Gedagte vir Vandag
Donderdag, 29 Junie 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (45)
Paulus en Barnabas in Listra (2)
Beleef die volheid van God
Hand. 14:11-15a – “Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: ‘Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom.’ 12 Hulle het vir Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was. 13 Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring. 14 Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu: 15 ‘Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle.”
Vergelyk ook Joh. 1:14 en 16 – “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy, as die enigste Seun, van die Vader het, vol genade en waarheid. 16 Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.”
Daar was ’n groot getal mense wat die genesing van die verlamde man aanskou het. Hulle was in vervoering daaroor dat hierdie man wat elke dag by die stadspoort gesit en vir aalmoese gebedel het, genees is. In hulle moedertaal begin hulle vir mekaar skreeu dat die gode soos mense geword het en na hulle toe afgekom het. Die feit dat die skare Paulus en Barnabas in Likaonies vereer, het tot gevolg dat hulle twee nie verstaan het wat alles gesê is nie. Vir Barnabas het die skare Zeus genoem, die god wat nie self praat nie, maar deur sy boodskapper wat sy woorde oordra. Vir Paulus, wat die praatwerk gedoen het, noem hulle Hermes, die welsprekende boodskapdraer van die gode, wat voorspoed aankondig en bring.
Die feestelike skare, gelei deur die priester van die Zeustempel, is deur die stadspoorte op pad na die groot altaar voor die Zeustempel net buite die stad. Bulle met blomkranse om hulle nekke word na die altaar gelei waar hulle aan die gode wat Listra kom besoek het, as offers gebring gaan word. Die opvatting was dat Zeus in die tempel gewoon het, en sy verblyf voor die poorte het aangedui dat hy die beskermgod van die stad was. “Toe Paulus en Barnabas hoor …” – iemand het waarskynlik vir hulle verduidelik dat die groot feestelike optog bedoel is om hulle twee as gode in hulle stad te verwelkom en te vereer – “... het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu: ‘Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle.”
Paulus en Barnabas kon die verering met moeite keer. Die les vir ons is om te besef dat misverstand iets is waarmee ‘n mens moet rekening hou. Die geweldige ironie is dat die grondslag van Paulus se preek juis is dat God mens geword het en na ons toe gekom het, en nie hulle wat, gode geword het en na die mense in Listra gekom het nie. En hierdie is nie ‘n aardse toneelstuk wat Paulus en Barnabas gade slaan nie, dit is werklike gebeure van ‘n Goddelike wese in die hemel en Sy afkoms na die aarde en die reaksie van ons wat op die aarde woon. Dis geen misverstand nie, dis feite!
“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.” Met hierdie enkele eenvoudige sinnetjie wat Johannes vir ons aanteken in Johannes 1:14 van sy evangelie, word seker die grootste en allerbelangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensheid en veral aan ons as Christene, die allerdiepste geheimenis in die Godsopenbaring, meegedeel! Jesus het as mens onder ons as mense kom woon! Wat ‘n belangrike voordeel vir ons want Hy het nou menslik toeganklik geword. Hy kan gesien en gehoor word en ons gaan Sy heerlikheid deur Sy aardse optrede sien. Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug, Hy word “God met ons, Immanuel.”
Dit is duidelik dat ons hier met ’n verborgenheid te doen het wat deur die denke van die mens nie verklaar kan word nie. Ons kan net kinderlik in die geloof buig en alleen maar God dank vir die weg wat Hy vir die sondaar geopen het sodat ons kinders van God kan word. Wanneer ek hierdie woorde van Johannes oor en oor lees, kom ek onder die indruk van die allesoortreffende volheid van Christus. Hy is die een Persoon in wie die volkome volheid van die Godheid woon, nie Zeus of Hermes of enige dooie afgod nie.
Jesus Christus is nie sommer maar net mens nie. Dit kom tot openbaring in ’n volheid van “genade en waarheid.” Hierdie genade is gekoppel aan die waarheid, en is daarom eg, betroubaar en blywend. In die Woord wat mens geword het, kom die heerlikheid van God tot openbaring en dit bestaan in die volheid van die onverdiende genade van God wat in waarheid en betroubaar, aan ons geopenbaar is. Die vraag is of ek en jy hierdie Christus ken in wie alle volheid, genade en waarheid is? Of leef ons soos daardie gebreklike bedelaar wie Paulus genees het – ’n lam mens wat grotendeels van die wêreld afhanklik is vir ons blydskap? Dit is God se wil dat Christus alles vervul, selfs my en jou hart en ons behoeftes. Ons kan elke oggend opspring soos die geneesde verlamde, die Here loof vir ons opstaan en elke aand se gaan slaap; vir God se goedheid, sonder einde; vir alles wat ons is en het; vir onverdiende genade.
“As jy naastenby jou wil voorstel wat dit beteken het vir God om mens op aarde te word, kies jy dan om ‘n slak of wurmpie te word” (CS Lewis).
Gebed: Dankie Heer dat U mens kom word het om my aan God te kom voorstel. Ek probeer dit verstaan en begryp, maar my menslike verstand is net nie opgewasse daarvoor nie. Hoor my lied Here, U deins nie terug vir opoffering nie. In U sien ek wat menswees waarlik is. Verander my só – maak my minder sodat U meer kan word. Amen.
Comments