top of page

Gedagte vir Vandag

  • 2 days ago
  • 4 min read

Vrydag, 21 Augustus 2026

Koos Espach


Verpligtinge teenoor die owerhede (5)

 

Die eis van goeie Christenskap

 

Rom. 13:6-7 – “Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. 7Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.” (1).

 

Matt. 22:21-22 – “Jesus sê vir hulle: ‘Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.’ 22Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.”

 

Die betaal van belasting is vir baie mense ‘n sensitiewe, selfs pynlike saak. Maar, ons is ongelukkig gebind daartoe. Ons Christene leef in ‘n demokratiese staatsbestel en moet ons verantwoordelikhede as landsburgers nakom. Ons roeping lê dus nie in die vermyding van die politiek nie, maar in die heiliging daarvan. Ons moet ook op hierdie gebied ‘n waardige getuie van Christus bly, al is dit hoé moeilik.

 

Ons lees ondermeer in artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: “Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel het. Dit is immers Sy wil dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie, en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, ‘sodat ons in alle godsvrug en eerbaarheid 'n rustige en stil lewe kan lei” (1 Tim. 2:2). 

 

Met dit in gedagte is dit nou belangrik om te onthou dat die aard van die regering as instelling van God, ook besliste grense aan hulle stel. In dié opsig staan die owerheid in die diens van God en is dit nie die doel om op sigself te maak soos hy wil nie. Dit beteken dat die owerheid in sy beleid aan God se norme gebind is en ongelukkig sit ons met ‘n regering wat nie sy funksie vervul nie, dit trouens geheel en al misbruik. Dit is ontstellend om te weet dat meeste van die owerheid van Suid-Afrika nie die gesag van God en Sy woord erken nie, of immers dit laat blyk dat hulle dit nie erken nie. God sal hulle egter daaraan hou en daarna oordeel, dit is nie ons verantwoordelikheid om God se werk te wil oorneem nie!

 

Ook Jesus was by geleentheid deur die Fariseërs gekonfronteer met die vraag of dit geoorloof is om aan die Romeinse keiser belasting te betaal. Sy antwoord was bevestigend alhoewel die eer steeds God toekom. Betaal dus aan die owerheid wat hom toekom, maar aan God is ons groter gehoorsaamheid verskuldig. Ons moet vir die “keiser gee wat aan die keiser behoort.” Nét dit wat hom toekom: geld, gebede en verantwoordelikheid as kind van God. Die “keiser” se beeld is slegs op geld, daarom kan hy ‘n stukkie hiervan, by wyse van belasting, van ons af terugkry. Ons is egter van kop tot tone na die beeld van God geskape, daarom is God geregtig op ons hele mens! “Vrees God, eer die ‘keiser" (1 Pet. 2:17b).

 

Belastinggeld is tog eintlik God se geld – alles behoort immers aan Hom. Ek en jy moenie sélf bepaal of dit die owerheid toekom of nie. Ons moet ook nie met belastingvorms knoei en sélf besluit wat die owerheid “behoort te ontvang” en wat nie. Laat die oordeel aan die Here oor. Ons is beelddraers van God en moet ander inspireer, nie net met woorde nie, maar met dit wat ons in Jesus Christus is! Een voordeel van ons regering, hulle hou ons op ons knieë! Elke las van my en jou word ligter wanneer ons daarmee voor God neerkniel. Éérs God, dan die “keiser.”

 

Kom ons volg Jesus se voorbeeld van belasting betaal. As dissipels van Christus moet ons sigbaar ánders wees as die res van die mensdom. Ons moet mense wees wat daarna streef om tot Gods eer te leef en dankbaar is vir die groot verlossing wat ons as ‘n geskenk van God ontvang het – daarom is ons wetsgehoorsame landsburgers. Ons Christene se grootste stryd is nie teen aardse owerhede nie maar om heilig te leef en anders te wees, te dink, te redeneer, want ons stry vanuit die volkome kruisoorwinning! Ons is immers waardige getuies van Christus!

 

“Laat God en jou eie hart, en nie ander mense se optrede en opinies, jou oortuig wat eerbaar is”

(Samuel Coleridge).

 

Gebed: Here, wanneer ek dink oor wat besig is om van ons land te word, dreig ‘n gevoel van moedeloosheid om my te verslind. Ek ervaar die onreg, die onbekwaamheid van ons regering en mense in leiersposisies van ‘n owerheid wat nie “dienaars is van God en besig is om hulle opdragte uit te voer nie”. Hulle voer hulle opdragte in selfsug, eiebelang, min liefde, geen respek en oneerlikheid uit. Daarom bid ek vir almal in gesagsposisies, vestig in hulle die waardes wat U sal eer. Skep deur U Gees in elkeen iets wat aansteeklik sal werk om hulle standvastig, eerlik en regverdig sal maak, sodat ons aan ons “owerheid kan gee wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.” Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page