top of page

Gedagte vir Vandag

  • 6 days ago
  • 4 min read

Maandag, 17 Augustus 2026

Koos Espach


Verpligtinge teenoor die owerhede (3)

 

Reg en geregtigheid

 

Rom. 13:3-4a – “’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, 4want die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil.”

 

Samevattend, het ons gesien dat ons gelowiges aan die owerheid gehoorsaam moet wees omdat hulle deur God aangestel is. Die feit dat die owerheid sy gesag van God ontvang het en “God se dienaar is tot ons beswil,” bring mee dat ons Christene die owerheid nie bloot gehoorsaam omdat ons bang is dat ons gestraf sal word nie, maar ook omdat ons God eer.

 

God het ons menslike samelewing nie aan homself oorgelaat nie, maar ‘n owerheidsmag daar gestel om die kwaad teen te staan en die goeie aan te moedig. Die owerheid behoort dan ook as onpartydige instansie, die slegte dade te vergeld met straf en só die regsorde van God handhaaf. In die straf wat deur die owerheid uitgeoefen word, dien hy die oordeel van God oor die sonde terwyl hy binne die ordening van God moet bly. Maar slaag die owerheid altyd daarin? Hoe gemaak as die owerheid so korrup is soos ons nou al geleer het? Selfs diegene wat wet en orde moet handhaaf, blyk die meeste korrup te wees!

 

Onlangs het ‘n uiters insiggewende berig deur Robyn Wolfson-Vorster en Talia-Jade Magnes verskyn wat ‘n skokkende scenario beskryf, ‘n scenario wat wys dat misdadigers nié bang is vir die owerheid nie. Statistiek is in ons Parlement bekend gemaak dat kinders by minstens 41% van alle aangemelde verkragtingsake oor die afgelope paar jaar betrokke was. In dieselfde periode is 2 600 kinders vermoor. Duisende babas word dwarsdeur Suid-Afrika eenvoudig ‘weggegooi’, en die skuldiges blyk skotvry daarvan af te kom.

 

Wat ‘n mens egter figuurlik soos ‘n hamerhou tussen die oë tref, is die kort verslae oor die omstandighede van kinders wat deur Kinderbeskerming-aktiviste ondersoek word en deur die Daily Maverick gepubliseer is. Hier is ‘n paar voorbeelde. Die name is verander, maar die omstandighede is eg:

 

·        Ek is Patricia. Ek was drie toe ek oorlede is. Die mishandeling het begin toe my stiefpa by my ma ingetrek het. Hy het my in my maag geskop. Hy het my teen die mure gestamp wanneer hy kwaad word. My ma het my uit die slaapkamer gegooi toe ek my bed natgemaak het. Ek het op iets hard geval. Al het ander mense geweet, het hulle niks gedoen nie.

 

·        Ek is Tumelo. Ek is drie maande oud. Ek het nooit my ma geken nie. Sy het my in ‘n plastieksak gesit en op ‘n vullishoop gelos net na ek gebore is. Ek is weggegooi. Ek was honger, koud, en bang vir die rotte. Ek was ook bang vir die hond wat my gevind het. Ek is sedertdien in die hospitaal. Die dokters kon my tone en vingers red en die grootste deel van my neus. ‘n Verpleegster het my ‘n naam gegee. Ek hoop iemand sal my liefhê.

 

·        Ek het geen naam nie, en het sonder een op my geboortedag gesterf. Ek is baba 12599. Ek wonder hoe sou ek vandag gelyk het. Ek is op die vloer van ‘n toilet gebore. My ma was bang toe sy my hoor huil. Sy het gedink die pille wat sy my gevoer het, sou my laat sterf. Maar ek het baklei om te lewe. Sy het my in ‘n putlatrine gegooi. Ek het in die gemors verdrink. Ek is nou in ‘n ongemerkte graf met nog 15 ander lykies.

 

Tragies maar ongelukkig waar! ’n Mens wil teen die dak uitskree. Nee, ’n mens wil eintlik baie hoër skree en vra: “Hoekom Here? Hoe bring ons die owerheid tot besef hulle is dienaars van God tot ons beswil?” En dan, uiteindelik, kom staan ’n mens stil by die vraag: “Here, hoor U nog? Here, wat moet ons doen?” Dit blyk dat misdadigers nie bang is vir die owerheid nie en maak soos hulle wil. Miskien is dit omdat die owerheid hulle plig versuim of dalk nie die kennis of wil het om hulle plig na te kom nie!

 

Met die klomp vrae in my, besluit ek die beste antwoord is: Ons glo nog steeds. Ons moet die Here 100% vertrou. Ons hoop moet in God wees en nie in aardse dinge of mense nie. Ons lewe nog en die son skyn en ons kinders en kleinkinders aanbid Hom. Wat die politiek en ekonomie aanbetref, wel, ek is ‘n realis ... dis in sy kas in! Antwoorde moet ons elkeen by ons Vader kry. Sommige vrae gaan dalk onbeantwoord bly, maar wat ek wel glo, is dat ons moet bly hoop en vertrou dat die owerhede ook ons Vader sal aanbid! Wat glo jy?

 

“Reg is reg, al sê baie dis verkeerd. En verkeerd is verkeerd, al doen baie dit” (William Penn).

 

Gebed: Here, wat die regering doen, maak nie altyd vir my sin nie. Help my om my hoop in U te vestig en te vertrou dat U nuwe deure met hulle sal oopmaak. Lei my om U stem te hoor as ek nie antwoorde het nie. In Jesus se Naam. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page