top of page

Gedagte vir Vandag

  • Aug 3
  • 4 min read

Maandag, 3 Augustus 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (21)


Los die vergelding vir God

 

Rom. 12:19 – “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.”

 

Vergelyk ook Matt. 7:1-2 – “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.”

 

Paulus se vermaning om nie “self wraak te neem nie, maar dit aan die oordeel van God” oor te laat, sluit aan by die opdrag om “ons vervolgers te seën” (v 14), asook die opdrag om nie “kwaad met kwaad te vergeld nie” (v 17). Hierdie vermaning is in vandag se lewe, uiters moeilik om toe te pas. Die een ding wat ons gewoonlik begeer wanneer iemand ons, of iemand vir wie ons omgee, kwaad aandoen, is wraak, soete wraak. Dit is menslik om só briesend kwaad te word, dat jy wil ontplof! Geregtigheid moet onmiddellik geskied! God neem te lank om te straf. Ons wil Hom bietjie help. Dit beteken dat die skuldige persoon gestraf en die boete betaal moet word, nou!

 

Die storie word vertel van ‘n kontrakteur wat vreeslik verontreg was deur sy skatryk werkgewer. Op ‘n dag het die werkgewer hom beveel om ‘n droomhuis te bou terwyl die werkgewer vir ‘n paar maande moes weggaan. In die kontrakteur se hart het woede en wraakgevoelens oorgeneem, veral nadat sy verwaande werkgewer hom beveel het om geen onkostes te ontsien nie. Hy het dan ook besluit om hierdie sogenaamde droomhuis met die swakste materiaal wat hy in die hande kon kry, te bou – die bouwerk af te skeep met die hoop dat die huis op die werkgewer sal intuimel. Op hierdie manier, het hy gedink, sal hy die werkgewer terugkry vir al die jare se verontregting en swak behandeling wat hy as werknemer moes verduur. Met sy tuiskoms was die “droomhuis” klaar gebou. Die werkgewer het die sleutels geneem, dit in die kontrakteur se hand geplaas en gesê: “Dankie vir al jou jare se lojaliteit. Die huis is joune, jy het dit vir jouself gebou!”

 

Dit vra besondere genade en oorgawe aan God dat ons nie ons moet wreek op mense wat ons verontreg nie. Ons voel soms om ‘n ander sommer te lyf te gaan of om hulle terug te beledig. Om te haat is menslik, dink ons. Maar dit is nie Goddelik nie. Daarom pas haat ook nie in by mense wat in die eerste plek God se wil, wil doen nie. Hoe bitter dit ook al is, mag haat nie deel van ‘n kind van God se lewe word nie. Haat staan lynreg teenoor alles wat God is en doen. Hy het ook haat aan die kruis verslaan, ter wille van my en jou. Buitendien, haat maak uiteindelik ook óns “dood.” Dit vreet soos ‘n kanker aan ons.

 

Om ‘n oordeel oor ‘n ander te fel is seker die mees gebruikte vorm waar wraakgedagtes uitgespreek word en waaraan die meeste mense skuld aan het. “Ek wil nou nie oordeel nie, maar het jy gesien ... ” of, “moet nou nie dink ek kritiseer haar nie, maar het jy gehoor ... ”, is seker van die bekendste uitdrukkings wat algemeen gehoor word. Dit verskaf sommiges innerlike vreugde om slegte dinge van ander te hoor. As ek klaar ‘n slegte opinie van iemand het, en iemand anders vertel net iets negatiefs – dan glo ek dit sommer – “Ja, dis hoe hy/sy maar is. Tipies!”

 

Beteken dit nou ons moet onsself blind hou vir ander se foute? Nee, inteendeel, Jesus verwag nie dat ons sienderoë ‘n ander se foute moet toelaat nie maar Hy verbied ons om ‘n mede sondaar te straf. Ons is nie aangestel om God se regters te wees nie. Wanneer ons deur die oë van die Here kyk, kan ons gelowiges ons eie én ander se sonde in perspektief raaksien en dan teen ons naaste optree soos wat ons graag wil hê hulle moet optree teenoor ons. Jesus het ons immers geleer om te bid: “Vergeef ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.” Kortom, haal eers die balk uit ons eie oë en onthou Jesus se woorde in Matteus 7:1-2 hierbo.

 

“Maar wat van daardie mense wat my verontreg het? Ek kan hulle nie net so los nie, ek moet hulle ‘opfix’, dit sal immers my laat beter voel.” Nee, God het nie ons oortredinge teenoor Hom gewreek nie, Hy het dit nie ‘opgefix’ nie, Hy het dit ‘gefix’ met sy Seun se kruisdood! As ontvanger van God se liefde, mag ons nie anders optree as om dieselfde liefde vir die wêreld te bewys nie. Buitendien, God slaap nie, Hy sien en weet wat misdadigers doen. Ons hoef nie te sê: “Ek wil my wreek oor die kwaad wat my aangedoen is nie, ek kan vertrou op die Here en Hy sal my help” (Spr. 20:22). “Dit is Sý reg om te straf; Hý sal vergeld.” Hy sal weet wat om met die misdadigers en moordenaars te doen, al dink hulle nou dat hulle die vangnet van die gereg systap. Ek en jy moenie ons koppe daaroor breek nie, maar eerder leer om te vergewe en te vergeet. Kom ons doen eerder dinge wat God se Naam sal verheerlik.

 

“You can build a life on the foundation of criticism if you want to, but sooner or later you’ll have to live in the house that you build” (Onbekend).

 

Gebed: Ag Here, hoe kan ek verwag dat U my sonde nie moet beoordeel nie, terwyl ek reeds my mede sondaar gestenig het? Vergewe asseblief my kritiese en beoordelende gees. Leer my om met meer takt en selfregverdiging met ander om te gaan. Dra my, help my, om te vergewe en met my lewe aan te gaan. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page