top of page

Gedagte vir Vandag

  • 1 day ago
  • 4 min read

Maandag, 27 Julie 2026

Koos Espach


Riglyne vir die Christelike lewe (18)


Nederigheid meet nie ander nie

 

Rom. 12:16 – “Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie.”

 

Vergelyk ook 1 Pet. 5:5b – “Almal moet teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”

 

Nederigheid is só sentraal om te onthou dat oral waar verwaandheid, selfverheerliking en selfgingenomenheid op die toneel verskyn, die harmonie in die gemeente en tussen ander vernietig word. Nederigheid is aksie, dit is liefde wat ‘n kruis dra soos Jesus, want ons maak ‘n geloofsontdekking van wie Jesus Christus regtig is in verhouding met ons. My en jou opinies oor onsself verander wanneer Jesus eerste gestel word.

 

Wie en wat ons is, kom eers tot sy reg wanneer ons van ons “hooghartige” troontjies afklim en ons verhouding met God besef. Want selfs die gesindheid van nederigheid is ook ‘n geskenk van God af, dit is deel van die vrug van die Gees, (Gal. 5:22-26). Nederigheid is die resultaat van mense wat hulle sondige natuur kruisig en hulleself aan Christus oorgee as lewende offers (Rom. 12:1), as Sy eiendom. Hoe meer ons Christus toelaat om die eerste posisie in ons lewe te beklee, hoe meer bepaal die Heilige Gees ons gedrag.

 

Stephan Joubert het gesê dat baie mense loop met klein liniaaltjies in hulle koppe rond en gebruik dit om ander te meet, en wanneer iemand anders sy eie standaard oorskry, kap hy daardie persoon se voete af sodat hy nie ‘groter’ is as “liniaal-breintjie” nie. Hy “kap sy voete af” deur onder andere, vlymskerp skinderstories te versprei waarmee “sy teenstander” aan flarde geskeur word. En dan begin ons so maklik soos die Fariseër in die gelykenis te bid: “O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie ...” (Luk. 18:11). “Dankie dat ek beter as ander is, dat die wêreld darem ‘n paar mense soos ek oor het. Dankie dat ek in die oë van ander ‘n goeie mens is.”

 

Maar dan vergeet ons dat ons almal eintlik bedelaars voor God is. Dat ons in wese ook maar bakhand voor Hom staan en van Hom intens afhanklik is. Dat dit net genade en die Heilige Gees se leiding is dat dit nog goed gaan met ons. En ons krag het om te werk omdat God dit gee. Omdat God die Een is wat sorg, vergeet ons dat ons almal sondaars is, dat niemand eintlik iets verdien nie, dat niemand eintlik goed is en beter as ‘n ander is nie; dat almal voor God gelyk is. God het nie witbroodjies nie, “Hy trek niemand voor nie” (Rom. 2:11).

 

Miskien behoort ons dieselfde vraag as Jakobus te vra: “Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder ons? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig” (Jak. 3:13). Wanneer ons in die spieël kyk en nie te gou wegdraai nie, behoort ons die vraag te vra of ons gedrag nie dalk “hooghartig of eiewys is nie. Skaar ons ons by die nederiges?”

 

Nee, gelukkig is ons nie so nie. Of is ons? Die Here se dissipels speel in ‘n ander span. Ons het nie “liniale” om ander mense mee te meet nie, ons is “eensgesind onder mekaar en nie hooghartig of eiewys nie, ons skaar ons by die nederiges.” Nederigheid maak dat ons nie klein godjies op troontjies is nie. Ons speel nie meer die hoofrol in ons lewe nie, ons het dit aan God en ander afgestaan. Ons is eerder soos ‘n klein kindjie wat by God se voete gaan sit en opkyk na Hom. Ons is nie hoogmoediges wie se posisie in die samelewing ons die reg gee om hoër geag te word as ander nie. Ons is mense wat ons sosiale status vergeet en voetewassers word. Ons nederiges vertrou God volkome en onthou: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” 

 

Nederigheid laat ons besef dat alles wat ons het en bereik het, gawes uit die hand van God is en daarom moet ek en jy in nederigheid die ander hoër ag as onsself (Fil. 2:3). Wat ons as nederiges doen, doen ons vir God. Hy is ons enigste maatstaf en daarom soek ons Sy eer alleen. Ons ontvang God se genade deur nederig te erken dat ons dit nodig het. As voetewassers lewer ons ‘n bydrae tot die uitbreiding van Sy koninkryk. Nou wonder ek, is ons nederig genoeg om voetewassers te word en ons hoofrolle af te staan?

 

“Nederigheid beteken nie dat jy minder van jouself dink nie; net dat jy minder dikwels aan jouself dink”

(Rick Warren).

 

Gebed: Here, herinner my asseblief elke dag dat U my gemaak het wat ek is. Leer my die grense van my kennis sodat ek U wysheid sal soek en my eerder sal skaar by die nederiges. Verhoed tog “dat my goud en silwer al hoe meer word, en dat ek dan so hoogmoedig word dat ek van U begin vergeet nie” (Deut. 8:13-14). Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page