Gedagte vir Vandag
Woensdag, 22 Julie 2026
Koos Espach
Riglyne vir die Christelike lewe (16)
Vervolgdes omdat ons volgelinge is
Rom. 12:14 – “Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.” (2)
Vergelyk ook Joh. 15:18b; 16:2b – 18b"Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle ...! 2bDaar kom selfs ‘n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys.”
God se opdrag wat hier deur Paulus in vers 14 aan ons Christene gegee word, is soos ons reeds genoem het ‘n weerklank van Jesus se eie opdrag in Matteus 5:4, sowel as van sy optrede aan die kruis (Luk. 23:34). Om ons vervolgers te seën is nie ‘n maklike taak nie, inteendeel, ons sou hulle eerder vervloek.
Hoekom sal ‘n mens vervolg word omdat hy doen wat reg is? Jesus Christus, wat vrede, vooruitgang, blydskap en eer moes meebring, verkondig nou vervolging van Sy dissipels, en dit sluit álle volgelinge daarna, in. Vir my en jou ook! Dit is ‘n totale uitklophou! Dit gaan in geloof oor Jesus se opdrag aan Petrus: “Volg My!” (Joh. 21:19b).
Om Jesus elke dag te volg, beteken dat ek en jy ons kruis sal opneem en Hom volg, selfs tussen die vyandiggesindes en andersdenkendes in. Daaglikse bekering is aanhoudende afsterf van die ou mens – die selfgenoegsame ek. Jesus stel ware dissipelskap op die voorgrond en om ‘n ware dissipel van Jesus te wees, is duur. Hoe duur? Toe God Sy skepping van die sonde wou red, kon Hy aan geen ander manier behalwe die offer van Sy Seun vind nie: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8).
Die vervolging en haat waarna Jesus verwys in ons teks, is spesifiek gerig op Christene wat probeer om regverdig te lewe, mense met wedergebore harte wat in diens van die Here staan. Mense wat afhanklik is van God, sagmoedig is en wat die waarheid van die evangelie suiwer verkondig en glo. Die Christus wat ons volg word verwerp en word gehaat deur die wêreld wat in konflik is met die verkondiging van die Evangelie. Om vervolg te word vir regverdigheid, is om vervolg te word vir Christus!
Vervolging vererger wanneer daar nie gedeel word in ander se korrupte lewenswyse nie. ‘n Broer-in-misdaad maak dit makliker om te erken dat “almal dit tog doen.” Die ongelowige staan dan skielik alleen wanneer Christene in sy of haar geselskap is. Die vervolgers se gode is hulle sondige wellus en dit skei hulle van die “skynheiliges” wat Sondae met hulle skynheilige gesiggies in die kerk sit. Dit is dan wanneer “dissipels” van Jesus met hulle getuienisse, verag word want hulle het die groot leuen oor ongelowigheid ontbloot.
Wanneer ongelowige vervolgers die lig gewys word, verkies hulle eerder die donkerte. Hulle is so diep ingedompel in hul verkeerde dade dat hulle nie daar gesteur wil word nie: “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hul dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh. 3:19-20). Hulle haat die lig en wil dit afgesit hê maar wil dit nie self afsit nie. Hulle soek fout by gelowiges en sweep ander op om ook te probeer om die lig af te kry – sonder sukses! Daarom haat hulle die gelowiges want die gelowiges het hulle aan die lig ontbloot – Jesus dié Lig van die wêreld!
As Christus ons voorbeeld vir bediening is, kan ons dit nie vermy om na die kruis te gaan ter wille van ander nie. As ons doel is om ander na Christus te lei, moet ons gewillig wees om soos Hy, verwerping te waag. Mense kan ons teleurstel, selfs “een van ons doodmaak en dink dat hy ‘n diens aan God bewys,” ons motiewe verkeerd verstaan en ons verag en “vervolg.” Ons Verlosser het nie toegelaat dat lyding verhoed dat Hy deur God gebruik word om óns wat Hy liefhet, te red nie. Hy het ons immers “uit die wêreld uitgekies.” As ek en jy vir die Here werk, moet ons weet dit is hárde werk; dit is emosioneel uitputtend, die ure is lank, die ‘betaling’ is min – maar die aftreeplan is uit hierdie wêreld uit!
“Elke Christen moet weet: Die navolging van Christus is nie hemelpastei eet nie; dis harde werk, want dit verg dat jy jou lewe moet laat inpas by God se wil” (Ferdinand Deist).
Gebed: Dierbare Heiland, U grusame dood het vir mý, versoen met God. Deur U wrede marteling is God se genade op my drumpel afgelaai, verniet! U lyding aan die kruis, dood en U opstanding, maak my vry van haat teenoor my vervolgers. Gees van God, help my dat ek as gelowige, standvastig sal bly ten spyte van die aanslae van die wêreld en sy verkeerde dinge. Amen.
Comments