top of page

Gedagte vir Vandag

  • 3 days ago
  • 4 min read

Vrydag, 10 Julie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (11)


Liefde vir ons kerkleiers

 

Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (11)

 

In die Bergrede (vgl. Matt. 5-7), gee Jesus aan ons rigtingwysers rakende die soort gedrag wat sal maak dat ons God se seën in ons lewe ervaar. Dit begin by die regte optrede teenoor ander mense. Christenskap is nie net ‘n verhouding tussen ons en God nie. Nee, dit raak ook die verhouding tussen ons en diegene rondom ons. Ons het reeds genoem hoe merkwaardig dit is dat Paulus soortgelyke riglyne as Jesus, aan ons voorhou, selfs hoe hy paar maal in sy briewe skryf dat sy nuut-gestigte kerke vir hom sal bid sodat hy sy werk effektief vir God kan doen.

 

Liefde en eerbied is in ‘n gemeente veral belangrik. Ons kan eerbied vir mekaar en vir ons kerkleiers so verstaan: “Betoon hartlike liefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar” deur nie van onsself meer te dink as van ander nie (Rom.12:3); te aanvaar dat die Here ander gelowiges in die gemeente in ons lewe gebring het en dat ons medegelowiges nodig het (1 Kor. 12:21). Alle gelowiges, ampsdraers sowel as gewone lidmate, maak die kerk uit. Saam vorm ons die kerk, wat die liggaam van Christus is. Calvyn het die kerk “die moeder van die gelowiges” genoem. En net so belangrik as wat ‘n moeder vir haar kinders is, so belangrik is die kerk en die kerkleiers vir die gelowiges.

 

Paulus skryf: “En dit is die ‘gawes’ wat Christus ‘gegee het’: apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. 12Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en ons kennis van die Seun van God” (Ef. 4:11-13). Hierdie ampte was tydelik en is met die ampte van leraar (2 Tim. 4:2 -profetiese amp), ouderling (Hand. 20:28; 1 Pet. 5:1-2 - koningsamp) en diaken (Hand. 6:1-6 – priesterlike amp) vervang.

 

Die Bybel verwag van ons dat ons vir ons geestelike leiers, veral ons leraars, moet bid en aan hulle eer bewys. Nie omdat hulle so danig belangrik is nie, maar omdat die Here dit van ons verwag. Paulus skryf: 12Broers en susters, ek wil julle mooi vra om groot respek vir al die leiers in die kerk te hê. Onthou, die Here het hulle aangestel om sy wil aan julle bekend te maak. As julle die spoor byster raak, moet hulle julle aanspreek, en as julle swaarkry, moet hulle julle vertroos. 13Wees baie lief vir hulle en sien op na hulle. Moet asseblief nie onder mekaar stry en baklei nie” (1 Tess. 5:11-13 – Die Boodskap).

 

As ek en jy Sondag kerk toe gaan, is alles gereed. Die liturgie is voorberei, die musiek pas, die preek is kragtig, en die atmosfeer is verwelkomend. Maar wat ons dalk nie sien nie, is alles wat agter die skerms gebeur. Die werk van ‘n leraar eindig nie by die kansel nie. Dit is veel meer. Die werklikheid is: die meeste mense weet nie wat hulle leraar regtig deurmaak nie. ’n Sondag-preek is net die punt van die ysberg. Onder die oppervlak is daar ure se voorbereiding, intense emosionele betrokkenheid, praktiese diens aan die gemeenskap. Hulle moet omsien na lidmate se grootste nood, diegene in tronke, in hospitale, skole en nog swoeg met hul eie worstelinge ook. Buiten nagtelike krisis-onderskeiding, begrafnisse en huwelikbevestigings, moet hulle kerkraadswerk, sinodale verantwoordelikhede en gemeenskapsprojekte ook hanteer.

 

‘n Kerk se leraars moet mooi loop, want sê en doen hulle iets waarmee die gemeentelid nie saamstem nie, kry hulle die wind van voor. Ja, hulle is deur God geroep en dit is ’n spesiale roeping met baie groot verantwoordelikhede. Maar, hulle is ook maar net gewone mense met gewone foute en kan net so maklik in ’n gat trap. Hulle is ook ouers, het moontlik kinders en ‘n huweliksmaat – en hulle verdien ook mekaar se tyd en teenwoordigheid.

 

Daarom is dit nodig dat ons gelowiges almal sal hande vat met die bedienaars van die Woord. Elke herder het iemand nodig om sy hande op te lig. In Eksodus 17 lees ons hoe Aäron en Hur, Moses se arms omhoog hou sodat Israel die stryd kan wen. Net so het ons leraars óns nodig – nie net as toehoorders nie, maar as ondersteuners, bemoediger en mede-bedienaars. Hy of sy is nie ons werknemer nie, maar ons geestelike vader of moeder, ons ondersteuner, en soms my en jou mede-stryder in geloof.

 

Ons leraars dra dikwels alleen sware laste. Hulle moet sterk wees vir almal, maar wie is sterk vir hulle? Wie vra vir die leraar hoe dit gaan met sý of háár siel? Wie bied ’n skouer, ‘n gebed, of net ‘n luisterende oor? Wel, ek en jy wat met eer leef, weet mos van beter. “Betoon hartlike liefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar” Bewys eerbied deur hulle en hulle gesinne te waardeer, begin deur te vra, te luister, te bid. Nie net vir wat hy of sy doen nie, maar vir wie hy of sy is. Gee hom of haar ruimte om te leef. Wees ’n gemeente wat dra, wat dien, wat seën. Wees Aaron en Hur vir Moses. Wees Jesus se hande en voete vir die herder en sy of haar wat Hy vir ons gestuur het.

 

“Other people are going to find healing in your wounds. Your greatest life messages and your most effective ministry will come out of your deepest hurts” (Rick Warren).

 

GEBED: Here, dankie vir ons leraars. Dankie vir hulle opoffering, hul liefde, hul geduld. Seën hulle met moed, rus en vars salwing. Leer ons om hul te waardeer soos U dit sou doen – met respek, liefde en dade. Help ons om hulle arms omhoog  te hou wanneer hulle moeg is. Leer ons om saam te groei in liefde, waarheid en heiligheid. In Jesus se Naam. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page