Gedagte vir Vandag
- Aug 12
- 3 min read
Woensdag, 12 Augustus 2026
Koos Espach
Verpligtinge teenoor die owerhede (1)
God bly in beheer
Rom. 13:1 – “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.”
My reaksie toe ek hierdie eerste vers van Romeine 13 begin lees, was een van onmiddellike teenkanting. Daar is nie ‘n maniér wat ek hierdie opdrag van Paulus kan uitvoer nie. Miskien is dit beter om hierdie teks oor te slaan! Kyk ons na die owerheid in hierdie land, sien ons hoe hulle God onteer en misken en kennelik toelaat dat wetteloosheid hand oor hand toeneem. Vir baie jare was daar ‘n regering aan bewind wat homself openlik aan die kant van die Christendom geskaar het. Vir die laaste 32 jaar het ons ‘n nuwe regering wat ‘n na-Christelike sekulêre orde gekies het waar alle godsdienste gelyk beregtig word.
Dis moeilik om só ‘n owerheid te gehoorsaam. Dis moeilik vir ons Christene om saam met Paulus in Romeine 13 te sê dat die staat God se instrument hier op aarde is, dat die “owerhede wat daar is, deur die beskikking van God is.” Met respek gesê, iewers het die CV’s daar in die hemel lelik deurmekaar geraak toe hierdie aanstellings van gesag gedoen is. Miskien is die aanstellings dalk nie volgens “die beskikking van God nie.”
Ons is moeg vir ons swak regering, moeg vir korrupsie, moeg vir hulle selfverryking, moeg vir geweld, moeg vir misdaad, moeg vir opstande en beskadiging van eiendom as gevolg van swak dienslewering, moeg vir stukkende paaie en infrastruktuur wat inmekaar stort, swak mediese sorg en sukkelende hospitale, geen armes versorging, en ... en ... en, noem maar op, die lys is nimmereindigend. Ons land grens aan gemors-status – moeg is eintlik ‘n “understatement!”
Ek is jammer, ek kán myself nie “onderwerp aan hierdie owerheid wat oor my gestel is” nie. Wie is in die huidige Suid-Afrika daartoe in staat, watter regdenkende mens kan homself onderwerp aan hierdie korrupte regering? Ek glo selfs julle lesers wat nie meer in S.A. woon nie, sal saam met my stem, of liewer, saam met almal wat hierdie redenasie uiter en eintlik teen die gesag wil verset, eerder as om “hom te onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is.” Wat nou Paulus? Wat nou gemaak met Romeine 13?
Kom ons erken dit maar: Romeine 13 sal altyd geldig bly! Voor ons egter verder negatief en opstandig raak, wat wil Paulus vir ons sê? Hy skryf hierdie brief aan ‘n Christen-gemeente in Rome. Hy verwys na die nie-demokratiese heidense Romeinse owerheid wat menseregte misken het; Jesus is deur hierdie owerheid gekruisig; slawerny het bestaan; Christene is later vervolg; hulle was die onregmatige besetters van die Jode se land; Paulus was self ook meermale ‘n slagoffer van hulle magsmisbruik en hulle sou later selfs hom ter dood veroordeel en om die lewe bring. Nogtans gee hy die opdrag: “Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is.”
Was daar al ooit ‘n regering wat net goed was? Hierdie verskynsel is nie net vir die huidige of vir Suid-Afrika nie. Daar was nog altyd swak regerings, swak leierskap wat die afgelope “nege verspilde jare” in Suid-Afrika, na kinderspeletjies laat lyk. Ons moet ook onthou, dit is God wat deur Paulus vir ons die opdrag gee “om ons te onderwerp want daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.” Dit is nie ‘n menslike instelling wat ons teen wil en dank maar moet aanvaar nie. Dit is nie omdat die “kiesers gepraat” het nie, dit is God wat gepraat het!
Al stem ons Christene om goeie redes nie met die owerheid saam nie, mag ons die gesag van die owerheid nie ondermyn nie. Alleen wanneer die owerheid dit van ons Christene verwag om ons geloof te verloën, mag ons weier om aan sodanige eise gehoorsaam te wees. God se gesag bly steeds vir my en jou, die hoogste gesag. Hy bly in beheer! Ons buig net voor Hom!
“’n Regering wat die Christelike geloof misken, is nie meer gevaarlik as een wat hulleself Christelik noem, maar die beginsels van die Christelike geloof volledig misken wanneer dit by politieke en sosiale beleid kom”
(Mark Rutherford).
Gebed: Ewige regverdige Vader, dankie vir die voorreg om vir almal te bid wat in gesagsposisies aangestel is. Dit is só maklik om hulle eerder te kritiseer, daarom vra ek dat U my die integriteit sal skenk om objektief oor hulle te bly, ten spyte van hulle swakhede. Amen.
Comments