Gedagte vir Vandag
- 6 days ago
- 4 min read
Woensdag, 15 Julie 2026
Koos Espach
Riglyne vir die Christelike lewe (13)
Gebed, geloof en hoop is goeie vriende
Rom. 12:12 – “Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.”
Vergelyk ook Heb. 6:18-19 – “Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. 19Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is.”
Rick Warren het gesê: “Egte naasteliefde in die gemeente word sigbaar in hartlikheid teenoor mekaar. Wie werklik die Here dien, word ‘n brandende vlam van liefde, liefde wat alles verdra, glo en hoop (1 Kor. 13:7). Daarom sal die mens wat in die liefde leef, bly hoop vir die goeie en wanneer verdrukking hom ten deel mag val, volhard in ‘n lewenshouding van gebed.” Wanneer ons leer om deur geloof te lewe, hoop ons dat goeie dinge sal gebeur omdat God goed is en goeie dinge wil laat gebeur.
Paulus bevestig in sy vierde riglyn dat daar by God nie plek is vir wanhoop nie, by Hom is daar genoeg liefde om wanhoop te besweer. Wanneer dinge op hulle ergste en donkerste voel en lyk, verskaf die Gees hoop in die vorm van liefde om die donker te verlig. Martin Luther het gesê ‘n Christen doen álles met hoop. Byvoorbeeld, as die boer nie in hoop gesaai het nie, sou hy nie op ‘n oes gehoop het nie. Niemand sou in die huwelik getree het sonder hoop dat dit ‘n gelukkige gesinslewe sou voortbring nie. Wanneer alles hopeloos lyk, hou hoop ons aan die gang, want God het daardie hoop “vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het”, gegee!
“Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker wat agter die voorhangsel vas is.” Jesus Christus het Sélf hierdie hoop vasgeanker toe die voorhangsel wat die toegang tot die Allerheiligste versper, daardie verskriklike Vrydag met Sy kruisiging, middeldeur geskeur het. “Niks of niemand kan hierdie inankeringswerk ongedaan maak nie. Ons hoop is onwrikbaar vas op die plek met die beste sekuriteit ter wêreld” skryf Prof. Andrie du Toit. Wanneer die storms van die lewe woed en golwe van moedeloosheid en versoeking toeslaan, kan ons maar net “volhard in gebed” en gló, die Gees sal ons bewaar sodat niks ons van ons hoop en hierdie vaste anker kan losruk nie.
Die Bybel is vol wonderlike versies wat ons aanmoedig om te bid: sonder ophou, altyd, vir mekaar, en tog, soms voel dit asof die Here nie hoor nie. En dan kom Jesaja en hy beskryf hoe groot God is, niemand kan hulle met Hom vergelyk nie, dat ons as mens soos ‘n stoffie op ‘n skaal is (Jes. 40:12-31). Ek skrik eintlik as ek daaraan dink dat ons by ons ontsagwekkende God reaksie soek, wanneer dit óns pas – Hy móét nóú help! Paulus sê: “Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.” Dit is omdat die Here weet ons is van nature ongeduldig, altyd haastig en kleingelowig. Ek weet nie van jou nie, maar ek glo dat God steeds in beheer is, ongeag al ons onbeantwoorde gebede. Ons moet net aanhou vertrou op ons ewige God: “Hy gee die vermoeides krag, hulle vlieg met arendsvlerke, hardloop en word nie moeg nie, loop en raak nie afgemat nie” (Jes. 40:31).
Niemand kan die dinamiese krag van gebed, as deel van elke Christen se lewenshouding, onderskat nie! Om ons gebedslewe te verryk en ontwikkel, het God vir ons Sy inwonende Gees gegee om ons “standvastig te maak in verdrukking”, ons te bemoedig en selfs vir ons in te tree by God – die Gees verander ons stamelende woorde in hemeltaal! Slegs wanneer ons gereeld bid, sal die Gees ons nader trek na God toe. Deur gebed ons lewenshouding te maak, ontwikkel ek en jy ‘n positiewe gesindheid en ‘n innerlike vrede wat net God ons kan gee. Selfs te midde van duistere oomblikke, sal ons met vertroue en sonder vrees kan hanteer met die vaste wete dat God steeds in beheer is en sy wil sal laat geskied.
Waarop hoop ek en jy? Ons mag maar hoop op God se beloftes in sy Woord, want ons het ‘n vaste sekerheid dat dit waar sal word: “... die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is.” Dit is die Goddelike geskenk van hoop wat maak dat ons soggens uit die bed klim al is dit hoe moeilik, wat ons bewerige knieë versterk sodat ons stewig staan en dan tree vir tree vorentoe gaan, vol vertroue in God se teenwoordigheid. Ek dink dit is waarom Paulus ons aanmoedig om “bly te wees oor die toekoms wat God vir ons beplan, om te volhard in tye van swaarkry en om aan te hou met bid.”
“Volharding is ‘n gawe van die Heilige Gees. Dit is die hoop op die dinge wat kom, wat ons gelowiges die krag gee om uit te hou totdat die wedloop volbring is” (Willie Jonker).
Gebed: Dankie Jesus dat ek nooit hooploos verlore sal wees nie, want U het my vasgeanker op die plek met die beste sekuriteit ter wêreld. Dankie Gees van God, dat U my in alles bystaan, my bemoedig en vir my intree by God. Help my om my gebedslewe vas te anker in U. Leer my om nie net te praat nie, maar ook om stil te word en te luister na wat U vir my wil sê. Amen.
Comments