top of page

Gedagte vir Vandag

  • 4 days ago
  • 4 min read

Vrydag, 17 Julie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (14)


Liefde in die gemeente = gasvryheid

 

Rom. 12:13 – “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”

 

Paulus se vyfde riglyn om ons genadegawes prakties uit te leef in die gemeente, behels twee opdragte: “Hulp aan die medegelowiges en Christelike gasvryheid.” Die tradisie van gasvryheid en veral teenoor mense wat swaarkry, kom van ver. Reeds in Genesis 18 sien ons hoe gasvry Abraham sy besoekers ontvang het. Oorlewering wil dit ook hê dat sommige Romeinse Christene van hierdie jong gemeente aan wie Paulus sy brief rig, hulleself as slawe verkoop het om met hulle koopprys mede gemeentelede wat in nood verkeer het, te help. Dít, noem ons liefde in aksie!

 

Omdat die liefde die selfsug oorwin, het dit die destydse gelowiges geleer om voorsiening te maak vir die minder bevoorregte gelowiges in hulle gemeenskap, en na gasvryheid te streef. Oorspronklik het gasvryheid daardie tyd ook beteken om huisvesting aan vreemdelinge te verskaf. Wat is ons Christelike roeping in hierdie verband? Watter konkrete verantwoordelikheid lê die Here deur Sy Gees op ons hart?

 

Paulus moedig ons gelowiges vandag aan om Christene gasvry te behandel. Met ander woorde, ons moet slaapplek verskaf aan gelowiges wat op reis is én hulle van kos voorsien. Selfs al ken ons mekaar nie persoonlik nie, moet ons gemeenskaplike geloof in Jesus ons saambind as broers en susters. Ons voorouers wat op plase gebly het en min met mense van buite in aanraking gekom het, het voortgebou op hierdie gebruike van gasvryheid.

 

Uiteraard het hierdie gebruike feitlik heeltemal verval weens verskeie redes, maar veral sekuriteitsredes. Vandag val die klem op vriende, familie en bekendes. Maar is dit wat God van ons vra? Bybelse gasvryheid is baie meer as net ‘n kamer gereed te kry en etes voor te berei vir iemand. Bybelse gasvryheid gaan om die gesindheid van die hart waarmee ons daardie dinge doen. Dit beteken ‘n oop hand en ‘n oop hart vir ‘n ander, vandag nog. Ons kan nie maar anderpad kyk as gelowiges rondom ons swaarkry nie. En dit betrek nie net ons familie en vriende nie, maar ook ander met wie ons in aanraking kom.  

 

Jesus het self vir ons die wonderlike voorbeeld gestel waar liefde en selfsug oorwin word toe Hy die skare gevoed het met vyf broodjies en twee vissies (Joh. 6:1-15). Jesus se liefde vir die massas wat Hom nie regtig wou volg nie, was 'n groter wonder as die vermeerdering van die brood en vis. Hy het geweet hulle wil méér wondertekens sien; geweet hulle gaan Hom binnekort verlaat en verwerp; geweet hulle gaan aandadig wees aan Sy dood! Tog gee Hy sóveel om, is Sy liefde so geweldig dat, ten spyte van hulle verkeerde motiewe, Hy steeds in hulle behoeftes voorsien.

 

Terwyl die Jesus van die Bybel die Seun van God is, kan ons nie met ons moderne harte allerlei modelle van Hom maak wat nie ooreenstem met Wie en Wat Hy is nie. Hy het ons kom vry maak van die bande van die dood en die verderf. Gelukkig is Hy ook Voorsiener en sal Hy met liefde aan ons behoeftes voorsien op Sy manier en Sy tyd. Jesus Christus stamp nooit iemand weg wat na Hom toe kom nie (Joh. 6:37). Hy maak tyd, Hy is nie geïrriteerd nie, Hy laat hulle nie aan hulle noodlydende lot oor nie! Daarom is dit só ‘n oneindige voorreg om Jesus Christus deur ons lewenswyse aan ander te demonstreer.

 

As Christene voel ons soms so nietig en ontoereikend. En daarom volg gewoonlik ‘n magdom redes hoekom ons nie ‘n dienskneg in God se koninkryk kan wees nie. Daar is werk vir almal in Sy koninkryk en niemand hoef oorbodig te voel omdat hy/sy nie besondere gawes of vermoëns het nie. Dit is moontlik vir ons om “die medegelowiges in hulle nood te help en ons toe te lê op gasvryheid.” Die alvermoënde Christus kan wonderwerke verrig met Sy nederigste dissipel. Hulp en gasvryheid beteken ons harte en hande moet uitgestrek wees in diens aan ander, dan is daar geen perke aan wat God deur ons as toegewyde en gehoorsame instrumente kan doen nie. Jesus kan baie doen met min! Liefde in aksie beteken om iets vir ons naaste te doen, al is dit hoe gering. Gee God se troos na hulle toe aan, want dis wat liefde doen!

 

“In a world bent on getting, the Christian is bent on giving, because he or she knows that what we keep we lose, and what we give we have” (William Barclay).

 

Gebed: Here, U weet dat ek my gasvryheid bêre vir dié mense wat na aan my hart is. U weet ook dat ek om verskeie redes nie eers daaraan dink om vreemdelinge in my huis in te nooi nie. Vergewe my Here. Verander asseblief my gesindheid sodat ek die nood van mense wat my pad kruis, sal raaksien en my deure asook my hart vir hulle sal oopmaak. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page