Gedagte vir Vandag
- Aug 10
- 4 min read
Maandag, 10 Augustus 2026
Koos Espach
Riglyne vir die Christelike lewe (24)
Jesus se “goue reël” = liefde in aksie
Rom. 12:21 – “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
Vergelyk ook Matt. 7:12 – “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”
Ons het reeds genoem dat Paulus se uitsprake in Romeine 12:9-21 beskryf kan word as sy “bergrede.” Hy sê ons Christene moet ook in liefde leef. Liefde, die woord wat God se wese beskryf (1 Joh. 4:7-21). Jesus is die toonbeeld van God se liefde, en deur Sy optrede, sien ons wat liefde werklik is. God het by die kruis kom wys wat liefde is. Hy het sy Seun se lewe daar weggegee sodat ons ‘n nuwe kans kan kry, ‘n kans om daardie liefde te leef.
Die Bybelse en kerkgeskiedenis is tot in die hede, vol voorbeelde van konflik, onvrede en selfs gewelddadigheid tussen Christene. Dit behoort nie so te wees nie, want ons behoort aan die Prins van Vrede. Jesus Christus is ons Vrede daarom moet ons die “kwaad oorwin deur die goeie.” Ons mag nooit aanvaar dat die kwaad van liefdeloosheid, onverdraagsaamheid, wraak, onvergewingsgesindheid, of watter sonde ook al, plek maak in ons harte nie. Dit veroorsaak later wonde in die hart en indien dit nie behandel word nie, raak dit ongeneeslik.
Dit maak ook dat ons nie kan leef soos ons wil nie. Ons het mos ‘n keuse gemaak om getrou te bly aan God se wens om liefdevol op te tree. Liefde is iets konkreet, dit is nie ‘n vlietende emosie nie. Liefde word gedoen en elke dag geleef. Hoe doen ons dit? “Hoe oorwin ons die kwaad deur die goeie?” Jesus het amper aan die einde van Sy bekende Bergpreek die “Everest van álle etiese leringe”, geuiter: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.” Dit is asof Jesus wil sê: “Voortvloeiend uit al die voorafgaande uitsprake wat Ek julle nou hier op die berg geleer het, (Matt. 5 tot 7), het julle as My dissipels nie ‘n ander keuse as om dié liefde op presies hiérdie wyse in die koninkryk van God tot uitdrukking te laat kom nie.”
Wat meer is, alhoewel hierdie spreuk uit die mond van Jesus kom, en in die Bybel opgeteken is, dit nie alleen Christene is wat hierdie spreuk gebruik nie. Ons hoor dit soms ook uit die mond van ongelowiges, nie-Christene. “Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen”, staan bekend as die “Goue Reël van Jesus.” Dit is maar net één manier om die “kwaad te oorwin deur die goeie.” Dit kan egter nie uit konteks gebruik word nie. Dit kan nie ‘n los gesegde wees wat ons kan gebruik wanneer ons dit nodig het nie. Dit geld vir álle tye in álle omstandighede, of glad nie.
Jesus koppel hierdie grondbeginsel aan al Sy vorige uitsprake of opdragte! Met ander woorde, as ek en jy daarvan hou om sagmoedig behandel te word, behandel ander sagmoedig; as ons daarvan hou dat ander in vrede met ons moet leef, leef in vrede met hulle; as ons daarvan hou dat ander ons met respek behandel, behandel hulle met respek; ons Vader oordeel niemand vals nie, daarom moet ons ook nie ander vals oordeel nie. En so kan ons aanhou aanhaal vanaf al die Bybelse opdragte want “dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”
Wat Jesus dus vra is dat ons hierdie “goue reël” moet volg in geloof. Dit beteken natuurlik nie dat hierdie “goue reël” die mens in die norm plaas om aan ander te doen wat vir jou lekker is nie. Die norm is soos wat Jesus dit uitspreek en nie wat vir ons goed lyk nie, maar wat God van ons vereis. Trouens, as die volle reikwydte van hierdie uitspraak van Jesus reg verstaan word, is dit nie ‘n gemaklike ou reëltjie wat sommer so maklik in sekere omstandighede op die tong geneem kan word nie.
Wat, kan ons dan vra, maak Jesus se uitspraak in Matteus 7:12 dan so spesiaal? Hier is iets baie duidelik wat die Here wil hê dat ons moet doen. Paulus eggo dit deur te beklemtoon: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” God vra ons in sy Woord ons moet mekaar aanvaar, verdra, vergewe, respekteer, reghelp, troos, moed inpraat, en dan die een wat die meeste kere voorkom: “Julle moet mekaar liefhê.” Nêrens klink dit net soos ’n versoek nie. Nêrens sê dit: Net as jy daarna voel of as die ander een dit verdien, of as die ander een dit vir jou terugdoen nie. Oral sê dit: julle moet …! Dit is God se opdrag.
God wil hê dat ons as koninkrykskinders, in liefde met Hom en met mekaar, moet leef. Dit is nie sommer maar net Paulus se “Riglyne vir die Christelike lewe” in Romeine 12:9-21 nie. Dit is ook nie ‘n goeie sessie “life coaching” in sosiale vaardighede nie. God wil die lewe mooi en leefbaar maak. Ignoreer dit en verhoudings versuur, koppe sal stamp en bitterheid, negatiwiteit, rusies en onmin sal intree. Die “Goue Reël” moet ons leefwyse word en dit is moontlik indien ons die Heilige Gees toelaat om dit in ons lewens te bewerkstellig. Dít is hoe ‘n Christen is, lyk en optree!
“Die toets vir dissipelskap lê nie in mooi woorde, vroom belydenisse en grootse toewyding nie, maar in elkedagse doen van die regte dinge” (Ds. Johan Smit).
Gebed: Here, ek wil ‘n toegewyde dissipel wees in ons Vader se koninkryk deur U “goue reël” daagliks te leef. Gee my ‘n fyn aanvoeling sodat ek in elke omstandigheid sal kan onderskei wat die regte ding is om te sê en te doen, “die kwaad te oorwin deur die goeie.” Amen.
Comments