top of page

Gedagte vir Vandag

  • 4 days ago
  • 3 min read

Woensdag, 19 Augustus 2026

Koos Espach


Verpligtinge teenoor die owerhede (4)

 

Burgerlike ongehoorsaamheid

 

Rom. 13:4b-5 – “Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat Hy die kwaaddoener moet straf. 5Daarom moet jy jou onderwerp, nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit ‘n gewetensaak is.”

 

Alle mag in hemel en op aarde behoort aan God! Daarom, owerhede is dienaars van God, gelowig én ongelowig. Of hulle dit almal erken of nie, hulle gaan aan die Here verantwoording moet doen as mense maar ook in hulle ampstake. As hulle dus ook “kwaad doen, het hulle ook rede om bang te wees” om gestraf te word. Miskien nie deur die bestaande owerheid nie want die meeste van hulle is ook korrup, maar wel wanneer hulle voor God se Regterstoel verskyn.

 

Dr. Peter Hammond skryf die volgende: “By feitlik elke sosiale geleentheid word Suid-Afrikaners gevind wat stories uitruil – stories oor hoe die lang tentakels van korrupsie en misdaad hulle beetgekry het of hoe hul geliefdes getraumatiseer is weens een of ander misdaadsituasie. Misdaad is ‘n werklikheid wat elkeen van ons affekteer. Reg het verkeerd geword en verkeerd word deesdae as reg beskou!” Dit is asof die onregverdiges wegkom met alles wat verkeerd is!

 

Alle vorme van gesag waaraan ons as Christene onderwerp word val onder die vyfde gebod: “Eer jou vader en moeder ...” (Eks. 20:12). God se Koningsgesag word in ons medemenslike verhoudinge uitgeoefen in die verskillende gesagstrukture waaraan ons elke dag onderdanig moet wees. Die skool, plaaslike owerheid, regering, verkeersowerheid en die kerk is almal strukture waarbinne die mens volgens ‘n voorgestelde orde moet optree. Ongehoorsaamheid aan daardie gesag beteken ook ongehoorsaamheid aan God.

 

Paulus is baie duidelik daaroor dat “die kwaaddoener aan die pen sal ry want die owerheid het die reg om die kwaaddoener te straf.” Hulle is dus opgeroep om God se geregtigheid te laat geskied. Die hoofpligte en verantwoordelikhede van enige regering is die beskerming van wetsgehoorsame burgers en die straf van kriminele wat die wet verbreek.

 

Wel, dit is duidelik dat die wanorde, misdaad en algemene losbandigheid in Suid-Afrika en eintlik wêreldwyd, afmetings aangeneem het wat die afleiding regverdig dat die owerhede nie hulle pligte nakom nie. Van ‘n rustige en stil lewe is daar kwalik sprake in ons land. Hierdie owerheid is kennelik nie in staat om sy opdrag uit te voer nie.

 

Paulus voeg ook by dat onderdanigheid aan die owerhede moet in die eerste plek wees ter wille van ‘n skoon gewete voor God en nie uit vrees om gestraf te word nie. En hier moet ek my kop in skaamte laat sak. Daar is baie Christene in ons eie landjie wie se gewetens nie op diens is nie. Ons kan lekker agteroor sit en kla en baie vingers wys, maar Christene in ons land behoort die mense te wees wat sonder die toesig van ’n uiters swak regering en wette, gehoorsaam te wees, omdat ons aan God verantwoordelik is. Byvoorbeeld: Stop ons by elke stopstraat al is daar nie ‘n verkeersman teenwoordig nie? My opinie is dat ons besig is om ons roeping in hierdie landjie as Christene te versaak. Ons sit maklik agteroor en kla oor ’n gewetenlose regering, maar ons gewetens is ook maar lekker van diens af. 

 

Die klagtes klink so reg: ’n Regering sonder ’n gewete, maar dit is nie waar dit eindig nie. Die belangrikste gesagskring begin by die huisgesin. Die Here het elkeen van ons aangestel om te heers, om te regeer. Ja, dalk nie oor ’n land nie, maar oor ons gesin, binne ons familie- en vriendekring, die deeltjie waar Hy elkeen van ons geplaas het om vir Hom te lewe.  En dan bly die vraag staan: “Het ek en jy nie rede om bang te wees nie?” Is my en jou “regering” nie dalk ook sonder ’n gewete nie? Kom ons vat hande en bid vir aksie!

 

“Christelike morele standaarde oor wat reg en verkeerd is, is nie ‘n stel wette wat verdedig moet word nie; dit is ‘n lewensinsig wat verwerf moet word” (FR Barry).

 

Gebed: Here, ons weet dat verwerping van enige wettige gesag, solank daardie gesag binne die grense wat U gestel het, uitgeoefen word, sonde is. Ons is egter bestem om oor die sonde te heers, om nie verstrik te raak in ons emosies nie want “ons is nie meer slawe van die sonde nie” (Rom. 6:6). Leer ons om “goedgesind en hartlik teenoor mekaar te wees en mekaar vergewe soos God ons vergewe het” (Ef. 4:32). Amen.

 

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page