Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- Jun 27, 2023
- 4 min read
Dinsdag, 27 Junie 2023
Koos Espach
Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur (43)
Paulus en Barnabas in Ikonium (3)
Versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God
Hand. 14:4 – “Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels.”
Dieselfde patroon as in Antiogië in Pisidië, speel teen die prediking van Paulus en Barnabas in Ikonium af. Hulle het in die Joodse sinagoge ingegaan en só gepreek dat ’n groot aantal Jode en Griekse godvresendes in die sinagoge en in die stad gelowig geword het. Lukas vertel vir ons van hulle sukses in die begin van hul prediking, maar dan kom daar verdeeldheid onder die mense, sommige is vír die Jode en ander vír die apostels. (Terloops, Lukas noem Paulus en Barnabas hier apostels as letterlike betekenis in die Grieks vir iemand wat uitgestuur is. Paulus en Barnabas is aanvanklik deur die gemeente van Antiogië in Sirië uitgestuur en was verteenwoordigers of boodskappers van daardie gemeente.)
Verdeeldheid kom gereeld voor tussen mense wat met Jesus as Verlosser gekonfronteer word. Volgens Lukas 2:34 het Simeon vir Maria gesê: “Die Kindjie is ’n teken wat weerspreek sal word.” In 2 Kor. 2:15-16 sê Paulus: “Ons versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God. Almal wat met ons te doen het, weet daarvan: dié wat in Hom glo, en ook dié wat op pad is hel toe. Vir mense wat nie in Christus glo nie, gee ons ‘n doodsreuk af. Maar vir mense wat die goeie nuus glo, gee ons die heerlike geur van die lewe af” (Die Boodskap). In Romeine 9:33 haal Paulus Jesaja 18:16 aan as heenwysing na Jesus: “Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer waaroor ‘n mens struikel, ‘n rots waarteen jy jou stamp, maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie.”
Paulus kom tot die gevolgtrekking, dat die grootste gedeelte van Israel die vryspraak nie deelagtig geword het nie. Hulle wou op hulle eie inspanning en vroom prestasies bou en nie op God se verlossingsplan nie. Die heidene, daarenteen, “het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry – die vryspraak deur die geloof” (Rom. 9:30). Die weë skei dus by Jesus Christus en dis die geheim van hierdie teenstrydigheid – die Jode volhard op hulle eie pad om vryspraak te verkry deur die wet te onderhou, terwyl die heidene dankbaar die vryspraak in geloof in Jesus Christus aanvaar het.
Israel het die wet nagejaag wat hy gemeen het sal help om die vryspraak te verdien. Hierdie wet kon hulle ongelukkig nie onderhou nie omdat hulle die sin van die wet nie begryp het nie. Hulle het ‘n kredietbalans by God probeer opbou sodat God by hulle in die skuld was. Omdat God dan by hulle in die skuld was, móés Hy hulle redding deur vryspraak verseker. Israel het oor die “rots” gestruikel, die “rots” wat vir hulle ‘n veilige beskutting moes wees, het ‘n “steen” des aanstoots geword!
Die heidene daarenteen, was asof hulle die kruis gesien het en erken het: “As God my só lief het, kan ek Hom met my hele hart, siel en verstand vertrou.” Hulle was dus in die skuld by God en God se liefde deur Jesus Christus vertrou en aanvaar – “So sê die Here my God: ‘Ek gaan in Sion ‘n klip neersit, ‘n uitgesoekte klip, ‘n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie” (Jes. 28:16).
Vandag weet ons van God se vryspraak, maar is nie altyd seker hoe om aandag te gee aan die metode van God se vryspraak nie. Sommige mense wil hulle eie metodes volg om vergifnis van sonde te verkry – reg te lewe of immers, probeer om reg te lewe; lidmaat van ‘n kerk wees of immers, darem op die “kerk se boeke” te wees; maandeliks ‘n bydrae te gee indien die begroting dit toelaat; lees darem nou en dan Bybel en bid gereeld want ons is van kleins af geleer om dit te doen en ja, ek is darem gedoop ook. En so volg baie mense vandag, net soos die Jode in Paulus se tyd, hulle eie kop en verwag dit is genoeg om outomaties vryspraak te ontvang. Hulle vertroue en geloof in wat Jesus Christus, ons Here, gedoen het, is slegs ‘n visioen en nie ‘n waaragtige feit nie. Die gevolg: Christus word ‘n struikelblok, ‘n steen des aanstoots in plaas van die hoeksteen waarop gebou moet word. Die mens se prestasies het Christus se prestasies vervang.
Geloof is die dankbare vertroue op God se guns en beloftes. Wie in Jesus Christus glo, sal nooit beskaamd staan nie. Wie egter nie in Hom glo nie, maar meen om self sy eie geregtigheid uit te werk, sal ontdek dat Hy ’n klip is waaroor ’n mens struikel en ’n rots waarteen jy jou stamp. Vir mense wat nie uit God se genade wil lewe nie, vorm die Vleesgeworde Genade van God ’n aanstoot en struikelblok. “Maar vir mense wat die goeie nuus glo, gee ons die heerlike geur van die lewe af.” Ons word só omgewe deur die soet aroma van Jesus Christus dat waar ons ook al beweeg, ons ‘n wonderlike geur vir God is.
“Man's imperfection could never satisfy God's perfection; nothing that man could do could even begin to repay what God has done for him” (William Barclay).
Gebed: Dankie Jesus dat U liefde nie net tot my klein hoekie beperk is nie, maar dat dit hoër en wyer strek na elkeen “wat die goeie nuus glo.” Daarom wil ek bid vir elkeen wat nog in die donkerte van ongeloof staan, om aan U beloftes vas te hou en ‘n opregte verhouding met U bou sodat hulle ook “die heerlike geur van die lewe af kan gee.” Amen.
Comments