top of page

Gedagte vir Vandag

  • Aug 7
  • 4 min read

Vrydag, 7 Augustus 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (23)


Liefde wen altyd die kwaad

 

Rom. 12:21 – “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

 

Paulus sluit Romeine 12 op ‘n aangrypende wyse af in vers 21. In ‘n sekere sin vat hy ook al die riglyne saam wat hy vanaf vers 17 bespreek het, en beklemtoon dat ons Christene oorwinnaars is. Ons is oorwinnaars oor die kwaad wat óns kan oorwin, indien ons die kwaad nie vertroetel nie. In die kompetisie tussen goed en kwaad, wat die ganse geskiedenis van die mensdom al oorheers, ís ons Christene oorwinnaars teenoor die kwaad. Hoekom? Waarheid is: God het nog elke keer gewen wanneer die Bose, God se gesag uitgedaag het. Sy grootste oorwinning staan vandag nog daar by Golgota se houtkruis opgeteken! Jesus is die sigbare triomf van God se liefde teenoor haat, dood, duisternis – Jesus is lewe, ewige lewe!

 

Van nature is ons geneig om in verdeeldheid en konflik te leef. Ons stryd is om eie belang na te jaag met die gevolg dat liefdeloosheid en selfsug ons baie na aan die hart lê. Geestelik gesproke is ons verstand ons weerloosste orgaan, daarom kan ons ons gedagtes maklik vol gemors “pomp.” Hoe verslaan ons daardie slegte gedagtes? Paulus sê ons moet aan iets beters dink – dis die beginsel van vervanging. Ons verslaan die bose met goeie gedagtes. Ons “oorwin die kwaad deur die goeie.”

 

Satan kan dan nie ons aandag trek en ons koppe swaai met slegte dinge nie. Dis waarom die Bybel ons gedurig herinner om ons gedagtes gefokus te hou “en noukeurig te let op Jesus” (Heb. 3:1). Paulus sluit aan en sê vir ons: “Verder, broers (en susters), alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook al mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig” (Fil. 4:8). 

 

Die verstandigste man wat ooit geleef het, Salomo, het gewaarsku: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” (Spr. 4:23). Dit sal soms beteken dat ons van aanloklike situasies moet wegstap of selfs weghardloop; groepe vermy waar geskinder word; die televisie afskakel wanneer onwelvoeglike programme wys en wanneer God se Naam ydellik gebruik word; plekke en mense vermy waar Jesus nie welkom is nie. “Neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak” (2 Kor. 10:5). Dit klink maklik, maar dit is nie. Met die Heilige Gees se hulp kan ons egter ons denkwyse herprogrammeer.

 

Doen iets anders en moenie toelaat dat negatiewe invloede ons gedagtes verydel nie. Omdat God heilig is, verwag Hy dat ons ook heilig moet wees. Dit is ‘n opdrag: “Gee jouself aan God as ‘n heilige offer.” (Rom. 12:1). Ons is ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie. Ons is anders, daarom moet ons dit gaan wys. Ons denke is anders want ons laat die Gees toe om die negatiewe denkpatrone te verander en “(ons) gedagtes op die dinge wat daarbo is, rig.” (Kol. 3:2). Ons denke begin dan ons gedrag bepaal. Wanneer ons gedagtes gevul is met Jesus Christus, begin ons op die pad van geestelike vryheid loop.

 

Hoe vul ek en jy ons denke met Jesus? Deur ons gedagtes in gebed vir Christus te gee elke oggend wanneer ons opstaan, deur die dag saam met Hom vertoef en saans weer gaan slaap. Deur die dag weet ons waar om dan hulp te kry want die Gees is by ons. Hy ‘skakel ons gedagtes se liggie aan’ sodat ons die sondes kan raaksien en nie oor die verkeerde klippe struikel nie.

 

Dit is natuurlik nie altyd maklik om nie oor “verkeerde klippe” te struikel nie. Ons sukkel byvoorbeeld om vrede te maak – om “die kwaad deur die goeie te laat oorwin.” Miskien is dit omdat dit so deel van ons lewens is om eerder terug te betaal, of ons voel dat dit eerder die ander persoon se plig is om te kom regmaak. Sommige mense maak ook nie maklik vrede nie, omdat die een wat vrede maak, dikwels as ‘n swakkeling deur die wêreld beskou word. Juis daarom vra dit soveel opoffering om vrede te maak, vra dit iets van ons as God se kinders.

 

God sê vandag vir ons deur Paulus: “Die kwaad kán oorwin word deur die goeie!” Die “wapens” van die goeie … is die liefde. Liefde maak dat ek en jy onsself so bietjie vergeet. Ons skuif die koninkrykie waaraan ons so hard hier op aarde gebou het, opsy en maak plek vir God en ons naaste. Liefde maak dat ons ons haat en wraak wegpak en dit aan die Here oorlaat. Hy sal immers sorg dat die onregverdiges behoorlik gestraf word. My en jou plig is om nie toe te laat dat die kwaad ons oorwin nie. Die wagwoord vir my en jou is … liefde. “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Loof die Here vir elke klein oorwinning in sy Naam!

 

“Moet nooit met die duiwel redekawel nie. Hy doen dit beter as jy, want hy het al duisende jare se oefening en ondervinding” (Rick Warren).

 

Gebed: Hemelse Vader, neem asseblief elke gedagte van my gevange sodat dit in lyn is met U wil. Gee dat ek my gedagtes sal vol maak met die dinge wat by ‘n kind van U pas: met liefde, vrede en vreugde, alles wat eerbaar is, regverdig en mooi. Dankie vir elke oorwinning oor die kwaad, in u Naam! Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page