top of page

Gedagte vir Vandag

  • 11 minutes ago
  • 4 min read

Woensdag, 26 Augustus 2026

Koos Espach


Liefde is die volle uitvoering van die wet (1)


“Liefde” is al God se wette saamgevat in een woord

 

Rom. 13:8-10 – “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.  9Al die gebooie: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,’ of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.” (1).

 

Paulus verander nou die opdrag van wat ons aan die owerheid skuld, na liefde wat ons Christene mekaar skuld. Die “hele wet van God” (Ou- en Nuwe Testament) bestaan uit ‘n menigte voorskrifte oor wat gedoen en nie gedoen mag word nie. Dit kan ons moedeloos laat. Hoe onthou ons alles, om nie eers te praat van hoe ons alles kan onderhou nie? Maar eintlik is dit heel eenvoudig en kan dit in een woord opgesom word, naamlik die woord: “Liefde.”

 

Om ‘n advertensie vir die goeie boodskap van God se Woord te wil wees en ander mense daardeur aan te trek en God te wil verheerlik, kan ons Christene nie anders as om “niemand iets verskuldig te wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.” Die liefdesrekening is skuld wat ons nóóit sal kan afbetaal nie! Dis ‘n rekening wat ons elke oomblik besig is om af te betaal, maar nie afgehandel kry nie.

 

En ons skuldeisers is die wêreld vol! Dit is elkeen wat my en jou pad daagliks kruis, selfs daardie persoon wat ons grensloos irriteer. Ek en jy is in die skuld om mense lief te hê net soos hulle is, foute en swakhede en al. Met ‘n Christushart moet ons daarvoor ruimte maak, moet ons dat liefde ons hart bestuur want God het my en jou so lief gehad dat Hy sy Seun, Jesus Christus aan die kruis laat sterf het vir ons versoening! Ons moet ook begryp dat God se liefde vir ons nie eers daardie dag begin het toe Jesus gekruisig is nie, maar reeds vóór die grondlegging van die wêreld. Dit is dus logies dat ons mekaar moet liefhê!

 

As dit dan so logies is, hoekom lyk die wêreld soos hy lyk? Hoekom lééf ons nie liefde nie? God sê vir ons deur Paulus: “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.” Daar is nie één gebod in die tweede tafel van die wet wat nie deur naasteliefde vervul word nie. Om “jou naaste lief te hê soos jouself”, is nie moeilik nie, want om jouself lief te hê het jy nie eers ‘n opdrag nodig nie, ons doen dit van nature. Die uitdaging is om my naaste lief te hê met dieselfde intensiteit en ywer waarmee ek myself van nature liefhet.

 

Naasteliefde het in die wêreld, ongelukkig ‘n slegte geskiedenis van ‘n liefdesboodskap. Dit word in die kerk bely, met oorgawe gebid en gesing, maar in die lewe van elke dag word dit ‘n liefdelose praktyk wat uitgeleef word. Christenmans kan byvoorbeeld vra: “Hoe kan ek iemand liefhê wat my vrou of dogter verkrag het?” Anderskleurige Christene kan vra: “Hoe kan ek mense liefhê wat die apartheidsbewind ondersteun het?” Kinders kan vra: “Hoe kan ek misdadigers liefhê wat ons ouers koelbloedig vermoor het?” Soortgelyke voorbeelde is legio! Die Woord van God laat hom egter nie van stryk bring nie en die mens kán nie met God ‘n kompromie aangaan nie. Christus het in die diepste ellende vir die wêreld gesterf – die moeilike eis van naasteliefde blý dus staan!

 

In ons geloofslewe moet ons altyd daarna strewe om ons medemens lief te hê met dieselfde liefde waarmee Jesus ons liefhet. Van hierdie norm kan ons nie wegkom nie. Deur die eeue is daar al baie geskryf en gepraat oor liefde. Daar is vandag miljoene voorstellings en selfs wanvoorstellings van die liefde. Ek het gaan “Google” oor die woord “liefde” en ongeveer 39 miljoen resultate gekry binne 0,36 sekondes. God se liefde is egter meer as voorstellings of lippetaal of selfs googletaal, dit is volkome liefde, ‘n liefde wat meer is as ‘n mooi gesindheid en voornemings. Dit is liefde wat bereid is om onsself prys te gee tot voordeel van ander.

 

Sien ander dat ons leef soos Jesus van ons verwag? Is dit hoe ‘n gelukkige Christen met blydskap in sy hart optree? Wat sê mense as hulle van die erediens en van ons as gemeente wegstap: Is Jesus Christus se liefde daar? Wat sê hulle as hulle van ons Christene se huise af wegstap? Sien die wêreld Jesus se liefde wat by ons ingeënt is? Dis eers wanneer ek en jy ander mense met God se liefde liefhet, dat hulle deel van ons gebedslys word.

 

“In ‘n gesonde  kerk leer elke Christen om vir die ander om te gee. As ons Jesus se opdrag dat ons mekaar moet liefhê ernstig opneem, dra ons ‘n belangrike deel by tot ‘n wenspan” (Charles Spurgeon).

 

Gebed: Dankie Here, vir U koninkryk se wet van die liefde. Dankie dat ek in daardie liefde mag deel. Leer my om my medemens lief te hê met dieselfde liefde waarmee U my liefhet. Laat dit nie by lippetaal bly nie, ek wil dit met die daad bewys. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page