top of page

Gedagte vir Vandag

2 Februarie 2021

Koos Espach


JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (40)

(Matt. 16:21–25:46)


Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit (7).

(Matt. 19:1-30)

Die ryk jongman (2)

(Mark. 10:17-31; Luk. 18:18-30)

Dissipelskap beteken om aanpassings te maak!


Matt. 19:16 en 21 – “Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: ‘Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?’ Jesus het (die jongman) geantwoord: ‘As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”


Vergelyk ook Spr. 11:28 – “Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot ‘n val, wie reg doen floreer soos groen blare.”


By die lees van hierdie gedeelte oor “die ryk jongman”, het ek al baie keer gewonder hoe dit gebeur dat die vraag na die “ewige lewe”, meteens by ‘n jong mens opkom. Ek meen, jongmense dink mos nog nie aan die dood nie, maar beplan nog om te lewe – goeie loopbaan, mooi kar, trou, huiskoop, kinders ens. Dit is miskien ‘n vraag wat eintlik deur ouer mense gevra word. Veral wanneer jy pas afgetree het. Iemand anders het jou pos by die werk gevul; jy kan nou later slaap; jy kan doen wat jy wil, hoe lank jy wil en wanneer jy wil, jy is nie tydgebonde nie. Jou ou kollegas is gaaf wanneer jy daar inloer of hulle op straat raakloop, tot wanneer jy merk jy hulle eintlik net ophou wanneer jy by hulle is. Dan wonder jy: “Waarvoor het ek gelewe? Het ek al die jare myself bedrieg toe ek gemeen het, om te lewe, hang van prestasie en status af? Wat was die eintlike doel van my lewe?” Onvermydelik besef jy hopelik dan, soos ek, alles was miskien ‘n gejaag na wind. Ek moes dalk vroeër in my lewe begin dink het “wat ek moet doen om die ewige lewe te verkry?”


Die ryk jongman wat Jesus vra na wat hy kan doen om die ewige lewe te verkry, gee Jesus geleentheid om ’n volgende waarde van die koninkryk van God op die tafel te sit – hoe ’n mens jou welvaart hanteer. Jesus begelei die jongman van ’n radikale gehoorsaamheid aan die wet – wat hy gedoen het – na ’n radikale gehoorsaamheid aan Jesus self. Jesus spreek Hom uit oor die gevaar van die rykdom. Trouens, die gevaar bestaan vir elkeen wat verbonde is aan aardse goed, en nie net vir die rykes nie. En dan die vraag: “Hoe staan ek en jy teenoor God?” In Hom is alles waarna ons soek wanneer die lewe onbeheers, twyfelagtig en sorgwekkend is. “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My."Vertrou My met jou huwelik, jou beroepslewe, eensaamheid, pyn, ag, sommer álles. Raak ontslae daarvan en “volg My!”


Wil Jesus hiermee te kenne gee dat 'n mens al jou besittings moet verkoop as jy Hom wil volg? Dan is nie een van ons regtig 'n volgeling van Jesus nie! Nee, Jesus het hom getoets om te kyk waar sy hart is. Jesus wou seker maak sy besittings het nie tussen hom en die Here gestaan het. Die jongman het gefaal, sy rykdom was vir hom belangriker as enigiets in die wêreld – belangriker, selfs, as die hunkering in sy hart na die ewige lewe. Mag ons dan nie ryk wees nie? Mag ons nie “skatte” bymekaar maak nie? God stel aardse goed tot ons beskikking om te kan geniet, ook in belang van Sy koninkryk. Dit is egter wanneer aardse skatte ons beheersugtig, hebsugtig en grypsugtig maak, dat dit ‘n probleem word. Die fokus skuif na aardse goed en God se koninkryk word uit die oog en die hart verloor. Woorde “volg My” beteken nie om alles te verkoop en agter Jesus aan te gaan nie, maar om, soos Hy, magteloos en uitgelewer te wees. Om Hom, ongeag tyd en omstandighede, na te volg waarin Hy ons voorloop.


Hier staan die jongman voor Jesus op sy knieë. 'n Belangrike kêrel, welgesteld, volgens die standaarde van sy tyd 'n goeie mens wat al die wette onderhou … maar tog iemand met 'n knaende onrus in hom en 'n verlange na die ewige dinge. Jesus “het hom liefgekry” (Mark. 10:17). Op daardie oomblik het die jongman baie naby aan die koninkryk van God en die ewige lewe gekom. Die jongman het ‘n armlengte van die koninkryk gekom – tot by die groot toets. Jesus ontmasker hom en sny deur al die maskers van aangenaamheid, ordentlikheid, eerbaarheid en godsdienstigheid totdat Hy die mens se hart oopgesny het waar daar nog kwaad lê en prut. Daar was baie dinge in hierdie man se lewe reg, maar op een punt het hy ’n probleem gehad. En die Here wat weet wat die een ding is waar hierdie mens geestelik vashaak, ontmasker hom deur hom juis op hierdie punt voor ’n keuse te stel.


Jesus kyk dwarsdeur die dun vernis van belangrikheid en rykdom en Hy sien ons soekende hart raak. Wanneer Hy met ons praat, beteken dit ons sal moet aanpassings maak. Ons geloofslewe sal nie net meer ‘n verstandskennis wees van God nie maar ‘n geloof wat dóén, want geloof sonder dade is dood (Jak. 2:17). Hoe dóén ons geloof? Eenvoudige taal: Ons gaan kerk toe, ons bestudeer die Bybel en ons bid! Elke keer as ek en jy ons Bybel lees, moet ons bereid wees om wat God vir ons sê, te gehoorsaam. Elke keer wanneer ons bid, moet ons bewus wees dat as God ons gebed beantwoord en Sy wil openbaar, dit onmiddellik sal vereis dat ek en jy ons lewe herinstel, aanpassings maak.


Soos Jesus met hierdie jongman gedoen het, doen Hy vandag nog deur dit so te beskik dat mense juis by ‘n sekere punt in hulle lewe voor ’n keuse gestel word. Dit is dan dat ons moet wys wat leef regtig in ons binneste? Het God regtig al in ons lewe die nommer ÉÉN geword? Is Sy Woord regtig die hoogste norm in my en jou lewe? Elkeen word gelaat met sy of haar eie keuse. Watter aanpassings is ons gewillig om te maak om positief op Jesus te reageer? Waar is God in my en jou lewe?


“Die verlossing in Christus is absoluut gratis, maar die dissipelskap wat dan volg, kan jou lewe kos” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Here, ek het opnuut tot die besef gekom dat niks wat van U af kom, met geld gekoop kan word nie. Die resep vir geluk is nie op geldnote gedruk nie, maar ‘n verhouding met U, o Heer. Daarom stel ek nie my vertroue in die mot-en-roes dinge nie, maar op U wat ewigheidswaarde bied. Dankie Gees van God vir die besef dat geld ‘n kruis kan koop, maar nie ‘n Verlosser nie, ‘n aardse tempel selfs, maar nie die hemel nie, en dít, kan enigeen bekostig! Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page