Gedagte vir Vandag
- 1 day ago
- 4 min read
Maandag, 24 Augustus 2026
Koos Espach
Verpligtinge teenoor die owerhede (6)
Jesus se somme werk anders
Rom. 13:6-7 – “Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. 7Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.” (2).
Vergelyk ook Rom. 6:23 – “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”
In my grootword dae was daar nog nie iets soos graad R op skool nie. Selfs kleuterskole was nie so algemeen nie. Ek onthou daar was op ‘n stadium slegs een in die dorp en net die rykes kon dit bekostig. Ons het geëet, gespeel met maatjies wat nie in die kleuterskool was nie, geëet, weer gespeel – kennetjie, wegkruipertjie, giffie, tol, alies, bok-bok, ‘cowboys en crooks’ – en geslaap. Môre weer dieselfde!
Al wat ek van belasting geweet het, was my ma se aanmerking wanneer my pa elke maand sy salarisstrokie aan haar oorhandig het. Sy het gedink dat ons beter af sou wees indien my pa die belasting wat afgetrek was, as salaris ontvang het in plaas van die ‘tip’ wat sy werkgewers gegee het. En dan onthou ek haar bekommerde sug dat sy nie weet hoe ons daardie maand dit gaan oorleef nie. Ek kan egter nie onthou van een aand wat ons honger gaan slaap het nie. Gelukkig, belasting was grootmens-dinge en húlle bekommernisse. Ons kinders was gesien maar nie gehoor nie.
Dit was dus verskriklik traumaties toe ek as vyf-jarige moes skool toe en van somme gaan leer het. Gelukkig het ek van somme gehou. Seker omdat ons juffrou sulke rooi appels gebruik het om die konsep te verduidelik. Met een rooi appel in die hand, het sy nog een uit die bak gehaal, en gevra: “As ek een appel het en ek vat nog een uit die bak, hoeveel appels het ek dan?” Ek het eerste kliphard uitgeskree: “Twee!” Juffrou het my berispe dat ek eers my hand moet opsteek voor ek antwoord, maar dit het nie my trotse gevoel afgewater nie, omdat ek die antwoord reg gehad het. Later het sy die minus ook verduidelik: “As ek twee appels het en ek vat een weg, hoeveel het ek oor?” Ek het die ander kinders laat antwoord, anders was ek dalk weer in die moeilikheid ...!
Ek het later besef dat die appels met baie dinge vervang kan word. Een sonde plus nog ’n sonde, is gelyk aan twee sondes. En as jy nog een doen, dan is dit drie en so gaan dit aan, totdat jy ’n hoop ontelbare sondes het. Maar die minus werk nie lekker dieselfde nie, want as jy twee sondes het, kan jy nie een aftrek en dan sit jy net met een oor nie. Sonde bly sonde! Die plus werk baie goed en die hopie sondes raak net groter en groter. Verstaan dit mooi: Die mens kan niks doen om reg te maak wat hy verkeerd gedoen het nie. Daar is nie ’n sonde uitveër tot die mens se beskikking nie. Dit is ’n nare storie met ’n nare einde. Daar is ook nooit melding gemaak van hoeveel daarvan vir belasting aan die regering afgestaan moet word nie. Ek het maar aanvaar dit is alles vir my eie rekening.
Selfs nie eens ’n klein sonde minus ’n groot goeie daad, kan die sonde laat verdwyn nie. En ons weet mos dat die gevolg van sonde die dood is – “Die loon wat die sonde gee, is die dood …”. Die resultaat van sonde is dat mense die ewige lewe mis en in die ewige vuur beland. Gelukkig, God het dit geweet. Hy het besef dat ons mense in ’n verlore en benarde situasie sit en dat ons sonde-somme eenvoudig nie kan werk nie. Toe maak die Meester-sommaker nuwe somme, wat nie eintlik vir die mens sin maak nie, want sien, ons somme van een goeie daad wat sonde uitvee, werk nie.
Prakties beteken dit dat die “keiser”, of in my en jou geval, die regering, op ‘n gedeelte van ons aardse geld geregtig is, al is dit ‘n bodemlose put waarin ons swaar verdiende rand na rand, een na die ander in verdwyn. Wat egter swaarder weeg, is dat God op my en jou héle lewe geregtig is, daarom het Hy die Meester-sommaker gestuur en bygevoeg het met “die genadegawe wat God gee, die ewige lewe is in Christus Jesus ons Here.”
Jesus se kruisdood was ons skoon van sondes, “reinig ons van alle ongeregtighede” (1 Joh 1:9b). Die som: ’n Hoop sonde minus Jesus se dood aan die kruis, is gelyk aan sondeloos. Die resultaat: Ons kan die hemelpoorte op ’n draffie inhardloop. Dis so eenvoudig, maar tog op ’n manier te groot om te verstaan. Daarom glo ons net ... maar los ons met iets om oor na te dink: Hoe lyk my en jou sonde-somme? Na alles wat ons gesê het staan die grootste somme-formule vir altyd vas: ‘1 cross + 3 nails = 4 given!’ Wat maak Jesus se somme aan ons? Wat maak ons met Jesus se somme?
“Waar dit gaan om die regverdigmaking van ons sondaars, moet ons heeltemal vergeet van die wet, óf van ons goeie werke, en enkel en alleen op God se genade vertrou. Ons moet ons oë heeltemal wegdraai van onsself af, dit ook nie wiskundig probeer bereken om te verstaan nie, en slegs vir Jesus Christus, ons Here raaksien” (Johannes Calvyn).
Gebed: Vader, ek weet nie altyd lekker hoe U somme werk nie. Dit maak nie sin nie. Tog kan ek nie anders as om dit maar net so te aanvaar. Dankie vir U regmakende somme! Amen.
Comments