ook van die één God, maar hulle doen ten spyte daarvan die kwaad. Hulle verhouding tot dié God is daarom nie een van vertroue en liefde nie, maar van opstand, haat en angs.
Ek en jy ken ook miskien sulke mense waar ons werk en woon. Mense wie se lewe hel geword het deur ‘n onrein gees wat hulle in die donker dieptes aftrek. Mense wat op ‘n vlak leef in ‘n toestand ver verwyderd van wat God vir hulle in die oog gehad het. Dalk is dit ‘n onrein gees van verkeerde keuses, verhoudings, verslawings, omstandighede wat hulle oor die afgrond trek. Hulle weet dalk van die bestaan van Jesus, maar bly op ‘n afstand van Hom af. En ons weet mos daar is ‘n verskil tussen, net om van Jesus te weet maar nie Sy bevrydende krag te ervaar nie.
Dieselfde krag waarmee Jesus hierdie slavin deur Paulus genees, is ook werksaam in ons lewe. Wanneer Christus met my en jou en enigeen wat in die donker dieptes vasgevang is, besig raak, ervaar ons hoe Hy ons daaruit trek. Ja, Hy trek ons uit die donker dieptes van angs en eensaamheid en maak weer van ons mense van die lig, mense wat die sout van die aarde is (Matt. 5:13-16). Om sout van die aarde te wees is ‘n eienskap wat elke Jesusvolgeling is. Dis ons DNS!
“‘n Mens weet eers hoeveel jy regtig in enigiets glo as die waarheid of valsheid daarvan vir jou ‘n kwessie van lewe en dood word” (C.S. Lewis)
Gebed: Here, hier is ek. ‘n Korreltje niks wat U ‘n korreltjie sout gemaak het. Meng my in die lewens van ander in, hulle wat vasgekeer is in die donker dieptes van die lewe, om dit vir hulle ook ‘n beter plek te maak. Amen.
Comments