Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 11 minutes ago
- 4 min read
Vrydag, 9 Mei 2025
Koos Espach
Die wet en die sonde (9)
Wanhoop aan die self
Rom. 7:24-25 – “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25 Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.” (1)
Hoeveel begrip het ons nie vir wat Paulus skryf nie. In sy ellende roep hy uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” Ons moet egter onthou, dit gaan nie net oor hom persoonlik nie, dit gaan ook oor ons. Die boodskap van Romeine 7 is die omvattende bevryding uit die ou bedeling, die bedeling van die wet: “Ons is vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie” (Rom. 7:6). ‘Vry van die wet’ beteken vry van die verpligting om self ons saak by God te probeer regmaak.
In die lig hiervan is Paulus se ontboeseming hier ongelooflik. Hy, die ‘reus’ onder die Nuwe Testamentiese gelowiges, hy wat ’n passie vir Christus en die evangelie gehad het, hy wat by geleentheid erken het dat die liefde van Christus hom dryf (2 Kor. 5:14) – hý kom hier en erken dat hy sukkel met homself en die sondige, verkeerde drifte in hom. Hy sê hy verstaan homself nie, want hy doen nie wat hy wil nie, en roep dan moedeloos uit: “Ek, ellendige mens …!” Dit is asof Paulus hier baie gelowiges se frustrasie en hartseer oor die sonde in hulle lewe uitroep. Dalk myne en joune ook? Dankie tog, ons is nie alleen nie. Ons kan sy raad volg en Jesus Christus ons Here se verlossing elke dag opnuut aangryp (v. 25). In Hóm is daar vrede vir ons gemoed.
Met God wat deur sy Gees die sondebesef in ons wakker maak, is ons mense wat na uitkoms soek en uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Sonder God bly ons lewe ‘n doodsbestaan, maar mét God, verander alles, “aan God die dank!” Dit was God se grootste wonderwerk: Hy het ons “deur Jesus Christus ons Here” nuut gemaak. Dit was die goeie nuus van Romeine 6: Ons ou self is deur die eenheid in Christus, klaar dood. Ons ou self is saam met Christus gekruisig en begrawe. Deur ons eenwees met Christus het ons nuwe self, saam met Christus uit die dood opgestaan.
Ons nuwe self, lewe dus! Dit is klaar bepaal wie ek en jy is: ’n Nuwe mens in Christus! Ons stryd is dus ‘n stryd tussen ons nuwe self en die sonde wat nog in ons woon. In hierdie stryd is ons nie hulpeloos nie. Ons is geherskep, ons is weer gebore met nuwe oë sodat ons deur die geloof kan sien; nuwe voete wat die regte pad wil bewandel; nuwe hande waarmee ons saggies kan aanraak en kan vertroos; 'n nuwe hart sodat ons met omgee harte kan leef, sagmoedig, nie selfgerig of eiesinnig nie.
Die eerste geboorte was vir die aardse lewe, dit het ons in staat gestel om 'n aardse lewe te voer met 'n fisieke hart terwyl die tweede geboorte met ‘n geestelike hart is wat ons in staat stel om die ewige lewe te hê. Met ons eerste geboorte het ons nie juis 'n aandeel daarin gehad nie, ons was passief. Ons is nie gebore as gevolg van iets wat óns gedoen het nie, iemand ánders het die pyn gevoel.
Met ons tweede geboorte word ons egter nie deur 'n mens se pyn in die ware lewe gebring nie, maar deur God se pyn, deur die lyding van sy Seun aan die kruis; nie deur ‘n ánder of ons worsteling nie, maar deur Syne; ook nie deur ‘n ánder of ons bloed nie, maar deur Syne. Ek en jy moet net met ons ou natuur breek. Ons moet in die geloof wat God as gawe deur Sy genade aan ons gegee het, aanvaar dat die God van liefde, die goeie, die volmaakte vrede, die vreugde, die heerlikheid van lewe is. Met só ‘n wonderlike God en só sinvolle geloof in Jesus Christus en só inwonende Gees, is ons “van hierdie doodsbestaan verlos” en kan ons met waardigheid leef. “Aan God die dank deur Jesus Christus ons Here!”
“Sonde is ‘n krag in ons lewe, laat ons duidelik verstaan dat dit alléén deur ‘n groter Krag oorwin kan word” (Henry Drummond).
Gebed: Hemelse Vader, dit is groot genade om te kan besef en te kan bely: “Ek ellendige mens”, ek is ‘n kind van God. Dit is eweneens groot genade om te kan besef en te bely: “U het my verlos deur Jesus Christus.” Dankie Here, dat ek nie self hoef te probeer nie. Dit is deur u Gees wat in my woon en my help in die stryd om die goeie te doen. Ek dank U vir elke klein oorwinning om my lewe só te leef dat dit tot eer van God sal strek. Amen.
Comments