top of page

Gedagte vir Vandag

  • 2 hours ago
  • 4 min read

Maandag, 13 Julie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (12)

 

Entoesiastiese dienaars van God in die gemeente


Rom. 12:11 – “Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.”

 

Paulus se derde riglyn beklemtoon dat Christenskap nie is vir halfhartiges of gelowiges wat net lou is nie. Die drie onderstreepte woorde van vers 11 bevestig net een feit: Entoesiasme! Ons “moenie in ons toewyding verslap nie, altyd geesdriftig bly en die Here dien.” Ons moet aan die brand wees vir die Here en toegewyd wees om die saak van die Here, in liefde uit te leef. Dit beteken om passievol die Here te dien, ‘n passie vir Jesus Christus en die evangelie te hê. Sonder om vergelykings te wil tref, wonder ek soms of mense se passie nie verskuif het na iets anders nie. Ongelukkig toon ‘n vinnige kykie na vandag dat baie gelowiges ‘n lewe vir God se doelwitte laat vaar het, en eerder persoonlike vervulling najaag.

 

Is dit moontlik dat ons in hierdie post moderne eeu nog geesdriftig kan raak vir Jesus Christus en die evangelie? Dit behoort ‘n vreugde te wees om die Here met “toewyding en geesdrif” te dien want ons dien Hom nie met ‘n skuldgevoel, of pligsgevoel of selfs vrees nie, ons dien Hom uit dankbaarheid vir wat Hy reeds vir ons gedoen het. Ons is waardevol vir God want Hy het ons uit genade gered – Ons het ons lewe aan Hom te danke. Deur Sy genade en liefde is ons verlede vergewe, het ons hede nou betekenis en is ons toekoms verseker, “daarom moet ons nou ‘n vrugbare lewe lei in diens van God” (Rom. 7:4).

 

Elkeen van ons is God se unieke “kunswerk” met ‘n unieke hartklop en unieke persoonlikheid. Geen mens is deel van ‘n massavervaardigde produk in ‘n fabriek nie. Nee, elkeen is eenmalig, oorspronklik, en God se meesterstuk wat Hy op ‘n wonderbaarlike wyse geskep het. God maak nie foute nie, en daarom is dit jammer dat daar so baie gelowiges is wat die Christelike geloof bely, en nog nie verby die louwarm stadium van diens aan Hom én diens aan ons naaste, beweeg het nie (vgl. Op. 3:15-16).

 

God het dit so beplan dat ons gelowiges mekaar nodig sal hê, dat ons nie in ons “toewyding moet verslap nie en altyd geesdriftig sal bly om die Here en ander te dien.” Daar is ongelukkig geen ander pad om by God uit te kom en Sy stem te hoor, as om die vlam van geestelike entoesiasme weer aan te blaas en God aan te roep in gebed en sy Woord te bestudeer nie. Selfs wanneer ons tyd deurbring in lofprysing en danksegging in die kerk, vernuwe die Heilige Gees ons en besiel Hy ons met vreugde en entoesiasme om te dien – “Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal” (1 Kor. 12:7) – dit laat ons as gemeenskap van gelowiges, gesamentlik God en ander mense met ‘n passie dien.

 

Om die Here met geesdrif te dien beteken om met hart en siel te dien, niemand hoef ons te motiveer of seker te maak of ons dit wel doen nie. Ons dien met passie en nie deur ‘n pligsgevoel nie. Ons God van liefde en genade, het vir ons elkeen, afsonderlik ‘n hart gegee sodat ons met geesdrif baie het om vir te leef en nie van te leef nie, om te leef vir Sý glorie – “Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor” (Spr. 15:16). 

 

Ons “moenie in ons toewyding verslap nie, altyd geesdriftig bly en die Here dien.” Want ons is geskep om soos Christus te word: “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe” (2 Kor. 3:18). Is dit moeilik? Ja, beslis. Maar deur gebed kan ons die Gees vra om ons met Sy krag, daarmee te help. Heiligmaking is ‘n lang, stadige groeiproses om soos Christus te word – om te “weet hoe afhanklik ons van God is; te treur; sagmoedig te wees; te honger en dors na geregtigheid; barmhartig te wees; rein van hart is; vredemakers is; vervolg en beledig word omdat ons doen wat reg is, deur die Here te dien! (Matt. 5:3-12). Ontwikkeling tot geestelike volwassenheid, kan die res van ons lewe lank duur. Die vraag is: Is ons bereid om hierdie heiligmakingsproses ons lewensdoel te maak?

 

“Ons weet nie hoe swaar die las is wat ons self dra nie, maar wanneer ons inbuk onder die las van ‘n ander, word my eie las ligter” (Betsie ten Boom).

 

Gebed: Here, bewaar my van geestelike ongevoeligheid want dit kan so maklik my bewustheid van U teenwoordigheid uitwis. Vervul my met die krag van U Gees, sodat my hele lewe U heerlikheid met ‘n brandende hart kan weerspieël. Leer my om U te dien soos U verdien, sonder om eers ‘n prys te wil bereken. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page