top of page

Gedagte vir Vandag

  • 6 days ago
  • 4 min read

Woensdag, 8 Julie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (10)


Liefde vir vriende

 

Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (10)

 

Daar is baie definisies van vriende en vriendskap, maar persoonlik dink ek min is meer in die kol as dié een: “’n Vriend is iemand wat alles van jou weet – en nog atyd van jou hou.” Om ‘n ware vriend te wees vra van jou dat jy gewillig sal wees om jouself aan ‘n ander persoon te gee – dit is immers wat Jesus bereid was om vir my en jou te doen. En Hy weet ook álles van ons af, en hou steeds van ons!

 

Ek hoor iemand sê: “Dis nou eersteklasvriende daardie.” In my gedagtes teken ek ‘n prentjie van die “eersteklasmense” waarna hy verwys: taamlik aansienlik; goeie werk; hulle ouers is van die sosiale stand; altyd netjies aangetrek; goeie akademiese agtergrond; rook nie en drink net per geleentheid; goeie geselskap sonder kru taal; Kerkmense (dink ek). Ja, sonder goeie vriende is enige mens armer, maar om ‘n goeie vriend te wees, een van die heel moeilikstes! En my gedagtes dwaal weg na Jesus se gelykenis van ‘n vriend wat werklik omgee (vgl. Luk. 11:5-13).

 

Jesus het sy dissipels (en ons) geleer dat God soos iemand is wat in die middel van die nag uit sy bed sal opstaan om sy vriend in nood te help, en soos ‘n pa wat vir sy kind ‘n vis sal gee as hy daarvoor vra, en nie ‘n slang nie. Hy het selfs die Heilige Gees aan sy kinders geskenk. En ek wonder, is “eersteklasvriende” nie daardie mense wat die beste keuse op aarde gemaak het, naamlik die keuse vir Jesus Christus nie? Dis mense wat die ekstra myl sal loop; hulle lewensomstandighede is uiters moeilik maar voorbeeldig, die bietjie wat hulle het, sal hulle ook met jou deel; hul ouers ken die swaar kant van die lewe; akademiese agtergrond van minder belang; hulle geloof gaan oor tot dade; hulle betoon liefde sonder inspanning; hulle plaas hul hoop net op Jesus. Waar pas ons in?

 

As iemand iewers gekies het om vir Jesus Christus te lewe, is hy of sy nie net ons vriend nie, maar “broer of suster” – “Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster ...” (Mark. 3:35). Ons is dan almal deel van God se geestelike gesin. Selfs al is hulle meer suksesvol as ons, onaansienlik, dalk ‘n verlede waaroor ander skinder. My en jou vriende, behoort immers te weet, ons bid gereeld vir hulle; ons is 24 uur per dag daar vir hulle; ons kompeteer nie met hulle nie maar is saam met hulle opgewonde as iets groots met hulle gebeur het. “Ons betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar en bewys eerbied teenoor mekaar.”

 

Om werklik ‘n vriend vir jou vriende te wees, vra dat ons tyd vir hulle sal maak. Ware vriende is ook bereid om mekaar tereg te wys wanneer dit nodig mag word – en dis baie moeilik. Ware vriende maak nie vriende om voordeel daaruit te kry nie. Om ‘n vriend te kan hê, moet ons ook weet wat dit beteken om ‘n vriend te wees: om hulle te aanvaar soos hulle is sonder om hulle te wil oormaak soos wat ons hulle wil hê nie. Ons kan gerus ons vriendskap op Jesus se lewe skoei – Hy bly maar die beste Vriend wat ons kán hê!

 

Daarom maak die liedjie van Joseph Scriven; “Wat ‘n Vriend het ons in Jesus?” soveel sin. Hy het die lied geskryf terwyl hy persoonlik swaar getrek het as ‘n gebed en uitdrukking van sy geloof in Jesus se vriendskap en ondersteuning in moeilike tye. Dit moedig my en jou aan om ons persoonlike laste na Hom te neem want in ons swaarste tye herinner Jesus ons dat ons nie alleen is nie, ons is sy vriende. En om Sy vriende te kan wees behoort ons te luister wat Hy sê: “Dít is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel” (Joh. 14:12-14). 

 

Jesus beklemtoon dat ons moet mekaar liefhê. Liefde is ‘n bevel. Dit is ‘n gebod. Dit is ‘n voorskrif. Dit is ‘n reël wat ons moet nakom. En ons standaard is nie soos ander dit doen nie. Nee, “soos Ek julle liefhet”, só moet ons ook mekaar liefhê. Jesus se opdrag dat ons mekaar moet liefhê, is dus begrond in Sy eie liefde vir ons. “Die liefde moet opreg wees.” Want, met sy liefde vir ons het ons lewende Christus vir my en jou ‘n voorbeeld gestel. ‘n Voorbeeld wat ook die standaard is waaraan ons liefde gemeet word. En Hy moedig ons aan om Hom te volg deur ons vriendskap aan ander te gee wat ondersteuning nodig het.

 

Presies wat Jesus natuurlik gedoen het deur aan die kruis vir ons sonde vasgespyker te word. Hy het vir ons die smarte van die dood getrotseer, sodat ons sonder vrees die dood kan tegemoet gaan. Die belangrike in die lewe is nie hoe lank ons lewe nie. Dit is watter vrug ons lewe oplewer, wat ons lewe vir ander beteken, wat ons in ons lewe aan ander doen. Uiteindelik, hoe dit verband hou met God en sy bedoeling met ons lewe. Om daar te wees wanneer iemand ons nodig het, is ‘n wonderlike eienskap van ‘n kind van God. Dit is die vrug van vriendskap. Die vrug van lewens wat afgelê word vir vriende. Uiteindelik vir die Vriend wat ons in Jesus het. Mag Jesus ons inspireer om sy voorbeeld te volg. Hy is ons onveranderlike Vriend. Kom ons wees dit ook.

 

“Die mens wat sy vreugde met ‘n vriend kan deel, verdubbel dit; en hy wat sy hartseer aan ‘n vriend kan toevertrou, halveer dit” (Francis Bacon).

 

Gebed: Here, maak my ‘n vriend vir my vriende soos wat U ‘n Vriend vir my is. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page