top of page

Gedagte vir Vandag

Jul 24
4 min read

Vrydag, 24 Julie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (17)


Geloof, droefheid en blydskap

 

Rom. 12:15 – “Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.”

 

Vergelyk ook 1 Kor. 12:24b-26 – 24b“God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. 26As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”

 

Paulus se sewende riglyn is ‘n ware toets vir egte liefde in die meelewing met ander mense in hulle vreugde én leed. ‘n Christen kan nie ongesteurd verby ‘n ander se blydskap of trane leef nie. As Christene is ons broers en susters van mekaar want ons is kinders van dieselfde Vader, daarom is ons sensitief vir mekaar se gevoelens en is ons “bly saam met dié wat bly is en treur ons saam met dié wat treur.” Dit kan alleenlik gebeur as ons eerlik is met mekaar – ons deel ons seerkry, lê ons gevoelens bloot, erken ons vrese en vra vir hulp en gebed.

 

Baie mense het die verwronge idee dat dit vir ‘n Christen teenstrydig is om emosies soos droefheid, angs en vrees te ervaar. Hulle redeneer dat ‘n Christen enige terugslag kan en moet oorwin want hulle geloof moet só sterk wees dat dit hulle in staat sal stel om enige teëspoed te kan hanteer. Dit is egter nie ‘n Bybelse opvatting nie. Groot gelowiges soos Dawid en Job was nie skaam om trane voor God te stort nie. Selfs Jesus het gehuil oor die dood van sy vriend Lasarus (Joh. 11:33). Trane is meestal goed, sê die geleerde mense. Dit werk soos medisyne teen hartseer, maar wat gemaak met hartseer wat te diep is vir trane?

 

Daar is min mense wat nie intense droefheid ken nie, want ons leef in ‘n wêreld gevul met pyn, lyding, ongeluk, beproewings en die dood. Niemand kan dit ontvlug nie. God waarborg nie dat ons enigsins sal vry wees van alle droefheid nie! Hy belowe egter wel sy liefdevolle vertroosting en krag in ons stryd. Hy alleen kan kwaad in goed omskep, droefheid in blydskap, trane in lag. Hóé, weet ons nie, maar dit beteken nie dat ons Hom nie kan vertrou nie. Wat ons wél weet: God maak immers nooit ‘n fout nie. Elke gebeurtenis op ons lewenspad voltooi ‘n stukkie van God se groot legkaart van ons lewe.

 

Paulus sê ons moet “bly wees saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.” Maar hoe doen ons dit Paulus? Die Bybel leer ons dat “die ewige God ‘n skuilplek is, sy arms is altyd onder (my en) jou” (Deut. 33:27). Dit is wel waar dat ons in die krag van Christus en die bystand van die Heilige Gees, teen die storms van die lewe kan stry, maar ons het steeds mekaar nodig, onderlinge aanmoediging, onderlinge diens en onderlinge eerbetoon, “sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra.” 

 

Ons het mekaar in tye van die diepste krisis, smart en twyfel, die meeste nodig. Dit word vertel van ouers wat hul agtjarige seuntjie in ‘n ongeluk verloor het. Die mamma het hard probeer om haar diepe hartseer vir haar man en ander sesjarige seun weg te steek. Op ‘n dag bring die seun vir haar ‘n potplant wat hy by ‘n skoolverkoping gekoop het. Verbaas wou sy weet hoekom hy niks vir homself gekoop het nie. Hy antwoord: “Ek wou liewer vir mamma die plantjie koop, want ek kon sien mamma was hartseer.” Die vreugde van haar hartseer, het gelê in haar seuntjie se troos – Gód se troos!

 

Droefheid kan gedeel word en gedeelde droefheid is draaglike droefheid, sê Solly Ozrovech. Ons kan dit deel met ons familie, ons vriende en ook met God. Hoe doen ons dit? Wat kan ons vir iemand sê wat pas ‘n geliefde aan die dood afgestaan het? Wees daar vir hom of haar. Dis nie nodig om iets te sê nie. Gee hulle die gawe van jou liefdevolle teenwoordigheid. Dis wat Jesus se teenwoordigheid by mense beteken het. Christus Sélf het belowe: “Niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie” (Joh. 16:22). En mooi herinneringe aan ‘n onvergeetlike mens, sterf nóóit nie!

 

Die enigste manier waarop ek en jy as Christene ons droefheid kan erken en verwerk, is om Jesus se voorbeeld te volg: Aanvaar die lewe kalm en moedig en buig met ‘n dankbare hart onder ons kruise in. Die bevryding lê in die wete dat die sin van die lewe anderkant Golgota en die graf gevind word. Saam met die profeet Habakuk kan ons juig: “Die Here ons God gee vir ons krag. Hy maak ons voete soos dié van ‘n ribbok. Op hoë plekke laat Hy ons veilig loop” (Hab. 3:19). Deel ‘n stukkie van God se vreugde met hulle wat gelukkig is; wees hartseer saam met hulle wat treur, deel hulle pyn – gee God se troos na hulle kant toe aan.

 

“Niks kan ons beter troos nie as die helder wete dat ons, midde-in ons ellende, deur die God van liefde vasgehou word” (Johannes Calvyn).

 

Gebed: Dankie Here dat U altyd presies weet waaroor ek hartseer is. Dankie dat U my trane afvee, my in U arms toevou wanneer ek huil. Here, maak my sensitief vir ander se hartseer, húlle pyn, húlle onsekerheid, húlle vrese, hulle verslaenheid en wanhoop. Leer my om U troos na hulle toe oor te gee. Dankie ook dat ek ‘n stukkie van U vreugde met almal wat gelukkig is, kan deel en saam met hulle fees kan vier, dat ek die sonskyn wat U oor my laat skyn, na hulle toe kan aangee. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page