Gedagte vir Vandag
- Aug 14
- 4 min read
Vrydag, 14 Augustus 2026
Koos Espach
Verpligtinge teenoor die owerhede (2)
Bid vir hulle wat die leisels vashou
Rom. 13:1-2 – “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. 2Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry.”
Vergelyk ook 1 Tim. 2:1-2 – “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.”
Ons het Woensdag gesien dat respek vir mense in gesagsposisies, nie ‘n opsie vir ons gelowiges is nie, maar ‘n vereiste. Ons het ook beklemtoon dat ons nie met alles hoef saam te stem wat hulle doen of sê nie, maar nogtans hulle respekteer. Soos Paulus wat self vervolg is terwyl hy hierdie brief geskryf het, moet ons ook nie soos hy, deur sy emosies en pynlike ervarings laat lei nie, maar deur God. Hy beskou sy onderdrukking vanuit sy geloof in Jesus Christus en die “gesag en beskikking wat van God kom.”
Paulus sê niks oor die vorm van die regering nie, ook nie oor hoe die maghebbers aan bewind gekom het nie. Dit gaan in sy opdrag nie om die wettigheid of die regverdigheid of selfs die Christelikheid van die owerheid nie, maar onderwerping aan God. Ons onderwerping is dus nie aan die dag se politiek of die verkose owerheid nie, allermins, dit gaan oor Godsdiens, my en jou diens aan God.
Paulus kan nie ’n brief skryf sonder om oor gebed te skryf nie. Hy glo te veel en het al te veel die krag van gebed ervaar om dit maar net te laat verbygaan. Daarom die opdrag in sy brief aan die jong Timoteus: “1Die eerste ding wat ek vra, is dat julle vir almal moet bid. Vra dat God almal moet help met wat hulle nodig het en sê vir God dankie daarvoor. 2Dit maak nie saak of dit die belangrikste persoon in die regering is en of dit sommer ‘n gewone polisieman is nie, bid vir elkeen wat moet sorg dat alles goed gaan in die gemeenskap. Julle sal die vrugte daarvan pluk, want julle sal dan in rus en vrede julle gang kan gaan en kan leef soos God wil hê julle moet leef” (1 Tim. 2:1-2 – Die Boodskap).
Prakties beteken dit dat ons vir mense in gesagsposisies moet bid, eerder as om heeltyd te sit en foutvind en vir almal te vertel hoeveel beter die ou dae was. Al stem ons gelowiges nie saam in wat hulle doen of sê nie, moet ons die Here vra om hulle die wysheid te gee om goeie besluite te neem en regverdigheid aan die dag te lê. Buitendien, ons leef nie meer in die “ou-dae” nie. Paulus het destyds reeds geweet dat ons gebede vir die owerheid van vandag, vir ons ook voordele sal inhou, gebede wat sal bydra “sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God.” Ons moet veral bid dat die owerheid wet en orde sal handhaaf want ons land het ‘n ontsaglike behoefte daaraan.
Neem Jesus as voorbeeld, Sy gebede tot die Vader het alle mense ingesluit en was nooit eensydig, selfgesentreerd of selektief nie. Sy gebede was vir alle mense, want “God het die wêreld so liefgehad ...” (Joh. 3:16). Dit beteken dat ons selfs vir hulle in gesagsposisies van wie ons nie hou nie, sal bid. Net soos liefde oor haat geseëvier het op Golgota, so sal ons liefdevolle gebede die Bose oorwin wat so hoogty vier, nie net in ons land nie, maar die wêreld.
Paulus sê vandag vir ons dat ons moet intree vir die land se regeerders en die mense wat die vrede bewaar. Ons weet immers hoeveel gebed hulle nodig het. Hulle self weet nie regtig hoeveel krag en wysheid hulle nodig het nie! Sommige van hulle is nie eens kinders van die Here nie, maar vir hulle moet ons éérs bid! Hulle het elke stukkie gebed nodig, veral omdat hulle nie eens weet dat hulle gebed nodig het nie.
God hoor en wil graag doen. Hy soek plekke om pleisters te plak, te troos en wysheid te bring. Hy wil graag Sy lig laat skyn waar mense in donkerte sit, veral in ons land waar ons tans nie “’n rustige en stil lewe lei nie.” Dit is nou ’n goeie tyd om op ons knieë neer te sak en veral te bid dat die owerheid wet en orde sal handhaaf. As meer gelowiges begin bid dat God ook deur die staat sal sorg dat ons almal veilig kan woon en werk, dan kan ons glo dat daar ook meer orde sal begin heers. Doen dit nou, net daar waar jy is.
“Ek het altyd gesê: ‘Ek hoop dinge verander,’ totdat ek geleer het die sekerste manier waarop dinge sal verander, is as ek God daarvoor vra en Hy wil” (Jim Rohne).
Gebed: Hemel Vader, ek bid dat ons gelowiges se gebede vir die owerheid vermenigvuldig sal word sodat hulle werklik kan wees wat hulle moet wees: U dienaars ten behoewe van elke Suid-Afrikaner. Skenk hulle die nodige lewenskrag, wysheid en redelikheid, onderskeidingsvermoë en moed om ware leiers en rolmodelle, uit eerbied vir U, te wees. Amen.
Comments