Gedagte vir Vandag
- Aug 5
- 3 min read
Woensdag, 5 Augustus 2026
Koos Espach
Riglyne vir die Christelike lewe (22)
Doen goed aan diegene wat jou lewe verwoes
Rom. 12:20 – “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”
Raak Paulus nie nou ‘n bietjie erg nie? Maandag het hy ons opdrag gegee om nie wraak te neem nie, en nou wil hy op die koop toe hê ons moet ons vyande versorg as hulle honger of dors is! Dit druis hééltemal in teen ons normale lewensbenadering. Ons kan miskien nog sover kom om nie weerwraak te neem nie, maar menslik gesproke is dit onmoontlik om persoonlike kontak met ons vyande te gaan maak. “Daar is nie ‘n manier dat ek my goeie tyd, gawes en geld aan hulle gaan bestee nie!” Maar, dis God se Woord. Paulus praat deur God met ons: “Mag ek jou herinner: “Jesus het vir jou gesterf toe jy nog sy vyand was” (Rom. 5:10); “... en sy Gees woon nou in jou” (Rom. 8:9). Jy gaan self dit nooit alleen regkry nie maar die Gees gaan jou verander om selfs vir diegene om te gee met wie jy hoegenaamd nie oor die weg kom nie.”
Paulus gaan voort: “Kan ek jou ook herinner aan die feit dat terwyl Jesus aan die kruis gehang het en te midde van die ontsettendste pyn en skok, nie aan Homself gedink het nie, maar aan die moordenaar langs Hom, aan Pilatus wat Hom laat ly het en oorgelewer het om gekruisig te word, dié wat Hom gespot, op hom gespuug en geslaan het, die soldate wat Hom tereggestel het, en kon sê: ‘Vader vergeef hulle ...!”
Dít was die wonder van Jesus se kruisliefde. Dit is die evangelie van liefde: Baie mense met wie die mees traumatiese dinge gebeur het, byvoorbeeld: geliefdes vermoor is; kinders of vrouens verkrag is; mense wie se eie waardes vernietig is – diegene wat ‘n bloedspoor deur hulle lewens gelaat het, tog kan vergewe. Hulle kon selfs verder gaan en hierdie “vyande” liefhê! Baie van hulle se getuienis nádat die traumatiese insident gebeur het, is soos ‘n refrein: “Dit was nie ek nie, God het dit laat gebeur!” Aangrypend!
Die moeilikste groep mense wat God oor ons lewenspad stuur om met sy liefde te omvou, is diegene met wie ons nie oor die weg kom nie. En dit is geen maklike taak nie. Ons kry dit selfs nie eens elke dag reg om met ons vriende en dierbares oor die weg te kom nie, wat nog te sê ons vyande. En tog is God doodernstig as Hy verwag ons moet “ons vyand wat honger is, iets gee om te eet; as hy dors is, hom iets gee om te drink” – daardie ekstra myl agter hom of haar aanstap.
Jesus Christus weet dat ons van nature geneig is om ons geweldige woede toe te laat, om ‘n spreekwoordelike muur om ons te bou. Dan kom Hy nou met ‘n troefkaart hoe ons wat deur die Heilige Gees beheer word, moet optree. Hy het Sélf vir sy vyande, aan die kruis gesterf met ‘n gebed van vergifnis vir hulle wat Hom nie liefgehad het nie. As Sy nuutgemaakte kinders dink en tree ons met ‘n ander gesindheid op teenoor ander. Ons herken die vyand (satan) se leuens en tree met onderskeidingsvermoë daarteenoor op. Ons bly standvastig as kinders van God ten spyte van fisiese of sielkundige mishandeling deur ons aardse vyande. Ons bid selfs vir hulle dat hulle dieselfde vreugde, vrede en liefde van God sal ken en ervaar as ons.
Die Here vra van ons om ons liefde heel konkreet aan ons vyande te bewys. Maar hoe doen ons dit? Dit is nie genoeg om net vir hulle te bid nie. Ons moet ‘n stappie verder gaan. Wanneer hulle “honger is, moet ons hulle iets te ete gee, en wanneer hulle dors is, iets gee om te drink.” Dan verander alles, want vyande wat iets te ete en te drinke kry, in plaas van beledigings en vuishoue, kan mos nie meer vir ons kwaad bly nie. En ons ook nie vir hulle nie.
“Ons moet daagliks streef om ter wille van ander, ‘n mens te wees omdat ons ter wille van God, ‘n mens is!” (Johan Smit).
Gebed: Here, U opdrag om vir my vyande lief te wees is vir my as sondaarmens onmoontlik? Dankie dat U deur U Gees my nuut maak. Nou kan ek ook ‘n instrument van U liefde wees en soos een van U kinders optree. Ek kan lewe as ‘n nuwe mens wat na die beeld van U geskep is (Ef. 4:24). Leer my om in ander mense se rigting te begin stap met arms vol liefde. Amen.
Comments