top of page

Gedagte vir Vandag

  • 1 day ago
  • 4 min read

Maandag, 20 Julie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (15)


Wees tot seën vir die andersdenkendes

 

Rom. 12:14 – “Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.” (1)

 

Vergelyk ook Matt. 5:44-45 – “Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers Sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.”

 

Elke riglyn, of kragtige voorskrif wat Paulus vir ons in verse 9 tot 16 gee, weerspieël Christus se opofferende liefde wat ons, met dade in ons gemeente en ons lewe, sigbaar kan maak. Vandag se riglyn het Jesus nie net op aarde oor gepreek nie, maar toegepas ook. Om Jesus se gesindheid in hierdie geval uit te dra, verg baie gebed want dit is vir ons as mens ontsettend moeilik om stil te bly as ander jou onregverdig of sleg behandel. In sulke tye het ons ‘n goeie porsie van God se liefde en genade nodig sodat ons nie mense begin haat wanneer ons te nagekom word nie: “... Ons word uitgeskel, en ons antwoord met seënwense; ons word vervolg, en ons verdra dit; ons word beledig, en ons bly vriendelik ...” (1 Kor. 4:12-13) .

 

Van watter vervolgers praat Paulus? Ons persoonlike-, gemeente-, politieke-, lands-, of geloofsvervolgers? Hoe is dit menslik moontlik om hierdie opdrag uit te voer, veral in ‘n land waar alle godsdienste gelyke regte het? Alle godsdienste kry deesdae bykans dieselfde blootstelling oor die media en selfs skoolleerprogramme word daarvolgens aangepas. Mense begin jou skeef aankyk as jy te sterk jou geloof uitstaan en sê jy is ‘n Christen. Dit is amper ‘n sonde om hardop te uiter dat Jesus die enigste Weg tot die Vader is, want dit het mode geword om te sê: “Jy moet akkommoderend wees.”

 

Om ons “vervolgers te seën,” gaan allereers oor wie God is. Dit is eers in die lig van Gód se liefde, spesifiek Sy liefde vir ‘n mens se vervolger of vyand, dat die opdrag begin sin maak. Liefde vir my en jou vervolger, is dan om iets van Gód se liefde en seën vir ons vervolgers wat eintlik ons vyande word, in ons optrede te wýs. Jesus kom met ‘n troefkaart wanneer Hy sê “ons moet ons vyande liefhê” – Hy leer ons eintlik hoe kinders van God optree, daarom dink en tree ons as Sy nuutgemaakte kinders, anders op teenoor ander. Ons bly standvastig as kinders van God ten spyte van fisiese of sielkundige mishandeling deur ons vyande. Ons bid selfs vir hulle dat hulle dieselfde vreugde, vrede en liefde van God sal ken en ervaar as ons.

 

Wat is ons en besit ons wat ons nie ontvang het nie? (1 Kor. 4:7). Wanneer dit oor die hart van ons geloof gaan, is daar egter geen kompromieë nie. Dieselfde geld vir die Nuwe Testament wat ook geen kompromieë ken nie. Ons geloof is dat Christus die Here is, die enigste Verlosser! Christus is ons vrede en dit beteken dat ons harte vol vrede moet wees. Hierdie vrede vind neerslag in elke faset van ons lewe. Ons gemoed en denke, ons wil, ons alles, is daarvan deurdrenk, want “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor ons harte en gedagtes die wag hou” (Fil. 4:7). Om in vrede met ons vervolgers te leef, is die kuns van Christenskap! 

 

Daarom is ons liefde vir ons vervolgers, God-gesentreerd. Ons vestig ons hoop, liefde, vrese, geluk, ons álles, op Hom. Hy is ons voortbestaan. “Ons moet daagliks streef om ter wille van ander, ‘n mens te wees omdat ons ter wille van God, ‘n mens is!” (Ds. Johan Smit). Ons kan nie, nee, ons mag nie, self-gesentreerd wees nie. Dit is om ‘n afgod van onsself te maak. God se son skyn oor “slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” 

 

God sê deur Paulus vir ons om ons “vervolgers te seën en hulle nie te vervloek nie.” Die seën wat God ons skenk, mag nie tot ons beperk bly nie. Ons weet wel nie wat ander nodig het om geseënd te kan lewe nie, maar ons almagtige Vader weet. My en jou plig is om te bid sodat Hy ons in staat kan stel om kanale te wees waardeur Sy seën na hierdie deurmekaar wêreld kan vloei. Kom ek en jy vra die Heilige Gees om ons te help om vir mense te begin bemoedig en vir hulle te bid, al hou ons nie van hulle nie.

 

“God het nie mens geword om bloot beter skepsels van die ou soort te maak nie, Hy het ‘n totaal nuwe soort mens kom skep – skepsels wat Sy kinders is en mekaar tot seën kan wees” (CS Lewis).  

 

Gebed: Ons Vader, ek aanbid U as die Bron van alle seën. Laat U liefde in my wees om my te dring tot wederliefde van andersdenkende mense. Skenk my wysheid Here om te verstaan wat U my wil leer – maak my oplettend vir U boodskap van die liefde, om lief te hê – vir almal. Help my om vir ander om te gee en ‘n seën te wees, al hou ek nie van hulle nie. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page