Gedagte vir Vandag
- 7 days ago
- 4 min read
Maandag, 6 Julie 2026
Koos Espach
Riglyne vir die Christelike lewe (9)
Liefde vir grootouers
Rom. 12:9-10 – “Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.” (9)
Van die vroegste tye af het mense geredeneer oor die voor- en nadele van jeug of ouderdom. In die sakewêreld moet die oues plek maak vir die jonges. Selfs in die diereryk word die ou leiers uitgeskop om plek te maak vir die jong opvolgers. Ja, oud word is nie kinderspeletjies of vir sissies nie. Die ouderdom bring gewoonlik ook matelose eensaamheid: reisgenote val weg langs die pad; kragte kwyn al hoe vinniger, en die moeilikste om te aanvaar is: “Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil, maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie” (Joh. 21:18).
Wat sê die Bybel oor oupas en oumas? Die antwoord is dat die Bybel nie spesifiek oor die rol van grootouers in die gesin praat nie, behalwe in Paulus se 2de Brief aan Timoteus verse 3 tot 5. Maar dit beteken nie dat hulle geen rol of plek het in die gesinslewe nie. Grootouers is belangrike instrumente in God se hand, ook in die gesin en die vorming van kinders. “Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp” (Deut. 4:9).
Hoe ouer ’n mens word, hoe meer voel en ervaar ons dat ons op die rand gestoot word. Dit is asof ons nie meer so nodig is nie. Oumense sê ook dat hulle menings al minder tel. Mense luister al minder na hulle en behandel hulle selfs soos kinders. Maar ons oues weet mos, hoe ouer meubels, antieke ware, antieke motors word, hoe hoër styg hulle waarde, gesogtheid en hulle verkoopprys. Daarom kan ons ons waardigheid behou, te midde van ouderdom en aftakeling. Fisiese gesondheid kan misluk, of die sig word swak, die groter ore benodig gehoorstukke, maar daar is geen rede om moed te verloor nie.
Hoekom? Die innerlike natuur word elke dag vernuwe. ’n Mens se waardigheid lê in jou gees en nie in jou liggaam nie. God is ook die God van ouderdom en by Hom is daar oorvloedige vergoeding vir die skade wat die jare aan ons lewe doen. Waar liggaamskragte afneem, skenk God geestelike krag. Krag van buite word vervang deur krag van binne. Hoor wat sê God: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur My Gees” (Sag. 4:6).
Oupas en oumas speel ’n groot rol in hulle kleinkinders se lewe. Ons grootouers het kleinkinders nodig om die veranderde wêreld vir ons lewendig te hou. As grootouers het ons ontdek dat ons kleinkinders waarde aan ons lewe toevoeg in ‘n stadium wanneer ons die indruk gekry het dat ons nie meer nodig is nie. Hulle kennis van nuwe tegnologie is van onskatbare waarde sodat ons kan “bybly.” Dis mos waarvoor ons lewe: om by te bly! Om lief te hê. Om liefde te gee. Om vir mekaar te leer wat liefde is. Alhoewel ons oupas se liggame verby die dae van aktiewe deelname aan enigiets wat nie te veel beweging vereis nie is, besit ons nog die kennis. Oumas is buitengewoon. Die manier wat hulle bid, omgee, druk, praat, koer en koester, is net merkwaardig! Kleinkinders laat ons lawwe dinge doen, hulle laat jou baie meer oefening kry as waaraan jy gewoond is. Hulle hou ons jonk, gesond en byderwets! Hulle is opvreetgoed!
Kleinkinders het oupas en oumas ook nodig. Ons is lief vir ons kleinkinders presies net soos hulle is. ‘n Anonieme skrywer sê: “Grootouers se ekstra liefde word in ‘n kind se psigologiese bankrekening gespaar waar dit rente trek totdat dit op ‘n emosionele dag goed te pas kom,” Grootouers is baie spesiale bondgenote vir hulle kleinkinders. Hulle is gewoonlik kop in een mus – hulle is nie baie gediend met al die reëls en regulasies van sommige ouers nie. By oupa en ouma se huis word alles gedoen volgens oupa en ouma se reëls – oupa en ouma verdra mos veel meer as die ouers!
Om oud te wees, kan ‘n hoogtepunt in ons lewe wees. Solank ons nog lewe, het ons lewe sin en betekenis vir God, én vir die mense om ons. Die wesenlike van die ouderdom lê nie in die feit dat ons ‘n paar dekades agter die rug het nie, die wesenlike is dankbaarheid. Dankbaar dat daar kinders en kleinkinders is wat vir ons lief is. En julle as jongmense moet baie geduld met ons ou mense handhaaf. Wees hulpvaardig, gee drukkies en vul ons lewe met julle teenwoordigheid. Kyk altyd uit of julle kan help met iets, gee vir ons voorkeur. Bowenal, bid vir ons! Onthou jy gaan ook oud word!
“Wanneer gravitasie alles na onder laat neig en jy gereed voel vir die skrootwerf, kom jou kinders en kleinkinders en gee vir jou verlore jeug in ‘n versierde houer terug” (Pam Brown).
Gebed: Here, skenk my die gawe om met vreugde oud te word sodat ek vir my kinders en my kleinkinders ‘n lewende portret van U liefde en genade sal wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Comments